Louis Wessels is die afgelope agt jaar bestuurder van regsdienste en administrasie by Agri Wes-Kaap. Hy gee raad aan boere oor veediefstal, predasie en biosekuriteit.
Statiene, verhoogde LDL cholesterolvlakke in jou bloed en Familiële Hipercholesterolemia
Kan statiene help om die risiko vir ‘n hartaanval op ‘n jong ouderdom te verlaag? Kan Familiële Hipercholesterolemia nou meer doeltreffend behandel word as ‘n dekade of drie gelede? Mari Hudson praat met ‘n mediese spesialis en kenner van lipied- en cholesterolmetabolisme.


Wat is die redes vir die geweld in Frankryk en ander EU-stede?
Uiters geweldadige betogings in Frankryk het daartoe gelei dat ‘n aandklokreël én ‘n verbod op groot byeenkomste vir ‘n beperkte tyd ingestel is. Terwyl politci stry of dit tweede en derde generasie immigrante is, eis besigheidseienaars antwoorde vir die honderde miljoene Euro se skade wat berokken is.
Dit is egter nie net Frankryk wat deurgeloop het onder honderde duisende wat die strate geweldadig ingevaar het nie. Ander lande soos Italië, Spanje, Griekeland, Albanië en Pole het ook deurgeloop.
Ons praat hieroor met professor Pieter Labuschagne, verbonde aan Unisa en Akademia.
Hoe veilig is jou voedsel? Etikette – Vervaldatums, bestanddele en allergene (Deel 1)
Kos is iets wat ons elke dag koop, voorberei en deel met die mense vir wie ons lief is, maar hoeveel weet ons regtig van wat tussen die winkelrak en ons etenstafel gebeur? Ons kyk in hierdie reeks hoe klein veranderinge in ons kombuisgewoontes kan help om kos veiliger te maak, minder te vermors en selfs geld te spaar. Ons praat hieroor met Annelien Pienaar, ‘n voedselwetenskapdosent, skrywer en iemand wat jare se wetenskaplike kennis omskep in praktiese raad vir die alledaagse kok. Sy sê voedselveiligheid begin nie eers wanneer jy by die huis kom nie, dit begin reeds wanneer jy jou inkopiemandjie stoot – van hoe jy produkte kies, tot die volgorde waarin jy jou inkopies doen. Klein besluite kan ’n groot verskil maak.
Episode 1: Voedselveiligheid begin by die winkel
Episode 2: Voedselveiligheid: Dis nie net vir restaurante en groot kombuise nie
Kos is iets wat ons elke dag koop, voorberei en deel met die mense vir wie ons lief is, maar hoeveel weet ons regtig van wat tussen die winkelrak en ons etenstafel gebeur? Ons kyk in hierdie reeks hoe klein veranderinge in ons kombuisgewoontes kan help om kos veiliger te maak, minder te vermors en selfs geld te spaar. Ons praat hieroor met Annelien Pienaar, ‘n voedselwetenskapdosent, skrywer en iemand wat jare se wetenskaplike kennis omskep in praktiese raad vir die alledaagse kok. In die eerste gesprek stel ons die reeks bekend, en kyk ons na hoekom voedselveiligheid nie net iets vir restaurante en groot kombuise is nie, maar iets wat in elke huis begin, by die manier waarop ons koop, bêre, voorberei en kos gebruik.
Episode 3: Voedselveiligheid: Die koue hart van die kombuis
Ons dink dikwels aan die yskas as net ‘n plek waar kos koud gehou word, maar volgens voedselveiligheidskenners is dit een van die belangrikste wapens teen siektes in jou huis. Ons praat met Annelien Pienaar, ‘n voedselveiligheidskenner, skrywer en konsultant, oor die regte manier om jou yskas te gebruik. ’n Yskas wat te warm is, verkeerd gepak is of nie gereeld skoongemaak word nie, kan veroorsaak dat jou kos vinniger bederf. Sy verduidelik waar kos in die yskas geplaas moet word, en watter eenvoudige veranderinge die kos langer kan laat hou.
