Lucia Prinsloo se laaste roman kry ’n nuwe stem op RSG

RSG nooi luisteraars om vanaf 18 Augustus soggens om 10:45 die wêreld van die Kougaberge te betree met die nuwe boekvoorlesing, Solank as die aarde, deur Lucia Prinsloo. Die roman word deur Saskia Pocock voorgelees en staan onder regie van Eddie de Jager.

Die voorlesing bied aan luisteraars die geleentheid om Prinsloo se laaste roman te beleef en bring terselfdertyd hulde aan ’n skrywer wat nie die verskyning van die boek kon meemaak nie.

Prinsloo is op 6 Februarie 2024 oorlede nadat sy aan ’n ernstige niersiekte gely het. Solank as die aarde het ongeveer ’n maand ná haar dood verskyn. Dit is haar derde roman en volg op Kwaheri my geliefde en Vegters.

Lucia Prinsloo

Die verhaal speel af op die plaas Soetkloof in Opkoms, ’n werklike gebied agter Joubertina in die Kougaberge. Kleiner plase hier het oor geslagte vrugte gelewer totdat droogte en veranderende omstandighede die voortbestaan van die gemeenskap bedreig het. Die gebied vorm vandag deel van ’n natuurbewaringsgebied. Teen hierdie herkenbare agtergrond ontvou die fiktiewe verhaal van die Du Preez-gesin.

Die roman begin by die begrafnis van De Viljee. Sy broer, Cornel, was by hom toe ’n noodlottige jagongeluk plaasgevind het. Die onsekerheid oor Cornel se aandeel in sy broer se dood plaas die gesin onder geweldige druk. Cornel se tweelingsuster, Ragel, moet terselfdertyd haar eie weg deur die verlies vind. Die voortbestaan van Soetkloof raak al moeiliker, terwyl ’n bewaringsinisiatief die sukkelende plase wil opkoop.

Die verhaal vra wat dit beteken om aan grond te behoort wanneer daardie grond nie meer ’n lewe kan onderhou nie. Dit ondersoek die uitwerking van verlies op ’n gesin, en kyk ook na die mens se verantwoordelikheid teenoor die natuur. Tog bly daar deurgaans ’n sterk bewussyn van voortgang. Die titel verwys na Genesis 8 vers 22 en herinner daaraan dat die ritme van die aarde groter is as ’n enkele menselewe.

In haar resensie op LitNet beskryf Heilna du Plooy die boek as ’n intense en weldeurdagte roman wat veel meer as ’n ligte verhaal bied. Volgens haar word ’n werklike stuk geskiedenis deur die ervarings van die karakters verpersoonlik. Die roman laat die leser nadink oor wat die gebeure vir die mense van Opkoms beteken. Hierdie dieper betekenis maak die boek besonder geskik vir ’n radiovertolking waarin elke woord gehoor en beleef kan word.

Lucia se suster, Elsa Winckler, beskryf haar as ’n vrye gees. Sy was volgens Winckler ’n dromer wat ook die moed gehad het om haar drome uit te leef. Haar lewe was vol stories wat sy uit haar eie leefwêreld geput en neergeskryf het.

Lucia Prinsloo en Elsa Winckler

Lucia het saam met haar man, Dappie, in Jeffreysbaai gewoon. Sy was die ma van vier volwasse kinders en die ouma van ses kleinkinders. Winckler onthou veral haar suster se ligte benadering tot die lewe. Haar kenmerkende lag en haar humorsin het mense om haar geraak.

Die natuur was ‘n belangrike deel van Lucia se lewe. Sy het ’n besondere liefde vir die berge en die wye ruimtes van die woestyn gehad. Sy het saam met haar man en kinders gestap en gekamp. Hulle het ook van die hoogste pieke van die Drakensberge aangedurf.

Die eerste saadjie vir Solank as die aarde is geplant toe Lucia saam met haar suster Friena, van Eden tot by Addo gestap het. Die roete was vierhonderd kilometer lank en het oor sewe bergreekse gestrek. Hulle het dit binne drie weke voltooi. Lucia se kennis van die Kougastreek en haar belangstelling in natuurbewaring vloei gevolglik op ’n natuurlike manier deur die roman.

