Skip to content

Dieremaniere

Potgooi

Dieremaniere

Dieremaniere vier die diep band tussen mense en troeteldiere – van die geliefde huiskat tot die reddingshond, die nuuskierige konyn, die spraaksame papegaai tot die onverwagse toegeneentheid van 'n troeteldierbok, -vark of -donkie. In elke episode verken ons die eienaardige, hartverwarmende en soms skreeusnaakse maniere waarop diere ons lewe verryk. Dit word sangebied deur 'n passievolle diereliefhebber en omroeper, Elsje van Jaarsveld, wat persoonlike stories oor haar geesdriftige Beagle, Gabby, deel. Die program bevat 'n mengsel van gaste: bekendes, luisteraars, veeartse, dieregedragskundiges en troeteldiereienaars uit alle uithoeke van die samelewing. Saam bring hulle stories tot lewe wat roerend, insiggewend en onweerstaanbaar vermaaklik is. Of ons nou praat oor die versorging van eksotiese troeteldiere soos visse of voëls, die reis van reddingsdiere, of selfs 'n onvergeetlike ontmoeting met 'n leeumannetjie, sluit Dieremaniere alle troeteldiere in, groot en klein. Met elke episode skep ons 'n ruimte waar diereliefhebbers verbind, opgelig en geïnspireer kan voel. Jy kan elke Donderdag uitsien na 'n nuwe episode.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Episode S2/E10

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E10

Kategorie: Dieremaniere2026-04-09

Ons neem jou na die voorste linies in die stryd teen wildsmokkelary, waar slim snuffelhonde en hulle hanteerders ’n onmisbare rol speel. Elsje van Jaarsveld gesels met Lourens Leewner van die Bedreigde Natuurlewe Fonds oor hoe hierdie hoogs opgeleide honde by lughawens en grensposte werk om onwettige produkte soos renosterhoring, ietermagoskubbe, vetplante en reptiele op te spoor, voor dit die land kan verlaat. Hy verduidelik hoe korrekte intelligensie die polisie help om te weet watter vragte om te teiken, en hoe die honde opgelei word om dié items uit te snuffel. Ons kry ook ’n kykie na die unieke band tussen hond en hanteerder, en wat vir die hond voorlê ná sy aftrede.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Episode S2/E09

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E09

Kategorie: Dieremaniere2026-04-02

In hierdie aangrypende episode gesels Elsje van Jaarsveld met Adine Roode, die vrou agter HERD (Hoedspruit Elephant Rehabilitation and Development), Suid-Afrika se eerste toegewyde olifant-weeshuis. Sy neem ons na die olifantkalwers wat sy red, versorg en weer integreer in ‘n olifanttrop om hulle eie saamgestelde gesin te vorm. Hierdie kalfies is wees gelaat weens stroping en konflik tussen mens en dier. Die ouer olifantkoeie wat ook as wesies by die Olifant-weeshuis aangekom het, maak hierdie kalfies groot as hulle eie. Deur stories soos dié van die albino-olifant, Khanyisa, ontdek ons die diep verbintenis, rou en herstel wat hierdie merkwaardige diere ervaar.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Episode S2/E08

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E08

Kategorie: Dieremaniere2026-03-26

Ons leer meer van ’n stokperdjie wat vir almal beskore is – voëlkyk. Of jy nou op jou stoep koffie drink, langs ’n snelweg ry of in die natuur gaan stap, ons geveerde vriende is altyd naby. Professionele voëlkyker Faansie Peacock verduidelik hoe voëlkyk werk, wat die basiese beginsels is en hoe jy daarmee kan begin. Suidelike Afrika is ‘n uiterse ryk voëldiversiteitstreek, met verskillende habitatte en unieke endemiese spesies. Ons hoor ook hoe ’n mens by die groter voëlkykgemeenskap kan aansluit, van projekte en organisasies tot voëlklubs en sosiale media. En natuurlik: hoe jy kinders kan betrek sodat hulle ook ’n waardering vir die natuur en ons kleurvolle diereryk ontwikkel.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Episode S2/E07

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E07

Kategorie: Dieremaniere2026-03-19

’n Resiesperd se loopbaan is dikwels net ’n paar jaar, en baie van hulle tree reeds op drie- of vierjarige ouderdom uit. Tog bly daar nog hope energie, stamina en potensiaal oor vir ’n nuwe lewe. Hierdie perde ondergaan ’n intense heropleidingsproses by die Western Cape Equine Trust. Gewoontes wat vir resies nodig was, moet eers afgeleer word, soos die instink om met die grootste vaart weg te trek, of om altyd teen ander perde te kompeteer. Met geduldige opleiding word hulle geleidelik voorberei vir nuwe rolle as dresseerperde, skouperde, ontspanningsperde, of selfs stoetperde. Elsje van Jaarsveld praat met die span van die Western Cape Equine Trust, ’n organisasie wat al sedert 2005 help om ’n veilige toekoms vir afgetrede volbloed-resiesperde te verseker. Hulle neem die perde in, en met sorg en toewyding, lei hulle die perde weer op en plaas hulle uiteindelik by liefdevolle, deeglik gekeurde eienaars waar die diere kan floreer.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Episode S2/E06

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E06

Kategorie: Dieremaniere2026-03-12

Kan ’n mens werklik met diere kommunikeer? Nie net deur lyftaal en gedrag nie, maar op ’n dieper, intuïtiewe vlak? Lisel Kruger verduidelik hoe sy boodskappe vir diere oor ‘n afstand stuur, en dat hulle terug kommunikeer. Sy kan selfs met diere internasionaal gesels. Bo en behalwe kommunikasie met diere, gebruik sy ook aroma-olie om diere se welstand te ondersteun. Of jy saamstem of skepties is, ons hoor dit uit die perd se bek.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Episode S2/E05

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Episode S2/E05

Kategorie: Dieremaniere2026-03-05

In hierdie aangrypende episode neem ons jou na plekke waar sjimpansees uit die kloue van dierehandel gered word. Saam met Eugene Cussons, stigter van Chimp Eden, hoor ons van lewensgevaarlike reddingsendings, trauma en die stadige pad na herstel van hierdie diere. In samewerking met die Jane Goodall Instituut het hy hoop gebring waar daar byna niks was nie. Sy werk is wêreldwyd bekend danksy ESCAPE TO CHIMP EDEN op Animal Planet, wat die pyn én die wonder van herstel vasgevang het. Dis ’n storie van moed, opoffering en ’n besondere band met dr. Jane Goodall, wat nuwe lewe bring vir hierdie diere aan die suidpunt van Afrika.