Episode 4 Voedselveiligheid: Vries slim, ontdooi veilig
Die vrieskas is baie mense se geheime wapen teen kosvermorsing. Daardie ekstra porsie kos, die vleis wat jy op uitverkoping gekoop het, of die brood wat jy nie betyds gaan gebruik nie – die vrieskas gee kos ’n tweede kans. Maar daar is ook reëls. Ons gesels met Annelien Pienaar, ‘n skrywer en voedselveiligheidskonsultant, oor hoe om reg te vries, en veral hoe om veilig te ontdooi, want hoewel vries bakterieë se groei vertraag, beteken dit nie dat enige kos vir altyd veilig bly nie.
Episode 5 Voedselveiligheid: Kruisbesmetting
Een van die grootste voedselveiligheidsgevare in ’n kombuis is iets wat jy nie altyd kan sien nie. Kruisbesmetting gebeur wanneer bakterieë van een oppervlak, kossoort of hand na ’n ander beweeg. Ons praat met Annelien Pienaar, ‘n voedselveiligheidskenner, skrywer en voedselveiligheidskonsultant, oor die klein kombuisgewoontes wat groot gevolge kan hê. Van dieselfde snyplank vir rou hoender en groente, tot ’n lap wat vir alles gebruik word – soms is dit juis ons alledaagse gewoontes wat ons kos onveilig maak.
Episode 6 Voedselveiligheid: Vleisveiligheid
Vleis, hoender en vis is deel van baie Suid-Afrikaanse huise se daaglikse etes, maar dit is ook kossoorte wat ekstra versigtig hanteer moet word. Ons praat met Annelien Pienaar, ‘n voedselveiligheidskenner, skrywer en voedselveiligheidskonsultant, oor hoe om hierdie produkte veilig te koop, bêre, voorberei en gaar te maak. Die manier waarop jy vleis hanteer voordat dit op die bord beland, speel ’n groot rol in jou gesin se voedselveiligheid.
Episode 7. Voedselveiligheid: Temperature waar bakterieë floreer
Daar is ’n onsigbare wêreld rondom ons, wat ’n groot invloed op ons kos het – bakterieë. Hoewel ons dit nie kan sien nie, kan temperatuur bepaal of hulle vermeerder of onder beheer bly. Ons praat met Annelien Pienaar, ‘n voedselveiligheidskenner, skrywer en voedselveiligheidskonsultant, oor die gevaarsones waar bakterieë vinnig kan groei. Van ’n kosblik wat te lank in die son staan, tot kos wat stadig op die kombuistoonbank afkoel – temperatuur maak saak.
Episode 8: Voedselveiligheid: Hoe lank hou oorskiet werklik?
Episode 9: Hoe pak jy ‘n veilige en gesonde kosblik?
Episode 10: Voedselveiligheid: Vrugte en groente – was, bêre en gebruik dit reg
Episode 11: Voedselveiligheid: Etikette – Vervaldatums, bestanddele en allergene (Deel 1)
’n Produk se etiket vertel jou baie meer as net dit wat daarin is. Daar is datums, bestanddele, en soms waarskuwings oor allergene, maar verstaan ons werklik wat al dié inligting beteken? Ons praat met Annelien Pienaar, ‘n voedselwetenskapdosent en skrywer, oor hoe om etikette met meer selfvertroue te lees, want om ’n etiket reg te verstaan, kan jou help om veiliger keuses te maak én onnodige voedselvermorsing te voorkom.
Skakel na Annelien se webtuiste: https://annelienpienaar.co.za/rsg-week-1-voedsel-veiligheid-dit-begin-by-die-winkel/ = EPISODE 1
Angs by tieners tydens eksamentyd – hoe kan ouers help? Deel 1 & 2
Fanie Kriel, ‘n pastorale terapeut, werk vanuit sy ervaring met tieners en jongmense by skole en universiteite. Hy gesels oor angs tydens eksamentyd, hoe dit tieners beïnvloed en hoe ouers hulle kinders in hierdie uitdagende tyd die beste kan ondersteun – en wat hulle eerder nié moet doen nie.
Eben Cruywagen se laaste radiodramaverwerking bring “Stinkhout” met groot Afrikaanse sterre na RSG
RSG bied met trots die tweedelige radiodrama Stinkhout aan – ’n aangrypende verhaal oor ’n pa en seun, uitdagende verhoudings, herinneringe en die stille getuienis van ’n enorme witstinkhoutboom.
