Die polisie sê hulle sal nie toelaat dat dreigemente, intimidasie of onwettige optrede openbare veiligheid ondermyn nie. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het wetstoepassingsagentskappe geloof vir wat sy as beslissende ingrypings beskryf om reg en orde te handhaaf. Haar kommentaar volg op gewelddadige betogings in Durban en dele van Gauteng die afgelope twee dae. Altesame 25 mense is tot dusver in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem. Sedert Donderdag is 14 voertuie en twee huise aan die brand gesteek, en is verskeie winkels geplunder. Vyf mense is ook in hegtenis geneem ná die geweld wat in Gauteng uitgebreek het. Die polisiewoordvoerder Nonkululeko Phokane sê die weermag se ontplooiing is deel van breër stabiliserings-ingrypings.
Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek 'n skietery by 'n taverne in KwaMsane waarin vier mense dood is. 'n Polisiekonstabel wat nie aan diens was nie, het na bewering drie vroue doodgeskiet en 'n man gewond by 'n drankwinkel in die Nkodibe-gebied. Hy het daarna die vuurwapen op homself gerig. Die beseerde slagoffer is vir behandeling na die hospitaal geneem. Twee vuurwapens is gevind en die motief is nog onbekend.
Die polisie in Mpumalanga stel ondersoek in ná 'n gyselaarsvoorval op 'n plaas gister in Amersfoort, waarin twee mense dood en een kritiek beseer is. 'n 55-jarige man het na bewering 'n 50-jarige man doodgeskiet en 'n persoon van 53 jaar gewond nadat hy hulle as gyselaar aangehou het. Die gewonde persoon is per helikopter na 'n hospitaal geneem. Die polisie sê die skieter het homself later doodgeskiet. Sy identiteit is aan die polisie bekend.
Die DA-leier en burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê hulle sal toesien dat veiliger gemeenskappe in die Wes-Kaap geskep word om beleggingsgeleenthede te lok en werkgeleenthede te skep, sou hulle verkies word. Hy het gister duisende DA-ondersteuners toegespreek tydens die party se finale verkiesings-saamtrek in Belhar, Kaapstad. Hill-Lewis het die party se planne vir bestuur oor die volgende vyf jaar uiteengesit...
Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê hy is vol vertroue dat sy party in die Vrystaat beter sal vaar in die komende plaaslike verkiesing as in die vorige een. Ramaphosa het gepraat tydens die party se deur-tot-deur-veldtog gister in Botshabelo, in die Mangaung-metro. Ramaphosa het bygevoeg dat hul veldtog 'n volstrekte oorwinning in die komende plaaslike verkiesing sal bewerkstellig, aangesien mense steeds vir die ANC lief is.
Die dodetal van 'n hommeltuigaanval op 'n kamp van ontheemdes in Suidoos-Soedan het tot 41 gestyg. Amptenare van die Verenigde Nasies sê die meeste van die slagoffers was vroue en meisies. Die goewerneur van die Blou Nyl-staat sê die hommeltuig is van binne Ethiopië gelanseer. Soedan het Ethiopië daarvan beskuldig dat hy paramilitêre vegters van die RSF huisves. Ethiopië ontken die bewerings.