SA produseer meer as 50% van die wêreld se sybokhaar

29 Junie 2026: Het jy geweet Suid-Afrika produseer meer as vyftig persent van die wêreld se sybokhaar? Sybokhaar SA het onlangs op Graaff-Reinet kongres gehou, en ons hoor waarom Suid-Afrikaners trots kan wees op dié bedryf.

Inskrywings vir die jaarlikse Lewendehawe Registrerende Federasie en Santam se Stoetteler van die Jaar-kompetisie sluit op 17 Julie. Die hoofbeoordelaar, prof. Frikkie Neser, praat oor die kriteria vir deelname.

Syferfontein en Bonro Bonsmara se 27ste produksieveiling is met groot sukses op 16 Junie aangebied. Nico Pieterse gee terugvoer.

Ons nuwe dokumentêre seisoen: Die kaalvoetlegende, ‘gif’ in ons hande & die waarheid van heldersiendes, slegs op RSG

Bestaan daar regtig mense wat met die sogenaamde helm gebore is? Wat is die “gif” wat ons daagliks in ons hande vashou en waarvan daar glad nie ontslae geraak kan word nie?

Wat hou die bedreiging van paddas vir ons land se  varswaterbronne in? Wat het geword van ons kaalvoet-atletieklegende Zola Budd en die liewe tannie Magda van TV se Wielie Walie?

Hierdie is slegs ‘n handjievol van die vrae wat in RSG se tweede dokumentêr-seisoen van 2026 gevra word en waarvoor die programmakers wyd en syd na antwoorde gaan soek het.

Luisteraars ontmoet ook die Papier-familie wat al vir ‘n eeu lank musiek maak, en die Britse koning Charles ontmoet het tydens hul konserte in Engeland. Op lug leer ken ons die vragmotorbestuurders wat ‘n lewensaar vir Suid-Afrikaners geword het nadat die spoorbedryf ineengestort het. Daar is ‘n kykie agter die skerms van die gewilde TV-sepie Kelders van geheime en daar word kop gekrap oor waarom vroue meer ernstig beseer word in motorongelukke in vergelyking met mans.

Kobus Rudolph skop die dokkie-seisoen af met ‘n Padda is ‘n ding wat spring… of nie? waarin hy dié spesie se deurslaggewende rol in die ekostelsel bekyk, terwyl sowat 41% van alle paddaspesies tans bedreig word. Luister op Donderdag 2 Julie om 20:00.

‘n Week later reis Carla MacKenzie na Franschhoek om die Papier Langarmorkes te ontmoet wat tydens die Chelsea-blommeskou opgetree en opslae gemaak het. Hoe kry hulle dit reg om vir dekades lank soveel van die ouer Kaapse dans- en volksmusiekstyle te bewaar en te laat weerklink; nou ook wêreldwyd.

In Met die helm gebore op Donderdag 16 Julie kyk dr. Flip Loots na die mediese, kulturele en spirituele perspektiewe op wat in die volksmond bekend staan as mense wat “met die helm gebore” is. Wat is die mites en tradisies; en bestaan hierdie heldersiende mense regtig?

Daar is ‘n “geslagsdatagaping” wat veroorsaak dat vroue meer vatbaar is vir nek-, bors-, buik- en talle ledemaatbeserings tydens motorongelukke, rapporteer Martelize Brink in As vroue voet innie hoek sit… Dié dokkie word op Donderdag 23 Julie uitgesaai en fokus ook op nuwe ontwikkelinge in die motorbedryf, soos die gebruik van meer lewensgetroue vroulike botstoetspoppe.

In Lang pad op Donderdag 30 Julie reis Ettienne Ludick saam met die vragmotorbestuurders wat dag en nag Suid-Afrika deurkruis om kosbare vragte af te lewer, desondanks gevaar, misdaad en selfs ekstreme weersomstandighede.

Die dokkiemaker Esté de Klerk kyk in Die gevaar in ons groen longe na die Gautengse riviere soos die Jukskei- en Klipriviere waarin daar daagliks rou riool en ander industriële afval gestort word. Die besoedeling het reeds skokkende afmetings aangeneem en beide die inwoners en die omgewing is tans in lewensgevaar.

In Siekefonds of skynveiligheid? Die waarheid oor jou dekking laat val Mari Hudson van die RSG program Gesondheid, die kollig op die werklike beskerming wat mediese dekking bied, veral as pasiënte dit die nodigste het. Wat is hierdie kraaines van wagtydperke, skielike uitsluitings en ander onverwagte kostes waarvoor daar nie voorsiening gemaak is nie? Boonop neem lidmaatskap toe en kan ‘n mens tereg vra: word ek enigsins beskerm deur my dekking? Luister op Donderdag 13 Augustus om 20:00.