Die drama – wenner van die 2025 ATKV-Woordveertjie vir ’n dramateks – is deur die geliefde en onlangs oorlede Eben Cruywagen vir radio verwerk. Dit was sy laaste dramawerk vir RSG en word uitgesaai op 22 Oktober en 29 Oktober om 20:00.
Stinkhout bring van die mees legendariese, sowel as die mees opwindende nuwer name in Afrikaanse drama saam: Frank Opperman, Wilhelm van der Walt, Conradie van Heerden, De Klerk Oelofse en Lochner de Kock – ‘n rolverdeling wat dit as ‘n voorreg beskryf om deel te wees van die radioverwerking, veral omdat die verhoogstuk reeds groot aandag op verskeie kunstefeeste getrek het.
Skrywer Philip Rademeyer vertel dat die stuk ontstaan het toe iemand op ’n filmstel opgemerk het dat Frank Opperman en Wilhelm van der Walt “nogal soos pa en seun lyk”. Daardie toevallige opmerking het die vonk geword vir ’n storie wat diep in die pa‑seun‑verhouding delf:
In Stinkhout keer Louw terug na sy gesin se kleinhoewe ná sy broer se skielike dood. Daar word hy met sy pa, Gert, herenig. Ou wonde word oopgekrap soos hulle mekaar toets, blameer en konfronteer, terwyl die waarheid bruis binne ’n enorme witstinkhoutboom wat al dekades lank alles op dié familiegrond aanskou.
Regisseur Joanie Combrink sê die grootste uitdaging was om die verhoogstuk se toonaard getrou na radio oor te dra: “Dit was vir my baie belangrik om ’n atmosfeer in die ateljee te skep waarin die spelers veilig en ontspanne kon voel. Die radioverwerking is dubbel die lengte van ’n gewone radiodrama, en vir Frank Opperman en Wilhelm van der Walt was dit belangrik om getrou te bly aan hul vertolkings in die verhoogstuk.”
Die drama se emosionele diepte en die behoefte aan rou-eerlike spel het die produksie tot ’n besondere ervaring gemaak – een wat ook die nalatenskap van Eben Cruywagen met waardigheid eer.
Stinkhout is die laaste teks wat hy ooit vir RSG verwerk het. Sy werk het oor jare heen ’n onuitwisbare merk op Afrikaanse radiodrama gelaat. Hierdie uitsending is daarom nie net ’n drama nie; dit is ’n huldeblyk aan ’n man wie se uitsaaikennis, penvaardigheid, stem en visie die medium verryk het.
Stinkhout, Deel 1 word Donderdag 22 Oktober om 20:00 op RSG uitgesaai en Deel 2 Donderdag 29 Oktober om 20:00.
Die beste van Afrikaanse radioteater vind jy, soos altyd, op RSG.
Land en Sand: Sandra Prinsloo gesels
Sandra Prinsloo het onlangs haar tweede eredoktorsgraad ontvang van die Noordwes-Universiteit. In 2018 het die Universiteit Stellenbosch ook ‘n eredoktorsgraad aan dié Suid-Afrikaanse legende toegeken. Sandra het land en sand met Pieter Steyn gesels oor toekennings, geloof, seiljagvaart, en die liefde.

Krio-ablasie vries kankerselle dood
Het jy geweet spesifieke kankergewasse in die niere, lewer, longe en selfs skeletbene kan sonder chirurgie met krio-ablasie weggevries word. Deur ‘n naald in die gewas te druk, en die voorpunt te vries, kan die kankerselle doodgevries word. Watter pasiënte kan met dié nie-ingrypende metode behandel word? Mari Hudson praat met Dr Frikkie Buitendag, radioloog by Morton’s Radiologie, wat pas ‘n pasiënt se niergewas weggevries het.


R700 miljard: Die enorme koste van SA se onwettige ekonomie
R700 miljard in die skadu: Die enorme koste van SA se onwettige ekonomie
Dr Johannes Jordaan – ekonoom, Econometrix
Luister weer: Ou liefdes en ongemaklike herinneringe sorg vir vermaak in “Pieter se pa”
’n Voorgenome troue, en vrae oor ’n jong man se herkoms: dit is die bestanddele van Pieter se Pa, wat op Donderdag 15 Oktober om 20:00 op RSG uitgesaai word. Dié radiodrama deur Niel Steenkamp, onder regie van Thomas van Niekerk, beloof humor rakende die herinneringe wat ’n mens soms eerder veilig in die verlede sou wou hou.