Die boek is opgedra aan Lucia se broer, wat ’n nier aan haar geskenk het.

Winckler skryf dat die verhaal uit Lucia se eie ervaring en belewenis ontstaan het. Die roman weerspieël daarom nie net haar verbeelding nie. Dit dra ook iets van haar persoonlike reis en haar nadenke oor voortbestaan.

Vir De Jager was dit van die begin af belangrik dat die voorlesing soos beelde voor die luisteraar se geestesoog moes afspeel. “Lucia Prinsloo het ’n storie geskryf wat met die aanhoor van elke woord soos ’n film in jou gedagtes afspeel,” sê hy.

Die keuse van die regte voorleser was daarom van groot belang. Pocock moes die verhaal van Ragel en Cornel vertel, maar ook die ander mense wat hul pad kruis geloofwaardig vertolk. Volgens De Jager het sy reeds met die eerste sin daarin geslaag om Opkoms se wêreld lewe te gee. Haar deeglike voorbereiding en aanvoeling vir karakteronderskeid laat elke karakter tot sy reg kom. “Opkoms is ’n stukkie aarde wat ’n stem verdien,” sê De Jager.

Solank as die aarde beloof ’n intieme oggendluisterervaring waarin Lucia Prinsloo se laaste roman met respek voortleef. Skakel soggens om 10:45 in op RSG en hoor hoe die mense van Soetkloof deur Saskia Pocock se stem gestalte kry.

Luister weer: Hoekom is mediese fondse so duur?

In die program vanaand net na agtuur, ondersoek Marí Hudson veral twee aspekte betreffende mediese fondse:
1. Hoekom is dit so duur en styg die premiese vinniger as inflasiekoers? Hoe werk mediese fondse?
2. Kan duur mediese fondse en private gesondheidsorg voortstu op dié pad van stygende koste? Hoe het ons in so situasie beland, en wat is die oplossing? Kan ons sonder mediese fondse?

Luister hier na die program.


Enkele feite staan soos ‘n paal bo water:
Die hoë koste van mediese fondse en private gesondheidsorg is ‘n groot probleem
Minder jongmense sluit by mediese fondse aan, en baie kan dit nie bekostig nie.

9.1 miljoen Suid-Afrikaners kry private sorg danksy mediese fondse.
Mediese fondse mag nie wins maak nie, maar die administratiewe segment mag wel. 90% van jou premie se geld word bestee op gesondheidsorg vir die lede. 10% word bestee aan die administrasie van mediese fondse.

Sonder mediese fondse is daar geen private sektor nie.
Transformasie van mediese fondse om dit meer bekostigbaar te maak, word al vir 30 jaar geblok.

Dr Marius Wasserfall, president van die Faculty of Consulting Physicians of South Africa, verduidelik hoe mediese fondse werk en prof Alex van den Heever, gesondheidsekonoom verbonde aan Wits se bestuurskool, daag die stelsel uit en steek ‘n vinger in die oog van die politici met verskuilde agendas.


Luister Donderdagaand na Billy Forest en Barbara Ray op “Hoor, hoor”

Die komponis en trekklavierspeler Nico Carstens, bekend om die internasionale treffer Zambezi, sou vanjaar ‘n 100 jaar oud wees. Dis ook 10 jaar sedert sy afsterwe op 1 November 2016. Carstens is een van die kunstenaars op wie die kollig sal val in RSG se splinternuwe dokumentêre musiekreeks, Hoor, hoor.

Die episodes word elke Donderdagaand om 20:30 uitgesaai, maar weens die musiekregte is daar géén potgooie beskikbaar en moet luisteraars weekliks inskakel vir hierdie reis deur van Afrikaanse se voorste musiekmakers.

13 Augustus
Die twee countrymusiek-legendes Billy Forest en Barbara Ray het elkeen ‘n gerf prag-treffers opgeneem en Jacques Arendt sal op Donderdag 13 Augusts hul musiek in ‘n spesiale dokkie-program die praatwerk laat doen.

