Skip to content

Nuusbulletins

8 November 2026 11:00

Met 99 persent van stemme wat getel is na die plaaslike regeringsverkiesing, is daar tans 134 rade landwyd waar geen party 'n volstrekte meerderheid behaal het nie. Onderhandelings oor koalisieregerings sal na verwagting in die komende dae verskerp word terwyl partye poog om beheer oor munisipale rade te bekom en stabiele regerings te vorm. Die groot getal onbesliste rade beklemtoon die toenemende invloed van kleiner partye en plaaslike regerings, wat in baie gevalle sal bepaal wie munisipaliteite vir die volgende vyf jaar regeer.

Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê intussen die party het nie 'n formele standpunt oor met wie daar onderhandel moet word oor koalisieregerings nie. Mbalula het beklemtoon dat die ANC nie enige party sal smeek om 'n vennootskap aan te gaan nie, en dat die party sy opsies sal oorweeg op grond van die omstandighede wat in elke individuele munisipaliteit heers. Hy sê die ANC sal dit bespreek op 'n vergadering wat volgende week gehou word. Die ANC se steun het landwyd sedert die verkiesing in 2021 met bykans 15 persentesaiepunte gedaal, tot net onder 31 persent in hierdie verkiesing. Die ANC is egter steeds die party met die meeste steun landwyd en het drieduisend-200 setels gewen.

Die EFF-leier, Julius Malema, het die vorming van koalisies met die DA en die Vryheidsfront Plus verwerp. Malema sê die party is oop vir gesprekke met ander partye, selfs al stem hulle nie ideologies saam nie.

Intussen sê die MK-party dat hy ontvanklik is vir koalisie-ooreenkomste met politieke partye wat sy ideologieë en politieke beginsels deel. Die party het ook 'n beroep gedoen op wat hy swart partye noem om saam te staan. Die MK se tweede adjunkpresident, Tony Yengeni sê sulke partye sluit in die ANC, die IVP, ActionSA, die SAKP en die EFF. Volgens Yengeni moet daardie gesprekke so gou moontlik begin.

Vier mense is doodgeskiet in 'n aanval by die Bellville-taxistaanplek in Kaapstad. 'n Man en 'n sewejarige kind het ook skietwonde opgedoen. 'n Polisiewoordvoerder, FC van Wyk sê vier gewapende mans het gisteraand skote afgevuur op die deel van die taxistaanplek waar langafstand-taxi's parkeer. Die polisie het beslag gelê op 'n vuurwapen wat met 'n taxibestuurder verbind word.

Die koalisie onder leiding van Saoedi-Arabië wat teen die Houthi-rebellegroep in Jemen veg, sê hy het vanoggend twee ballistiese missiele wat op Riyadh afgevuur is, onderskep en vernietig. Die volg nadat verskeie ontploffings in die Saoedi-Arabiese hoofstad gehoor is. Gevegte tussen die koalisie en die rebellegroep, wat deur Iran gesteun word, het weer opgevlam nadat die VSA en Israel Iran in Februarie aangeval het. Die Houthis teiken lughawens, hawens en olie-infrastruktuur in Saoedi-Arabië sedert gevegte in Julie hervat het, terwyl Saoedi-Arabië Houthi-teikens in Jemen aanval. In die jongste voorval sê Houthi-owerhede in Jemen dat 33 mense gister dood is in Saoedi-Arabiese lugaanvalle naby Sanaa. Volgens die rebellegroep sluit die slagoffers vroue en kinders in.

Rugby: Frankryk het sewe nuwe spelers opgeroep vir die span van 42 voor Vrydag se Nasieskampioenskap-kragmeting teen Suid-Afrika. Die Franse het Saterdag vir Fidji in Lyon met 54-17 geklop. Die nuwe spelers sluit in die 33-jarige vleuel Teddy Thomas, wat na vyf jaar na die nasionale span terugkeer. Die 32-jarige senter, Gael Fickou wat al 98 toetse vir Frankyk gespeel het, is ook weer ingesluit. Die haker Julien Marchand keer terug na die span ná 'n besering. Louis Carbonel vervang die losskakel, Romain Ntamack wat 'n skouerbesering in die wedstryd teen Fidji opgedoen het. Die Springbokke het gisteraand vir Italië in Turyn met 66-7 geklop.

Deel nou