Die ANC-president, Cyril Ramaphosa het inwoners van Johannesburg verseker dat 'n oplossing gevind is vir 'n staking deur die munisipale werkersvakbond Samwu, en dat dienslewering binnekort hervat sal word. Vullisverwydering is een van die dienste wat geraak is deur die staking in die aanloop tot vandag se plaaslike regeringsverkiesing. Ramaphosa het die media toegespreek nadat hy in Hyde Park in Johannesburg gestem het. Die Johannesburgse Metro en die munisipale werkersvakbond - Samwu - het gister 'n addendum tot hul ooreenkoms onderteken wat daarop gemik is om langdurige salarisverskille op te los.
Die Verkiesingskommissie sê kiesers wat na die sluitingstyd in afgebakende stempunte is, sal nog bygestaan word om hul stemme uit te bring. Stembusse sluit om 9-uur vanaand. Die OVK het mense aangeraai om betyds na stempunte te gaan om hul stemreg uit te oefen. Die kommissie het ook benadruk dat geen stemwerwing mag plaasvind binne 'n afgebakende stempunt nie en dat geen plakkate van partye vertoon mag word nie.
'n Verhoorafwagtende gevangene het uit die Maleboho-polisiestasie buite Senwabarwana in Limpopo ontsnap. Die polisie sê Matome Ratjomane is in September in hegtenis geneem vir aanranding met die doel om ernstig te beseer. 'n Polisiewoordvoerder, Malesela Ledwaba sê Ratjomane het te voet gevlug terwyl hy na die plaaslike hof onderweg was. Hy was steeds geboei ten tyde van die ontsnapping. Die polisie het 'n soektog van stapel gestuur.
Die Amerikaanse president, Donald Trump het aangedui dat hy die uitslae van die middeltermynverkiesing aanvaar, en het Demokrate gelukgewens met hulle oorwinning. Volgens die uitslae tot dusver bekend gaan die Demokrate beheer neem oor die Senaat sowel as die Huis van Verteenwoordigers. Trump het in 'n onderhoud met Fox-nuus toegegee dat die oorlog in Iran en die daaropvolgende styging in brandstofpryse moontlike 'n rol gespeel het, maar gesê hy is steeds verras oor die uitslae. Hy het aangedui dat hy bereid is om met die Demokrate saam te werk oor kwessies soos immigrasie, maar het ook gesê dat hy enige wetgewing waarmee hy nie saamstem nie, sal veto.