20 Augustus
Op Donderdag 20 Augustus gaan Carla Mackenzie deur die treffers van Brasse Vannie Kaap (BVK) werk en na die draadloos bring. Dié hiphop-groep het ook in die buiteland opslae gemaak en by internasionale musiekfeeste opgetree.

27 Augustus
Die Vastrap-aanbieder Willem Viljoen sal op Donderdag 27 Augustus die komponis van musiekstukke soos die Klokkiewals, Nico Carstens, in ‘n half uur lange dokkie-program huldig.

4 September
‘n Week later is dit Sue Pyler-Slabbert se beurt met die treffers en DJ-mengsels van die bekroonde musikant, liedjieskrywer en radio-omroeper DJ Jazzy D, bekend om liedjies soos Lady Soul.

DJ Jazzy D

10 September
Kobus Burger is op Donderdag 10 September terug met ‘n program oor die musiek en lewe van die aktrise, kabaretsangeres en liedjieskrywer Amanda Strydom. “Miss Mandy”, soos sy ook bekend geword het, vier ook vanjaar haar 70ste verjaardag.

Amanda Strydom

17 September
Die Hoor, hoor-reeks word op Donderdag 17 September afgesluit met Haidee Muller-Isaacs wat luister na die aktrise, kabaretsangeres en sakevrou Natalia da Rocha se musieknalatenskap. Sy het reeds in 1984 opslae gemaak toe sy die temalied van Jans Rautenbach se ikoniese fliek, Broer Matie, gesing het.

Natalie de Rocha

Reeds uitgesaai

2 Julie
Hierdie reeks debuteer op Donderdag 2 Julie wanneer dit om 20:30 begin met ‘n program oor die musiek en lewe van Carike Keuzenkamp met Ettienne Ludick as die samesteller van dié episode.

Carika Keuzenkamp

9 Julie
Op 9 Julie laat val Veronique van Heyningen-Pieterse die soeklig op die skeppings en werk van Les Javan, wat deesdae ook as klankbaankomponis uitblink.

In episode twee van – Hoor Hoor! – RSG se nuwe musiekreeks leer ons LES JAVAN – ’n kunstenaar van absolute, onwrikbare eerlikheid – beter ken. Ons stap ’n pad saam met hom deur die donkerste strate van die hart, om te hoor hoe rou pyn omskep word in monumente van troos en uiteindelik hoop.

Les Javan

16 Julie
Willem Pelser kyk na die musiek en loopbaan van Bles Bridges.

Bles Bridges was een van Suid-Afrika se mees kommersieel suksesvolle en geliefde tweetalige pop- en minnesangers. Met sy kragtige stem, kenmerkende verhoogpakke en die tradisie om rose aan vroue in die gehoor uit te deel, het hy ‘n onuitwisbare merk op die plaaslike musiekbedryf gelaat.

Gebore as Lawrence John Gabriel Bridges – op 22 Julie 1946 op Viljoenskroon in die Noord-Vrystaat – het sy oupa hom van kleins af “Bles” genoem weens sy dun hare. Die naam het later sy amptelike verhoognaam geword; welige bos hare en al! Bles het aan die Hoërskool Vereeniging gematrikuleer en daarna ‘n diploma as gereedskapmaker voltooi.

Sy solo-deurbraak kom in 1982 met die album Onbekende Weermagman. Sy opvolgalbum, Bles (1984), behaal binne ‘n maand goue status en het die ikoniese treffer “Maggie” ingesluit. Van sy bekendste liedjies sluit in “Ruiter van die Windjie”, “Op die vlerk van ‘n spierwit duif”, en “I Am the Eagle, You’re the Wind”.

In November 1987 word hy die eerste en enigste kunstenaar wat die massiewe Sun City Superbowl vyf keer in een naweek uitverkoop het. Hy het selfs groter gehore as Frank Sinatra gelok.

Bles Bridges is op 24 Maart 2000 in die ouderdom van 53 in ‘n tragiese motorongeluk oorlede. Hy was op pad terug na ‘n optrede toe hy beheer oor sy bakkie naby Bloemhof verloor het. Meer as 15 000 roubeklaers het sy begrafnis bygewoon om hul laaste eer aan hierdie legendariese sanger te bewys.

