Kom luister weer na Ilse Salzwedel se dokumentêr oor “Jeffreysbaai: Dorp van drome, en dorp van saamstaan.”
Daar is min dorpies en stede in Suid-Afrika waar dinge nog regtig voor die wind gaan. Dis slaggate, rommel, verwaarloosde infrastruktuur, power munisipale dienste, bankrot munisipaliteite… Genoeg om jou dadelik na emigrasie-moontlikhede te dryf?
Maar wat gebeur as gewone mense inspring en self iets begin doen om hul woonbuurt, dorpie of stad te verander? Dis die storie van Jeffreysbaai, waar een mens se idee uitgebrei het na ‘n inspirerende, navolgbare model wat nou ook begin uitkring na omliggende dorpe.
Jeffreysbaai is een van die die top-10 branderry-bestemmings ter wêreld, maar ‘n bankrot munisipaliteit het byna veroorsaak dat toeriste die dorp begin vermy het. Toe spring die inwoners self in… Deesdae is dit weer een van die drie gewildste kusdorpe in die land, en ‘n model vir goeie samewerking tussen inwoners en die plaaslike munisipaliteit.
Boonop is dit nie dorpenaars teen owerheid, of wit teen swart nie. Hier het almal hande gevat om dinge te laat werk in en om die dorp. En sommer as bonus ook die ‘n hele klomp maatskaplike probleme, soos armoede, werkloosheid en honger aan te spreek. Daar is ‘n unieke rommeloptel-aksie wat kinders help om alles van skryfbehoeftes tot skoolklere, kos vir die huis en selfs kos vir hulle troeteldiere te kan “aankoop” met die punte wat hulle kry vir rommel optel.
Daar is kostuine, sopkombuise, mense wat die strate vee, die dorp verfraai met blombeddings, randstene verf… Oral help mense mekaar met wat ook al gedoen moet word, en die munisipaliteit help nie net met praktiese dinge soos rommel wegry en toerusting nie, maar selfs met befondsing.
En die resultaat? ‘n Mooi dorp wat jaarliks duisende toeriste lok. Die vriendelike atmosfeer is tasbaar, die samewerking, gemeenskapstrots en harmonie is duidelik sigbaar.



















