Luister weer: Dokumentêr oor die Papier musiekfamilie van Franschhoek

Luister weer na die dokumentêr oor die Papier musiekfamilie: Musiek in die are – geslagte van Papier-musiek.

Carla MacKenzie het na Franschhoek gereis om die Papier Langarmorkes te ontmoet wat tydens die Chelsea-blommeskou opgetree en opslae gemaak het. Hoe kry hulle dit reg om vir dekades lank soveel van die ouer Kaapse dans- en volksmusiekstyle te bewaar en te laat weerklink; nou ook wêreldwyd?

Die Papier Family Band se musiek vertel die verhaal van familie, erfenis en die unieke ritmes wat al geslagte lank deel vorm van Suid-Afrika se musikale geskiedenis.

Vir geslagte lank weerklank die klanke van die Papier-familie deur Franschhoek se strate. Vandag speel hulle nie net vir hul gemeenskap nie, maar ook op wêreldverhoë. Hierdie is die verhaal van ‘n familie wie se musiek hulle van die Boland tot by die Chelsea Blommeskou in Londen geneem het.

Die familie is veral bekend as die Papier Langarm Orkes / Papier Family Band. Die orkes bestaan uit pa, broers en familielede wat ‘n musikale nalatenskap voortsit wat deur hul pa, Marthinus Papier, begin is.

Vandag speel Frank Papier (77) die trekklavier en kleinseun Greagan (13 jaar oud) 11 instrumente en so leef meer as 100 jaar se musiekervaring in die familie voort.

Greagan is onlangs vir ‘n KKNK KANNA-toekenning benoem vir Beste Musiekspel by die ABSA KKNK.

Luister na hierdie musikale erfenis Donderdag om 20:00.


Vandag speel Frank Papier (77) die trekklavier en kleinseun Greagan (13 jaar oud) 11 instrumente en so leef meer as 100 jaar se musiekervaring in die familie voort.

Oogprobleme by voorskoolse kinders

Sig is een van die mens se vyf tradisionele sintuie. Ons oë help ons om die wêreld om ons te kan sien en verken.

Natasha Pieterse, ‘n pediatriese oogkundige, vertel van die oogprobleme wat by voorskoolse kinders kan opduik, en ons hoor of die eet van wortels wel help om goeie sig te bevorder

Geveg teen bek-en-klouseer besig om vrugte af te werp

Pogings word voortgesit om bek-en-klouseer die nekslag toe te dien. Noue samewerking tussen boere, veeartse en die regering is besig om vrugte af te werp. Die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, bring ons op hoogte van die stand van sake.

Ons hoor wat alles in die jongste uitgawe van die gratis landboutydskrif, Agriprobe, gelees kan word.

Die wynmaker by De Grendel, Morgan Steyn, praat oor die waarde van mentorskap in die landbou.

Nuwe unieke musiekreeks ‘Alles en nog wat’ begin Sondag

Luister vanaf Sondag na ons nuwe musiekreeks.Alles en nog wat is ‘n woord-gedrewe musiek- en storieprogram met diepte en karakter, opgestel deur Johan van Lill.

Die eerste program in die reeks begin Sondag om 13:00. Alles en nog wat is ’n kuratoriese musiek- en storieprogram waarin elke episode rondom ’n enkele woord gebou word.

Nie as ’n tema wat eksplisiet ontleed word nie, maar as ’n denk-anker—’n eenvoudige woord wat ’n hele wêreld van betekenis oopmaak.

Woorde soos:
herinnering, hartklop, reus, wortels, drome, skaduwee, lig, verlange, vryheid, tydloosheid, stemme, hede, verbinding, verlies, hoop, oorgang

Elke episode gebruik hierdie woord as ’n stil vertrekpunt waarvandaan musiek, stories en waarnemings natuurlik ontvou.

Die woord word nie verduidelik nie. Dit word beleef.

Die kern van die program lê in ’n eenvoudige, maar kragtige idee: ’n Enkele woord kan ’n hele emosionele en intellektuele landskap ontsluit.

