Die polisie in Leeu Gamka in die Wes-Kaap ondersoek 'n saak van strafbare manslag in verband met die botsing gisteraand op die N1 naby die dorp waarin 21 mense dood is. Twee minibus-taxi's en 'n sportnutsvoertuig was in die botsing betrokke. 'n Polisiewoordvoerder, Chris Spies, sê agtien van die insittendes is op slag dood en drie het in die hospitaal beswyk. Spies sê nog minstens 18 mense is in die botsing beseer.
Die naasbestaandes van vermiste vroue is gevra om die polisie te kontak in 'n poging om die liggame van vermoorde vroue aan die Gautengse Oos-Rand te identifiseer. Vyf liggame is die afgelope twee maande in die Ekurhuleni Metro-gebied gevind. Die woordvoerder van Gauteng se departement van Gesondheid, Steve Mabona, sê die liggame van drie vroue is nog nie geïdentifiseer nie. Die vierde vrou se liggaam is aan haar familie oorhandig nadat sy vroeër vandag as die drawwer Elizabeth Moselakgomo geïdentifiseer is. 'n Vyfde liggaam isvanoggend by Olifantsfontein ontdek. Mabona sê dié liggaam is nog nie aan die departement oorhandig nie.
Die liggaam van 'n 10-jarige meisie is 'n dam in Joostenbergvlakte naby Kraaifontein in Kaapstad gevind. Sy is glo deur plaaswerkers gevind. Die polisiewoordvoerder Ndakhe Gwala sê die omstandighede rondom die meisie se dood word ondersoek. 'n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
Die sluiting van die Diamond Finsch-myn naby Lime Acres in die Noord-Kaap het sake-eienaars in die gebied 'n kwaai finansiële slag toegedien. Bates van die myn ter waarde van miljarde rand gaan verkoop word nadat 'n sakereddingsplan goedgekeur is. Die maatskappy voer aan dat toenemende internasionale druk op die natuurlike diamantbedryf tot die myn se sluiting gelei het. Kontrakteurs en werkers van die myn is nie die maand betaal nie. Sake-eienaars sê die sluiting was 'n reuse-skok en dat hulle nie daarop voorbereid was nie.
Die ATM het Vuyo Zungula aangewys as sy burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. Die party het ook bekendgemaak dat Velaphi Ndaba sy burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni is en Mncedi Ndzwanana vir Tshwane.Die ATM se sekretaris-generaal, Thandisizwe Khukhula sê die drie kandidate is leiers waarop staatgemaak kan word om goeie diens te lewer aan die gemeenskappe waarin hulle staan.
Indië het die lewering van bykomende elektrisiteit na Nepal goedgekeur na die onlangse verwoestende modderstortings en oorstromings wat ernstige skade aan die land se energie-infrastruktuur aangerig het. Sowat eenduisend-400 mense is dood en meer as vierduisend word nog vermis in Nepal en Tibet na die ramp vroeër die maand wat veroorsaak is deur 'n gletser wat inmekaar gestort het. Indië sê die krag sal vir 18 uur elke dag aan Nepal verskaf word tot die einde van die jaar.