Teen die tyd van sy afsterwe het hy reeds meer as 2,6 miljoen albums verkoop, ‘n getal wat later tot oor die 3 miljoen gestyg het.

Bles het sy vrou, Leonie (wat baie van sy liedjies geskryf het), ‘n dogter, Sunette en seun, Victor agter gelaat.

Bles Bridges

23 Julie
Fritz Klaaste gaan op Donderdag 23 Julie deur Jennifer Jones se musiekskatkis gaan sif.

Jennifer Jones se loopbaan strek oor meer as 30 jaar in Suid Afrika asook internationaal. Sy was vir ‘n Grammy Toekenning genomineer vir haar liedjie, Mandela, Father of the Nation en het ‘n Kora-, NTVA Stone- en Sedibeng Burgemeesters toekennings ontvang.

In 1997 was sy die eerste Suid Afrikaanse kunstenaar wat deur die internasionale platemaatskappy, Sony Music, gekontrakteer was toe hulle hul deure in RSA geopen het. Haar snit, “I Don’t Mind” wat deur die platemaatskappy vrygestel is, het met Tony Braxton se Unbreak My Heart” gekompeteer vir die topposisie in die SA Top 40.

Sy was die openings- en sluitingskunstenaar vir die 1995 Rugby Wereld Beker waar sy die snit, “Where the world Began” uitgevoer het. Jennifer was ook die openingskunstenaar tydens Michael Jackson se toer in Suid-Afrika, en het die verhoog gedeel met talle internasionale kunstenaars soos Dionne Warwick, Tina Turner, M People, Dr Alban, Hugh Masakela en ander.

Jennifer is hoogs ervare as ‘n musiektalentbeoordeelaar en was betrokke in verskeie nasionale talentkompitisies. Sy was betrokke by produksies soos Skouspel, Kaapse Jol, Skouspel Plus en is ook deel van die span van die welbekende jaarlikse blyspel Moments Spectacular wat in Bloemfontein plaasvind in samewerking met die alombekende vervaardiger Willie Venter.

Sy het ook vir Staatspresidente, Nelson Mandela en Thabo Mbeki opgetree tydens hul inhuldigingsgeleenthede, asook vir Mandela by sewe van sy verjaardae tydens sy ampstermyn en daarna.

Fritz Klaaste stel vir Jennifer voor in Hoor Hoor, op Donderdag 23 Julie, om 20:30.

30 Jennifer Jones

30 Julie
Die liedjieskrywer en klavierspeler Coenie de Villiers, skepper van die immergroen Karoonag, sal in Oktober vanjaar sy sewentigste verjaardag vier.

Op Donderdagaand 30 Julie om 20:30 reis Kobus Burger saam met Coenie de Villiers, wat in Bloemfontein gebore is, deur die Karoo en Namakwaland in die jongste episode van HOOR HOOR.

Coenie vier vanjaar in Oktober sy sewentigste verjaardag. Die sangeres-liedjieskrywer Amanda Strydom, die aktrise Frieda van den Heever en die bekroonde musikant Mauritz Lotz vertel meer van Coenie die mens, sakeman, woordsmid én musikant. Tussendeur word rare musieksnitte gehore soos ‘n opname van “Sien jou weer” saam met die a cappella-groep JUBILEE 5.

Geen potgooi nie, so skakel gerus in vir hierdie program in die voetspore van die onmiskenbare Coenie.

Coenie de Villers

6 Augustus
Fran-Rico Lucas gaan ‘n week later die loopbaan van Dollar Brand oftewel Abdullah Ibrahim, wat as pianis die tydlose jazzlied Mannenberg gekomponeer het, op RSG voorop stel.  Ibrahim is onlangs op 91-jarige ouderdom oorlede.

Abdullah Ibrahim is veel meer as een van Suid-Afrika se grootste jazzmusikante hy is ‘n musikale storieverteller wie se klavier die klanke van Distrik Ses, ballingskap, geloof en tuiskoms vasvang.