Elke episode verken daardie woord deur:

  • toeganklike klassieke musiek
  • besonderse stemme en opnames
  • persoonlike en kulturele stories
  • spitsvondige, subtiele kommentaar op mense en die wêreld

Die woord funksioneer as ’n goue draad wat alles bind—sonder om ooit swaarhandig of didakties te wees.

Hierdie woord-gedrewe benadering skep ’n program wat:

  • samehangend, maar nie voorspelbaar is nie
  • emosioneel resonant is sonder sentiment
  • intellektueel stimulerend is sonder om akademies te raak

Dit gee aan elke episode ’n duidelike identiteit, terwyl dit steeds ruimte laat vir kreatiewe vryheid en verrassings.

Die volgende woorde illustreer die rykheid van moontlike inhoud:

  • Herinnering
    Musiek wat terugkyk, ou opnames, nostalgie, “urban legends” wat nie altyd betroubaar is nie
  • Hartklop
    Ritme, lewe, spanning—die liggaam en die musiek wat dit weerspieël
  • Skaduwee
    Die dinge wat nie direk gesien word nie—subteks, ironie, dubbelsinnigheid
  • Verlange
    Stemwerke en arias wat handel oor behoort, afstand en emosionele spanning
  • Verlies
    Stilte, afwesigheid en die manier waarop musiek dit kan dra
  • Verbinding
    Hoe mense, stories en klanke oor tyd en plek heen bymekaar kom

Elke woord bied ’n nuwe invalshoek, sonder dat die program ooit in ’n rigiede formaat vasval.

Alles en nog wat is gemik op ’n belese, nuuskierige en kultureel bewuste gehoor wat:

  • hou van klassieke musiek wat mooi en toeganklik is
  • belangstel in die stories agter die musiek
  • waarde heg aan subtiele humor en intelligente waarneming
  • geniet om self betekenis te konstrueer

Hierdie luisteraar soek nie net inhoud nie—hulle soek ervaring en insig.

Die program se styl bly kenmerkend:

  • ’n intieme, gesprekstyl aanbieding
  • skerp, maar verfynde humor
  • lig filosofiese refleksie sonder swaarmoedigheid
  • segues wat natuurlik vloei tussen musiek en storie

Die woord dien as rigtingwyser, maar die reis bly oop en verrassend.

Strategiese waarde vir die stasie

Die woord-gebaseerde formaat bied:

  • ’n duidelike, herkenbare identiteit per episode
  • sterk herroepbaarheid en bemarkbaarheid (“Vanaand: Verlange”)
  • inhoud wat maklik vertaal na digitale platforms (kort snitte, aanhalings, sosiale media)
  • ’n unieke nisposisie binne die klassieke en kultuurlandskap

Dit skep ook geleentheid vir luisteraarbetrokkenheid, byvoorbeeld:

  • luisteraars wat woorde voorstel
  • persoonlike stories wat aan woorde gekoppel word

Slot

Alles en nog wat gebruik nie groot temas om indruk te maak nie.

Dit begin klein.
Met net een woord.

En dan wys dit hoe daardie woord—amper ongemerk—’n hele wêreld kan oopmaak.

Luister van Sondagaand na ons nuwe geloofsreeks “Ek twyfel…”

Ons nuwe Sondagaangeloofsreeks EK TWYFEL , begin eerskomende Sondag om 19:05.

Die reeks word aangebied deur Leon Geel.

Twyfel is iets waarmee baie mense worstel, selfs gelowiges. Dit beteken nie noodwendig dat iemand swak geloof het nie, maar wys dikwels dat ’n persoon eerlik soek na waarheid, betekenis en sekerheid. Hierdie tema fokus op die moeilike vrae waarmee mense daagliks leef — vrae oor God, geloof, lyding, vergifnis, die kerk en die doel van die lewe.

Die doel van hierdie gesprek is nie om mense te veroordeel oor hul vrae nie, maar om ruimte te skep vir eerlike gesprekke, nadenke en geestelike groei. Twyfel en geloof kan soms saam bestaan, omdat vrae mense dikwels nader bring aan dieper begrip en ’n meer persoonlike verhouding met God.

