Skip to content

Dieremaniere

Potgooi

Dieremaniere

Dieremaniere vier die diep band tussen mense en troeteldiere – van die geliefde huiskat tot die reddingshond, die nuuskierige konyn, die spraaksame papegaai tot die onverwagse toegeneentheid van 'n troeteldierbok, -vark of -donkie. In elke episode verken ons die eienaardige, hartverwarmende en soms skreeusnaakse maniere waarop diere ons lewe verryk. Dit word sangebied deur 'n passievolle diereliefhebber en omroeper, Elsje van Jaarsveld, wat persoonlike stories oor haar geesdriftige Beagle, Gabby, deel. Die program bevat 'n mengsel van gaste: bekendes, luisteraars, veeartse, dieregedragskundiges en troeteldiereienaars uit alle uithoeke van die samelewing. Saam bring hulle stories tot lewe wat roerend, insiggewend en onweerstaanbaar vermaaklik is. Of ons nou praat oor die versorging van eksotiese troeteldiere soos visse of voëls, die reis van reddingsdiere, of selfs 'n onvergeetlike ontmoeting met 'n leeumannetjie, sluit Dieremaniere alle troeteldiere in, groot en klein. Met elke episode skep ons 'n ruimte waar diereliefhebbers verbind, opgelig en geïnspireer kan voel. Jy kan elke Donderdag uitsien na 'n nuwe episode.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Toffee, getraumatiseerde kinders se redder

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Toffee, getraumatiseerde kinders se redder

Kategorie: Dieremaniere2026-10-08

S3E5: Kan ‘n hond ‘n kind help om erge trauma te verwerk? Elsje van Jaarsveld gesels met maatskaplike werker Edith Kriel van die Jelly Beanz-praktyk. Edith gebruik haar Golden Retriever, Toffee, as ‘n gelisensieerde terapiehond om kinders te help wat vreesaanjaende traumatiese gebeurtenisse beleef het. Waar grootmense dikwels wantroue by hierdie kinders ontlok, bring Toffee ‘n onmiddellike gevoel van veiligheid, kalmte en onvoorwaardelike aanvaarding. Ons hoor die inspirerende storie hoe Toffee ‘n jong kind in die hofsaal getrou ondersteun het tydens moeilike getuienis teen sy eie pa. Hierdie hartroerende episode wys die diep, genesende band tussen mens en dier.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Die belangrikste kollega op die skaapplaas

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die belangrikste kollega op die skaapplaas

Kategorie: Dieremaniere2026-10-01

S3E4: Ons ontdek die buitengewone wêreld van werkhonde en die sterk band tussen ‘n skaapboer en sy hond. Elsje van Jaarveld gesels met die ervare Swellendamse boer en skaaphond-kenner, Mark Trollip, oor die kuns van skaapherderwerk, die belangrikheid van regte genetika en temperament, en sy uitsonderlike skaaphond, Diesel, wat onlangs as nasionale skaaphondkampioen gekroon is. Ons hoor waarom ‘n getroue skaaphond skape sonder moeite kan ‘lees’ en hoe hierdie wonderlike diere belangrike vennote op die platteland word.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere- Die pyn van troeteldierverlies

RSG Bekbasaar: Dieremaniere- Die pyn van troeteldierverlies

Kategorie: Dieremaniere2026-09-24

S3E3: Wanneer ‘n troeteldier groet, verloor ons meer as net ‘n diertjie, ons verloor ‘n gesinslid en ‘n getroue kameraad. Elsje van Jaarsveld praat met René Rossouw, stigter van Petkidz, ‘n veilige hawe en ondersteuningsgemeenskap vir troeteldiereienaars wat die intense pyn van troeteldierverlies beleef. In vandag se wêreld word ons diere al hoe meer gehumaniseer en as volwaardige lede van die huisgesin beskou. René verduidelik waarom die rouproses van ‘n troeteldier so diep sny, hoe om die emosionele gewig daarvan te dra, en deel praktiese raad om jou deur die moeilikste dae te help.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Die vrou wat diere in die veld opereer

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Die vrou wat diere in die veld opereer

Kategorie: Dieremaniere2026-09-17

S3E2: In hierdie roerende episode gesels Elsje van Jaarsveld met dr. Annerie Greyling, die stigter van Wandervet. Dr. Greyling het vyf jaar gelede dié nie-winsgewende organisasie gestig nadat sy beleef het hoe diere swaar kry terwyl sy deur derdewêreldlande gereis het as ‘n student. Aanvanklik het sy met ontwurmingsmiddels in haar handsak rondgeloop en diere gehelp wat sy teëkom, maar vandag doen sy en ‘n groep vrywilligers volwaardige uitreikaksies om diere wat dit die nodigste het, te help. Hoor hoe sy gewone kerksale, skoolsale en gemeenskapsale vir een dag omskep in volwaardige dierehospitale. Dr. Annerie deel die diep dankbaarheid van die diere-eienaars wat sy ontmoet, en spreek die wanpersepsie aan dat mense wat nie hulle diere in minderbevoorregte gebiede versorg nie, nie hulle diere lief het nie. Dieremaniere word met trots moontlik gemaak deur Virseker Troeteldierversekering

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Mielies die skaaphond

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Mielies die skaaphond

Kategorie: Dieremaniere2026-09-10

S1E3: Ons ontmoet vir Mielies, ‘n skaaphond met ‘n daaglikse ‘kantoorwerk’. Mielies vergesel Paul van Deventer, uitvoerende hoof van Sol-Tech, elke dag kampus toe. Mielies is as’t ware die baas van die plaas. Kom ontdek hoe hierdie sensitiewe, brawe hond die harte van studente en personeel gesteel het, hoe hy eiehandig kampusveiligheid respekteer deur gevaarsones te vermy, en hoe sy fyn aanvoeling vir menslike emosies troos bring waar dit die nodigste is. Seisoen 3 word met trots geborg deur Virseker Troeteldierversekering.

RSG Bekbasaar: Dieremaniere – Lente Rhoode se leeftyd van omgee

RSG Bekbasaar: Dieremaniere - Lente Rhoode se leeftyd van omgee

Kategorie: Dieremaniere2026-06-18

S2E 20: In die laaste episode van Seisoen 2 reis Elsje van Jaarsveld na die Laeveld vir ’n ontmoeting wat jou hart vinniger sal laat klop. Sy gesels met die merkwaardige Lente Rhoode van die Hoedspruit Bedreigde Spesie Sentrum. Lente deel haar aangrypende lewensverhaal en haar jarelange pad met die rehabilitasie van wilde diere. Ons kry ’n intieme blik op haar unieke grootwordjare, waaronder die storie van ’n jagluiperd wat sy as kind in haar eie ouerhuis grootgemaak het. Lente sluit die reeks af met ’n besonderse, mooi boodskap oor ons diep verbintenis met die natuur. Dit is ’n viering van ’n seisoen vol wonderlike stories, van die sjimpansees in Angola tot die witkruisarende van Johannesburg.