President Cyril Ramaphosa het 'n beroep op politieke partye gedoen om in goeder trou saam te werk om ooreenkomste te bereik oor die verkiesing van burgemeesters en ander amspdraers, sodat munisipale rade kan begin werk vir hulle gemeenskappe. Ramaphosa reageer in sy weeklikse brief aan Suid-Afrikaners op die uitslae van verlede week se plaaslike regeringsverkiesing, wat gisteraand amptelik bekend gemaak is. Die uitslae toon dat daar minstens 137 munisipaliteite is waar geen party 'n volstrekte meerderheid behaal het nie. Ramaphosa vra partye om saam te werk om te bewys dat hulle die vertroue verdien wat kiesers in hulle geplaas het.
Nege verdagtes verskyn vanoggend in die Douglas-landdroshof in die Noord-Kaap na 'n voorval verlede week toe 100 stembriewe tydens die tel van stemme by die Bongani-gemeenskapsaal opgeskeur is. Ontevrede ondersteuners van 'n plaaslike politieke party het glo die stemlokaal bestorm na 'n geskil oor stembriewe. Die Verkiesingskommissie het intussen gelas dat die stemproses in Douglas herhaal moet word en die uitslae van die munisipaliteit tot dan teruggehou word. Die Valke sê die verdagtes sal aangekla word van die oortreding van die Kieswet, kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding en intimidasie.
City Power in Johannesburg sê tegniese spanne en ingenieurs werk om die omvang van die skade te bepaal, ná 'n brand vroeg gisteroggend by die Mayfair-substasie. Dit het duisende inwoners en sake-ondernemings in gebiede soos Mayfair, Auckland Park, Vrededorp en Brixton sonder elektrisiteit gelaat. Instellings wat geraak word sluit in die SAUK in Auckland Park en die Garden City-hospitaal in Mayfair. Volgens City Power het swaar reën oornag herstelwerk vertraag, terwyl alternatiewe kragtoevoer uitgeskakel moes word weens vrese dat dit die oorblywende netwerk kan oorlaai. 'n Woordvoerder, Isaac Mangena sê hulle verwag dat kragtoevoer geleidelik herstel sal word sodra infrastruktuur herstel is.
Wetenskaplikes waarsku dat 2026 die warmste jaar op rekord kan wees, terwyl wêreldleiers in Turkye bymekaarkom vir die begin van die Verenigde Nasies se twee week lange Cop31-klimaatsberaad. Turkye en Australië is die gesamentlike gasheerlande van vanjaar se samesprekings wat deur verteenwoordigers van bykans 200 lande bygewoon word. Hulle sê die doel is vanjaar om te verseker dat vorige beloftes nagekom word om teen 2035 300 miljard dollar se klimaathulp te verskaf aan armer lande, en om hulle te help om die impak te hanteer van buitengewone weer wat reeds deur klimaatsverandering veroorsaak word. Dit vind plaas te midde van toenemende druk op die stryd teen aardverwarming weens vrese oor energiesekerheid as gevolg van die oorlog in die Midde-Ooste, die stygende die VSA se onttrekking aan klimaatsverbintenisse.