Moontlike onderwerpe wat bespreek gaan word:

  • Is twyfel ’n teken van swak geloof, of kan geloof en twyfel saam bestaan?
  • Ek twyfel waarom God slegte dinge met goeie mense laat gebeur
  • Twyfel oor die bestaan van God.
  • Twyfel oor die waarheid en interpretasie van die Bybel — letterlik of simbolies.
  • Twyfel oor lewe na die dood, hemel en hel.
  • Twyfel oor die krag van gebed en of God werklik luister.
  • Twyfel oor redding, uitverkiesing en vergifnis.
  • Twyfel oor wonderwerke en God se teenwoordigheid vandag.
  • Die vraag waarom lyding, boosheid en swaarkry bestaan, veral onder gelowiges.
  • Twyfel oor God se plan en doel met ’n mens se lewe.
  • Die gevoel dat mens nie genoeg doen om God tevrede te stel nie.
  • Twyfel oor kerke, tradisies en geestelike gebruike.
  • Die uitdaging om God se stem van eie gedagtes te onderskei.
  • Vrae oor die rol van vroue in die kerk en die betekenis van rituele.

Luister weer: ‘n Padda is ‘n ding wat spring – of nie?

Fenomenale klank en video-opnames met  meer as 1500 kwaliteit fotos, is die afgelope klomp jare van paddas in Suidelike Afrika gemaak. Prof. Louis du Preez van die Departement Dierkunde van Nooord-wes Universiteit doen al vir 30 jaar navorsing oor parasiete en padda.  Hulle het hierdie fassinerende versameling van klanke en fotos in boekvorm uitgegee: “Frogs of Southern Africa-A complete guide.”

Luister op Donderdag 2 Julie om 8 die aand na:” ’n Padda is ’n ding wat spring – of nie?” Kobus Rudolph gesels met prof. Louis en van sy nagraadse studente oor die mites en waarhede van paddas.  En “nee”, nie alle paddas kan spring nie!

Kan jy vratjies van paddas kry?  Is paddas giftig?  Sal ’n padda jou byt?  Hoe kom paddas in jou badkamer – kan hulle muurklim? Op Donderdag 2 Julie om 8 uur die aand in RSG se nuwe dokumentêre reeks, vertel prof. Louis du Preez ’n parasitoloog en paddakenner van Noordwes Universiteit dat skaaptjops steeds beter as paddaboudjies smaak.

’n Padda is ’n ding wat spring – of nie? is ’n program met baie unieke en uitstekende klankopnames  van meer as 160 paddas en paddakore. Saamgestel deur Kobus Rudolph.

Prof. Louis du Preez van Noord-Wes Universiteit en sy mede-navorsers het die afgelope 2 dekades dit reggekry om unieke en pragtige, suiwer  geluide van 160 verskillende paddaspesies op te neem!  Plus 1500 pragfotos en 80 videos! “Dit moes ’n enorme taak gewees het en Kobus sê hy weet nie hoe hulle dit reg gekry het nie!”  Kom luister ons na paddas, hulle gewoontes, kwake of roepe en die mites rondom  hierdie amfibieërs!

Hoekom kry mens paddas in jou huis?  Kan ‘n padda muurklim?  Hoekom verdrink paddas as hulle dan amfibieërs is?  Kry mens vratjies van paddas?  Is paddas giftig?  Reën dit paddas as daar dan so baie paddas is wanneer dit reën?  Hoekom kwaak ‘n padda?  Hoe lank slaap ‘n padda in die winter?  Waar bly paddas?

Prof du Preez en die padda navorsing
Prof. Louis du Preez van die departement Dierkunde aan die Noord-Wes Universiteit doen al vir meer 30 jaar navorsing op parasiete en paddas.  Hy het sy M graad en PhD oor parasiete gedoen.  Tydens sy navorsing het hy besef dat van die parasiete in die blase van paddas voorkom.  Dit het gelei tot sy intense navorsing op paddas as amfibieërs.

Prof.Louis en ‘n brulpadda

In die dokumentêr ‘n Padda is ‘n ding wat spring – of nie? hoor ons dat paddas, baie meer as net springers is.  Die program is deurspek met fenomenale byklanke van verskillende paddaspesies wat prof. Louis en sy mede-werkers die afgelope twintig jaar opgeneem het.  Dit is eintlik ‘n “onbegonne” en baie geduldige taak om verskillende spesies op te spoor en dan nog, om die oudio professioneel, helder en duidelik op te neem. 

