Skip to content

Nuusbulletins

Die KwaZulu-Natalse polisie sê 'n verdagte wat gesoek is in verband met die moord op twee misdaadintelligensie-lede vroeër vanjaar in Mount Edgecombe, is dood in 'n skietery met die polisie in Inanda. Kaptein Louis Nel en sersant Mandla Khuzwayo is in April helder oordag in 'n lokval gelei. Die polisie sê 'n lid van die spesiale taakspan is tydens die operasie beseer.

Suid-Afrika het sy spreukbeurt by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering benut om sy demokrasie te verdedig en inmenging van buite te verwerp. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, was die laaste spreker tydens gisteraand se algemene debat. Hy sê Suid-Afrika is in staat om sy eie sake reg te stel.

Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê die mense in Johannesburg kan integriteit in die regering en 'n werkende stad verwag wanneer Helen Zille die burgemeester word na die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Hill-Lewis het honderde lede van die party tydens sy Werk vir Almal-veldtog in die metro toegespreek. Hy sê Zille sal nie die mense van die Goudstad teleurstel nie, as sy die geleentheid gegun word om te regeer.

Twee wooneenhede in die Letaba-ruskamp in die Krugerwildtuin het gister afgebrand. Die woordvoerder van SANparke, JP Louw sê slegs die twee eenhede is geraak, en geen beserings is aangemeld nie. Die wooneenhede is onlangs opgeknap nadat dit vroeër in oorstromings beskadig is. Louw sê dit is nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie. Hy sê personeel in die ruskamp het die brand geblus voor dit verder kon versprei. Die oorsaak van die brand word ondersoek.

SWEM: Die Olimpiese medaljewenner, Tatjana Smith, het haar terugkeer tot professionele swem gevier met 'n goue medalje in haar nuwe voorkeuritem, die 50-meter borsslag. Sy het 'n persoonlike beste tyd in die uitdunne aangeteken, en in die eindronde haar tyd verder verbeter toe sy die afstand in 29-komma-vyf-nul sekondes voltooi het. Albei tye wat sy aangeteken het was voldoende om te kwalifiseer vir die Wêreld Kortbadkampioenskappe in Desember in Bejing. Die 50-meter borsslag is nou ampelik 'n item by die Olimpiese Spele en Smith mik daarna om in 2028 by die Spele in Los Angeles aan die item deel te neem. Sy het goue en silwer Olimpiese medaljes in die 100- en 200-meter borsslag gewen.

 

Deel nou