In hierdie episode van Hoor Hoor volg ons sy merkwaardige reis deur die musiek wat sy lewe en loopbaan gevorm het. Ons hoor bekende werke, seldsame opnames en ontdek die belangrike rol wat kunstenaars soos Sathima Bea Benjamin in sy internasionale deurbraak gespeel het. Skakel in vir ‘n unieke luisterervaring waar die musiek self die verhaal van ‘n legende vertel.

Abdullah Ibrahim

Matriekhersiening begin op 4 Augustus

Welkom by RSG se Matriekhersieningsreeks, in samewerking met die Skoleondersteuningsentrum. Hier vind jy al die potgooie van ons lesaanbiedings sodat jy enige tyd weer daarna kan luister.

Raadpleeg die uitsaairooster om te sien wanneer jou vak aan die beurt is en skakel in vir praktiese hersiening en eksamenwenke. Vir nóg meer ondersteuning, besoek gerus https://www.wolkskool.co.za/ waar jy toegang kry tot uitgebreide hulpbronne vir al jou matriekvakke.

DatumVakPotgooi
Dinsdag 4 AugustusFisikahttps://www.rsg.co.za/rsg-fm/potgooisnitte/kompas-hersiening-fisika/
Dinsdag 11 AugustusChemiehttps://www.rsg.co.za/rsg-fm/potgooisnitte/kompas-hersiening-chemie/
Donderdag 18 AugustusAfrikaans vraestel 1 en 3
Dinsdag 25 AugustusWiskunde vraestel 1
Dinsdag 1 SeptemberAfrikaans vraestel 2
Dinsdag 8 SeptemberRekeningkunde
Dinsdag 15 SeptemberWiskundige gelletterdheid
Dinsdag 22 SeptemberWiskunde vraestel 2
Dinsdag 29 SeptemberEngels vraestel 1 en 2
Dinsdag 6 OktoberBesigheidstudies

Die eksamen begin op 13 Oktober.

RSG en Virseker se Kultuurkaravaan op soek na Afrikaans se kosbaarste skatte

Johannesburg, 27 Julie, 2026 – RSG, Virseker en die ATKV gaan dié lente die land ekstra kleur gee wanneer die heel eerste RSG en Virseker Kultuurkaravaan Suid-Afrika gaan deurkruis op soek na die mense, stories, kos, kultuur en skeppendheid wat harte warmer laat klop.

Dié veldtog wat in September afskop, is ‘n opwindende viering van Afrikaans, sy mense en die uniekheid wat ons hartsplekke so spesiaal maak. Dit is ’n landswye reis met RSG se karavaan, omroepers en borge wat die kleurryke tapyt gaan betree wat ons kultuur so bekoorlik en ons Suid-Afrikaanse dorpe en sy kultuurdraers so sonderling maak.

Miskien is dit die padstal waar niemand kan verbyry sonder om iets te koop nie, die tannie wat almal se verjaarsdae onthou, die kerkkoor wat die mooiste melodieë sing, die ou met ‘n ongewone talent, die groep wat dans dat die stof so staan of selfs die bekende wat hul wortels in die dorp het.

Wys vir ons die kultuurdraers, smake en talente wat jou dorp, gemeenskap, voorstad of selfs woonbuurt uniek maak en die RSG en Virseker Kultuurkaravaan kan dalk in jou dorp kom parkeer en dit saam met jou verken en ervaar.

Dié veldtog is op Maandag 27 Julie tydens ‘n regsteekse uitsending op die Seepunt-promenade met die aanbieders Renske Jacobs, Gustav Greyling en Martelize Brink bekend gestel.

Luisteraars wat hul dorpe, buurte, gemeenskappe of voorstede benoem, staan die kans om ‘n midweekwegbreek by enige ATKV‑oord te wen. Elke gekose dorp ontvang ‘n RSG-kuier met ’n regstreekse Op en Wakker‑uitsending saam met Renske Jacobs, Gustav Greyling en Blaine Jones. Sowel as prysaktiwiteite saam met Virseker, ’n ATKV Boektrommel ter waarde van R8 000 vir ’n plaaslike skool en ‘n allemintige R300 000 se RSG‑lugtyd om plaaslike toerisme te bevorder.