Die luisteraars sal verstom wees oor wat hulle in die program hoor – die inligting wat prof. Louis gaan gee maar ook die verskillende klanke en roepe van paddas: van die Borrelpadda in die bosveld, die S.A. Skerpneuspadda wat een of ander wêreldrekord hou, die Lawaaipadda wat jou bitter-erg in jou tuin en visdam kan irriteer, tot by die Woestynreënpadda van McDougallsbaai en jou Gewone skurwepadda en Gorrelskurwepadda.

Joretha du Buisson – Kurator van Paddaversameling NWU

Ons gesels ook met Joretha du Buisson, die kurator van Noord-Wes Universiteit se paddaversameling.  Sy het haar M.graad oor die bloedparasiete van paddas gedoen.

Tiaan Botha is ‘n Phd student.  Hy gesels oor sy navorsingswerk op die bedreigde Bilbo se Reënpadda.  Die paddatjie is slegs 15 mm lank en word net in eMthonjaneni(Melmoth), KZN in die gras, tussen die pad en die bosbouplantasies aangetref.

Tiaan Botha – PhD student

Prof. Louis vertel ook meer oor S.A. se groot verskeidenheid van paddaspesies teenoor bv. Engeland se net 5 spesies.  Paddas is van die mees bedreigde vertebrate ter wêreld  Dit sluit ons voëlryk, bedreigde dierspesies en visse in.

Prof. Louis du Preez het reeds verskeie internasionale toekennings vir sy navorsingswerk ontvang.  Uit erkenning vir sy werk op platwurmparasiete en paddas, is ‘n nuutontdekte Malgassiese, paddaspesie, deur Duitse Wetenskaplikes na hom vernoem: Blommersia dupreezi

Hy ontvang vanjaar – 2026, die gesogde Havenga Prys vir Lewenswetenskappe van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns.  Prof. du Preez word vereer vir sy uitstaande bydrae tot dierkunde – meer spesifiek vir sy navorsing in parasitologie en biodiversiteit sowel as sy internasionale impak op akwatiese parasitologie.

Prof.Louis du Preez en ‘n boompaddatjie

Kobus Rudolph, die samesteller van die dokumentêr sê:

“Dié program oor paddas vir RSG is vir my een van die mees interessante onderwerpe met die indrukwekkende byklanke en die inligting wat ek nog ooit gemaak het.  Ons as inwoners van S.A. weet eintlik bitter min oor ons eie paddas.  Ek kan werklikwaar nie een padda met sekerheid uitken of identifiseer nie!  Dis eintlik, redelik, effens swak, sou ek sê!”

Prof. Louis du Preez het saam met Vincent Carruthers ‘n pragboek van 520 bladsye “Frogs of Southern Africa – A complete guide” uitgegee. Die boek is ‘n samevatting is van hulle navorsingswerk oor die afgelope paar dekades. Dit bevat ook meer as 160 unieke paddageluide, 1500 fotos en 80 videos.  Daar bestaan ook ‘n gratis program wat mens van die internet op jou foon kan aflaai met inligting oor en byklanke van verskillende paddas: “Frogs of Southern Africa LITE.”

Borrelvlei padd

Bosveldreënpadda

Die bedreigde Bilbo se Reënpadda in KZN

Gebande rubberpadda

Gestreepte langtoonpadda

Gewone platanna

Gorrelskurwepadda

Gorrelskurwepadda

Grootbrulpadda

Grootgrysskuimnespadda

Lawaaipaddas

Natalse boompadda

Snorkmodderpadda

Skuimnespadda

Skilderbontrietpadda

Rooiskurwepadda

Frogs of Southern Africa – A Complete guide deur Louis du Preez en Vincent Carruthers is ‘n omvattende boek van 520 bladsye wat al die geluide in vanaand se program bevat. Asook die klanke van 160 paddaspesies  met meer as 1500 pragfotos en 80 videos.  Daar is ook ‘n gratis program vir jou foon wat jy van die internet kan aflaai – Frogs of Southern Arica LITE