Twa, die Tydloper, deur Anoescka von Meck, is die verhaal van Twalie Albrecht, wat saam met haar pa Albert, Ma-Niggie en drie broers op ‘n afgeleë plaas in die verre Noordweste woon. Hulle is ’n geharde, eenkant gesin vol geheime. Twalie se pa verwerp haar en haar ma maak haar gedurig stil.
Dan red die Namavrou Letgoed haar uit ’n sandstorm en leer haar die geheime van Die Poort, wat tydens die heuningmaan ’n magiese plek word. Hier maak tyd soms ’n deur agtertoe oop … Letgoed sê vir Twalie “… ons is nou te ver om gedane sake om te draai, maar as jy vandag hier met my saam-kom, moet jy weet daar gaan ’n geheim op jou skouers kom rus wat nie vir tjênners bedoel is nie.”
Die bynaam Twa is ‘n Nama-woord vir ‘n graspol, en verwys na haar hare. Von Meck maak ruim gebruik van streekstaal en Nama-woorde en dit dra by tot die gevoel van verlatenheid in die dorre omgewing waar die verhaal afspeel. Dis ‘n verhaal van geheime, en wreedhede en miskenning, maar ook een mens se groei en sal luisteraars meevoer en met nuwe oë na die wêreld om hulle laat kyk.
Twa, die Tydloper deur Anoescka von Meck, word voorgelees deur Miche van Wyk, met regie deur Anrich Herbst. Dit word weeksaande om 21:10 op RSG uitgesaai.
