Suid-Afrikaners is besig om hul stemme uit te bring in die land se sewende plaaslike regeringsverkiesing, wat as 'n waterskeiding beskou word in munispale bestuur. Die uitbring van stemme verloop oor die algemeen vlot en geen grootskaalse probleme is aangemeld nie.
Die ANC-leier, Cyril Ramaphosa het inwoners van Johannesburg verseker dat 'n oplossing gevind is vir 'n staking deur die munisipale werkersvakbond Samwu, en dat dienslewering binnekort hervat sal word. Vullisverwydering is een van die dienste wat geraak is deur die staking in die aanloop tot vandag se plaaslike regeringsverkiesing. Ramaphosa het die media toegespreek nadat hy in Hyde Park in Johannesburg gestem het. Hy sê Suid-Afrikaners het 'n reg om dienslewering te eis, omdat hulle vir die dienste betaal. Die Johannesburgse Metro en Samwu het gister 'n addendum onderteken tot hul ooreenkoms wat daarop gemik is om langdurige salarisverskille op te los.
Die leier van ActionSA en Johannesburg se burgemeesterskandidaat, Herman Mashaba, het 'n beroep op veral swart kiesers gedoen om te gaan stem. Hy sê weens die groot getal swart kiesers sal dié bevolkingsgroep bepaal wie Johannesburg se volgende burgemeester en uiteindelik die president van die land sal word. Die leier van BOSA, Mmusi Maimane, wat in Soweto gestem het, het die Verkiesingskommissie geloof vir 'n goed georganiseerde verkiesing wat kiesers in staat om vir beter plaaslike regering te stem.
Die Verkiesingskommissie het vroeër gesê kiesers wat na die sluitingstyd in afgebakende stempunte is, sal nog bygestaan word om hul stemme uit te bring. Stembusse sluit om 9-uur vanaand. Die OVK het mense aangeraai om betyds na stempunte te gaan om hul stemreg uit te oefen. Die kommissie het ook benadruk dat geen stemwerwing mag plaasvind binne 'n afgebakende stempunt nie en dat geen plakkate van partye vertoon mag word nie.
Iran se hoofonderhandelaar in samesprekings met die VSA, Mohammad Bagher Ghalibaf sê Amerikaanse kiesers het 'n oorlog teen Iran verwerp, en dat die Amerikaanse regering nie openbare opinie moet ignoreer deur weer sy land aan te val nie. Hy het gereageer op uitslae van die Amerikaanse middeltermynverkiesing, wat toon dat Demokrate beheer oor die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers gaan oorneem. Die Amerikaanse president, Donald Trump het vroeër toegegee dat die oorlog in Iran 'n rol gespeel het in die Republikeine se nederlaag vanweë ontevredenheid oor die korttermyn-impak van hoë brandstofpryse. Hy hou egter vol dat Amerikaners die belangrikheid van die oorlog op die langermyn verstaan en dit steun. Daar word wyd bespiegel dat Amerika ná die verkiesing weer aanvalle op Iran kan hervat.
KRIEKET: Die Australiese snelbouler, Mitchell Starc is nou bo-aan die Internasionale Krieketraad se rangleer, nadat hy 15 paaltjies in drie toetste laat kantel het. Hy neem die plek in van die Protea-speler, Marco Jansen. Hy het die plek slegs 'n week lank beklee na sy vertoning in die tweede toets teen Australië. Die Suid-Afrikaner, Simon Harmer, wat aangewys is as Speler van die Wedstryd, het met nege plekke tot die sewende plek gevorder nadat hy tien paaltjies in die derde toets ingepalm het.