As deel van hierdie landswye reis is LekkeSlaap die trotse akkommodasieborg wat sal verseker dat die RSG-span regoor die land gerieflik en tuis voel terwyl hulle die land se mooiste kultuurskatte en dorpe verken.

Verder is daar Kiek die Karavaan waar luisteraars foto’s kan neem wanneer hulle die karavaan op die pad bespeur om kontantpryse van Virseker te wen.

‘n Kultuurkapsule reis ook saam met die span en word by elke dorp aangevul met iets wat die kultuur of identiteit van die gemeenskap verteenwoordig. Die kapsule word by die finale uitsending oopgemaak en verken as ‘n terugblik op Afrikaans, sy stories sy dorpe en sy mense.

Inskrywings is eenvoudig: luisteraars besoek kultuurkaravaan.co.za en vertel vir RSG wie die koshelde, skeppendes, sportsterre, omgee‑engele, skoolhelde en verborge skatte van hul dorp is. Hulle stel ook ’n voorgestelde dagroete saam vir die RSG‑span en motiveer hoekom hul dorp of blyplek die hart van Afrikaans verteenwoordig.

Inskrywings sluit op Vrydag 14 Augustus 2026 om 17:00 en die 2026 Kultuurkaravaan skop amptelik in September af.

Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, sê, “Die Kultuurkaravaan is Afrikaans se kleurrykste, mooiste en lekkerste padvat. Dis ’n viering van wie ons is. Afrikaans is nie net ’n taal nie, maar ’n lewende kultuur wat in elke dorp, straat en gemeenskap wortel skiet, groei en lééf. Ons wil die gesigte en name agter hierdie kultuur ontmoet, by hulle kuier, saam met hulle ontdek en die taal en menswees wat ons saambind saam met hulle vier.”

“Virseker is trots om deel te wees van ’n veldtog wat die mense, stories en tradisies vier wat Afrikaans laat leef. Ons gemeenskappe se kosbaarste skatte is juis dié dinge wat nie altyd in geld gemeet kan word nie – hul karakter, omgee, talent en trots. Deur die Kultuurkaravaan wil ons help om hierdie besonderse stories raak te sien, te beskerm en met die res van Suid-Afrika te deel,” voeg Morné van Emmenes, Senior Bestuurder by Virseker, by.

“Die ATKV is ’n organisasie vir en deur mense. Ons ondersteun graag hierdie RSG-inisiatief omdat die betrokkenheid van ATKV-taklede landwyd ons wys hoe verskilmakers hul gemeenskappe laat groei, Afrikaans laat leef, en waardes van omgee en diens elke dag sigbaar maak,” sê Gerrie Lemmer, ATKV se uitvoerende hoof: Kultuur.

“By LekkeSlaap draai alles om die ontdekking van Suid-Afrika se uniekste hoekies en die hartlikheid van ons mense. Elkeen wat plaaslik reis en bespreek, ploeg direk terug in daardie gemeenskap, van die dorpskoffiewinkel tot die plaaslike vulstasie. Die RSG en Virseker Kultuurkaravaan vier presies hierdie eie-is-goud-geesdrif, en ons kan nie wag om die RSG-span langs die pad tuis te bring nie,” sê Gerriline Fouché, Hoof van Bemarking by LekkeSlaap.

Die geliefde RSG Bakgat-beskuitkompetisie neem ’n welverdiende blaaskans, terwyl die Kultuurkaravaan die kollig steel. Bakgat het oor die jare ’n merkwaardige nalatenskap opgebou en was die geboorteplek vir verskeie entrepreneurs, waaronder vorige wenners, Marthlé Smith en Magda Janse van Vuuren, wat vandag elk hul eie suksesvolle sake-ondernemings, KRAAK! en Magda Beskuit, besit. Hul besighede is ‘n konkrete bewys van hoe Bakgat talent ontgin, kreatiwiteit aanwakker en kleinskaalse bakkers kan help om GROOT loopbane te bou. Bakgat sal wel op lug terugkeer – groter, beter en liplek-lekkerder as ooit.

