Die nasionale gesamentlike operasionele- en intelligensiestruktuur, Natjoints, sê die polisie sal 'n groot teenwoordigheid handhaaf in brandpunte in Durban en Johannesburg, waar gewelddadige betogings die afgelope dae voorgekom het. Onrus het uitgebreek tydens betogings teen ongedokumenteerde buitelanders, met minstens 14 voertuie en twee huise wat aan die brand gesteek en verskeie winkels wat geplunder is. Vyf-en-twintig mense is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem en vyf in Gauteng. Lede van die weermag is ook gister in Durban ontplooi. Die voorsitter van Natjoints, Tebello Mosikili sê hulle gaan voort om die situasie te monitor om kwesbare gemeenskappe, sake-ondernemings en residensiële eiendomme te beskerm, en weerwraakaanvalle te verhoed.
Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek 'n skietery by 'n taverne in KwaMsane waarin vier mense dood is. 'n Polisiekonstabel wat nie aan diens was nie, het na bewering drie vroue doodgeskiet en 'n man gewond by 'n drankwinkel in die Nkodibe-gebied. Hy het daarna die vuurwapen op homself gerig. Die beseerde slagoffer is vir behandeling na die hospitaal geneem. Twee vuurwapens is gevind en die motief is nog onbekend.
Die DA-leier en burgemeesterskandidaat vir Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê hulle sal toesien dat veiliger gemeenskappe in die Wes-Kaap geskep word om beleggingsgeleenthede te lok en werkgeleenthede te skep, sou hulle verkies word. Hy het gister duisende DA-ondersteuners toegespreek tydens die party se finale verkiesings-saamtrek in Belhar, Kaapstad. Hill-Lewis het die party se planne vir bestuur oor die volgende vyf jaar uiteengesit.
Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê hy is vol vertroue dat sy party in die Vrystaat beter sal vaar in die komende plaaslike verkiesing as in die vorige een. Ramaphosa het gepraat tydens die party se deur-tot-deur-veldtog gister in Botshabelo, in die Mangaung-metro. Ramaphosa het bygevoeg dat hul veldtog 'n volstrekte oorwinning in die komende plaaslike verkiesing sal bewerkstellig, aangesien mense steeds vir die ANC lief is.
Meer as tienduisend hektaar grond op die Oos-Kaapse hoogland is deur die Minister van Bosbou, Vissery en die Omgewing, David Maynier, tot die Grasveld-nasionale park verklaar. Dié grond bestaan uit agtien eiendomme tussen Nqanqarhu, voorheen Maclear, en Rhodes. Een van die doelwitte van die park is die bewaring van die grasveld-ekostelsel, wat dikwels agterweë gelaat word. Die Oos-Kaapse Drakensberg-strategiese waterbrongebied gaan ook sodoende beskerm word. Volgens Maynier behou die eienaars van die grond hulle eiendomsreg, met 'n verbintenis tot 'n bewaring- en bestuurooreenkoms vir die grond.
Die dodetal van 'n hommeltuigaanval op 'n kamp van ontheemdes in die suidooste van Soedan het tot 41 gestyg. Amptenare van die Verenigde Nasies sê die meeste van die slagoffers was vroue en meisies. Die goewerneur van die Blou Nyl-staat sê die hommeltuig is van binne Ethiopië gelanseer. Soedan het Ethiopië daarvan beskuldig dat hy paramilitêre vegters van die RSF huisves. Ethiopië ontken die bewerings.