Herman is baie in sy skik dat sy dogter met Pieter wil trou. Sy vrou deel egter nie sy entoesiasme nie en twyfel oor Pieter se herkoms. Wanneer sy foto’s van meisies uit Herman se jong dae te voorskyn bring, moet hy vinnig verduidelik. Volgens Herman het al daardie romantiese afsprake immers op fiasko’s uitgeloop. Maar om die verlede te verduidelik, kan maklik ’n verleentheid op sy eie word.
Steenkamp beskryf die verhaal as ’n storie oor daardie kere toe ’n mens ’n gek van jouself gemaak het, maar later daaroor kan lag wanneer jy die gebeure oorvertel. Hierdie herkenbare vertrekpunt gee die drama sy humoristiese inslag, die afstand tussen hoe ons onsself graag onthou en die stories wat opduik wanneer iemand anders die regte vrae begin vra.
Die rolverdeling sluit in: Dirk Stolz as Herman, Esther van Waltsleben as Martie, Estelle Grobler as Lisa en De Klerk Oelofse as Pieter. Mila Guy, Chloe van Rooyen en Ane Fourie vertolk onderskeidelik die meisies in Herman se verlede. Saam bring hulle die karakters en Herman se ongemaklike herinneringe na die radioluisteraar.
Vir Van Niekerk was Pieter se Pa sy tweede radiodrama as regisseur. Hy beskryf die produksie as ’n ander genre as sy eerste en wys daarop dat die groter rolverdeling nuwe uitdagings meegebring het. Sommige akteurs moes ook meer as een rol vertolk, wat besondere aandag aan die onderskeid tussen karakters vereis.
Van Niekerk het die musiek lig en opgewek gehou om by die humoristiese tema aan te sluit. Vir hom help musiek om atmosfeer en afwagting te skep en vorm dit deel van die groter geheel. Dié benadering ondersteun ’n verhaal waarin herinneringe, verduidelikings en romantiese mislukkings die ruimte vir komedie skep.
Steenkamp is afgetree en skryf ook soms kortverhale. Hy neem sedert 2002 aan RSG se Radiodramaskryfkompetisie deel en vertel dat dit vanjaar die tiende jaar is wat een van sy stories uitgesaai word. Sy skryfwerk gaan voort: hy werk reeds aan sy inskrywing vir 2027, hoewel die idees voorlopig nog vorm kry terwyl hy by die venster sit en uitkyk.
Pieter se Pa nooi luisteraars om saam te lag oor die verleenthede wat mettertyd goeie stories word. Wat gebeur wanneer ’n dogter se trouplanne ’n pa se jong dae weer onder die vergrootglas plaas? En hoe oortuigend klink sy verduidelikings wanneer die foto’s reeds op die tafel is? Die verlede laat hom moeilik wegpak.

Regisseursnota
Die hele opname en alles wat daarmee gepaardgaan was vir my ‘n voorreg en ek is RSG en almal betrokke baie dankbaar vir die geleentheid.
Die skrywer is blykbaar 80 jaar oud en wat ‘n voorbeeld is dit nie vir ons almal nie. Om ‘n radiodrama aan te pak op so ‘n goeie ouderdom!!! Om ‘n radiodrama te skryf is beslis nie maklik nie en daar gaan baie werk en sweet in so ‘n projek.
Hierdie was my tweede radiodrama waarvan ek die regie behartig het en dit was ‘n heel ander genre as my eerste drama, Misverstand.
Die rolverdeling was ook groter en sommige van die akteurs moes twee rolle vertolk, wat nogal uitdagend kan wees vir ‘n akteur. Die rolverdeling is nogal vir my belangrik om ‘n geskikte persoon vir elke rol te kry en ek was baie dankbaar toe die akteurs ingestem het om die produksie saam met my aan te pak. Dis wonderlik om met die talentvolle akteurs te werk, want elkeen bou saam aan ‘n suksesvolle produksie.
Die musiekkeuses het ek ook lig en opgewek gehou om by die humoristiese tema te pas. Musiek is net so belangrik vir ‘n drama, want dit skep atmosfeer en afwagting en dra by tot die groter prentjie.
Oor die algemeen was dit vir my ‘n heerlike, leersame en positiewe ervaring en ek hoop die luisteraars en almal betrokke geniet die drama.