Laai die nuwe RSG‑app af, volg die stasie op sosiale media, of besoek die webblad vir meer.

MEER OOR RSG:

RSG is Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie en deel van die SABC. Die stasie bedien meer as ’n miljoen luisteraars daagliks met nuus, aktualiteit, kultuur, musiek, vermaak en bekroonde radiodramas. RSG is ’n tuiste vir Afrikaanse stories, klanke en gemeenskappe, en verbind luisteraars landwyd deur inhoud wat geloofwaardig, inspirerend en relevant is. Met ’n sterk digitale teenwoordigheid, potgooie, buiteluguitsendings en ’n diverse programaanbod, bly RSG ’n kernpilaar van die Afrikaanse medialandskap.

Europa brand: Is dit die nuwe klimaatwerklikheid?

Europa brand. Nie net woude nie, maar ook rekords, infrastruktuur en gemeenskappe. Honderde duisende mense moes reeds uit hulle huise vlug. Die vlamme verswelg wynlande, bedreig militêre terreine en is só intens dat dit selfs hulle eie donderstorms begin vorm. Is dit net ’n uitsonderlike natuurramp, of is dit die nuwe normaal vir Europa?

Ons praat met Francois Engelbrecht, ’n professor in klimatologie en direkteur van die Global Change Institute by Wits.

Luister weer: Dokumentêr oor langafstand-vragmotorbestuurders

Die Langpad neem luisteraars diep in die wêreld van Suid-Afrika se langafstand-vragmotorbestuurders – die mense wat dag en nag die land aan die beweeg hou. Hoor die eerlike stories van drie langafstand drywers wat gesamentlik byna ‘n eeu se ervaring op paaie regoor Suid-Afrika en die wêreld het.

Luister hier na die program:

Ontdek die werklikheid agter die stuurwiel: die opoffering om weke lank van geliefdes af weg te wees, die gevare wat hulle daagliks trotseer, die eensaamheid van die oop pad en die unieke broederskap wat onder trokke en hul bestuurdrrs bestaan. Dis ‘n blik op ‘n beroep wat baie mense sien, maar min werklik verstaan.

Die Langpad, deur Ettienne Ludick, ondersoek ook hoe die lewe van vragmotorbestuurders verbeter kan word en waarom hulle ‘n onmisbare rol in ons ekonomie en samelewing speel. Klim saam.in die kajuit wat baie hul tuiste noem en luister Donderdagaand om 20:00 op RSG na hierdie aangrypende radiodokumentêr oor die mense agter die stuur.

Waarskuwing vir canolaboere oor mistige toestande

Rooibos is op pad na die buitenste ruim! Marthane Swart van die SA Rooibosraad verduidelik waarom dit van waarde op aarde is.

Lizette Nowers, ‘n wetenskaplike navorser by die Departement Landbou in die Wes-Kaap, en navoringstegnikus Piet Lombard deel ‘n dringende boodskap aan canolaboere, wat verband hou met ongewone mistige toestande wat op die oomblik voorkom.

Is die kernooreenkoms tussen Saoedi & VSA nét vreedsaam?

Die oliereus in die Midde-Ooste, Saoedi-Arabië, en die wêreld se grootste supermoondheid, Amerika, het volgens berigte ‘n geskiedkundige ooreenkoms bereik oor kernenergie. Kort ná die ooreenkoms bekend geword het, het die Amerikaanse president, Donald Trump, egter op sosiale media gesê die ooreenkoms is onderhewig daaraan dat Saoedi-Arabië die Abraham-akkoord onderteken, en daardeur Israel as ‘n staat erken. Die ooreenkoms is glo net om uraan te verryk vir kernkrag, maar vrese bestaan dat dit later mag ontwikkel tot wapengraad uraanverryking.

Ons praat hieroor met professor Jo-Ansie van Wyk, ‘n spesialis oor kernenergie-politiek, verbonde Unisa.