Die aktrise en geliefde TV-aanbieder Magda van Biljon het onlangs haar tagtigste verjaardag gevier. Wat het van die geliefde tannie Wielie Walie geword en ook die aktrise vir radio, teater, televisie en die silwerdoek? Ina Strydom het by haar gaan inloer en dit word op Donderdag 20 Augustus uitgesaai.

Magda van Biljon

Die gif in jou hande: Die onsigbare prys van ‘e-rommel’ is ‘n blik op die sogenaamde begraafplase waar ou rekenaars, selfone en ander tegnologietoestelle eindig. Hoeveel word daar werklik herwin? En watter impak het dit op die omgewing en ons gesondheid? Lizelle de Bruin skuif op Donderdag 27 Augustus agter die mikrofoon in vir hierdie priemende ondersoek.

Die Afrikaanse sepie Kelders van geheime was vanuit die staanspoor ‘n suksesverhaal met soveel as twee miljoen kykers en ongekende advertensie-inkomste. Maar dié gewilde reeks kom in Augustus ten einde en Haidee Muller-Isaacs het gaan ondersoek instel na die sukses en uitdagings van die sepie wat op ‘n plaas in die Wes-Kaap verfilm en vervaardig word. Skakel in op Donderdag 3 September om 20:00.

Die Suid-Afrikaanse middelafstandatleet Zola Budd het internasionaal bekendheid verwerf, maar haar loopbaan was in omstredenheid gedompel weens sportpolitiek, ‘n onverkwiklike voorval en gesprekke rondom haar nasionaliteit. Al het sy kaalvoet gehardloop, ontdek Jody Hendricks veel, veel meer in sy dokkie, Zola Budd: Spoor van ‘n kaalvoetlegende, op Donderdag 10 September.

Zola Budd

Jacqui January het na die Richtersveld gereis vir Gestroop van die aarde: Vetplante en die swartmark vir haar dokumentêr oor vetplantstropery van skaars en endemiese plante wat deel vorm van internasionale en naatloos georganiseerde misdaadsindikate wat nie net die plante nie, maar ook plaaslike inwoners se lewens bedreig. Dit word op Donderdag 17 September uitgesaai.

Die seisoen word afgesluit met Plektrum, ‘n dokumentêr oor die lewe en loopbaan van die kitaarspeler, komponis en veelsydige musikant Mauritz Lotz. Lotz se loopbaan word dikwels gereduseer tot sessie- of agtergrondmusikant, maar hy spog met meer as 4 000 opnames, het homself as tiener geleer kitaar speel en hy spog met Grammy-pryse op sy kaggelrak. Sy komposisies wissel van veelbekroonde teaterproduksies tot rolprentklankbane, ballet en eietydse musiekteater waarvoor hy die kreatiewe lewensaar was. Wat word van hierdie kunstenaars wat dikwels in die skadu van ander staan? Hierdie uur lange dokumentêr kan op Donderdag 24 September (op Erfenisdag) op RSG gehoor word.

Vir meer inligting besoek rsg.co.za of laai RSG se nuwe app af om die dokumentêre programme regstreeks te stroom.

Dis Opera verval Sondagaand om Bafana Bafana se wedstryd uit te saai

Enkele programveranderings is aangebring aan ons Sondag programskedule om die wedstryd van Bafana Bafana teen Kanada op die Los Angeles Stadion uit te saai. Dit is die tweede ronde van die FIFA Wêreldbekersokkertoernooi 2026.

Die kommentator is Udo Carelse met regstreekse kommentaar vanaf JHB Radio Park Mezzanine.

NB! Dis Opera val weg.

Hier is die nuwe programskedule vir Sondagaand:

19:30 – 19:50 Sterre en Planete (Verkort – Volle program beskikbaar op potgooi)

19:50 – Kommentaar (vroeër)

20:50 – Weer: Temperature (vroeër)

20:55 – Nuus: 21:00 bulletin (vroeër)

(Skakel oor na die kommentator Udo Carelse vir Sokkerwedstryd)

21:00 – 23:00 Sokker Wedstryd met Udo Carelse as die kommentator

23:00 – Nuus en weer

23:13 – Tjil

00:00 – Begin Deurnag

Die ‘Agterplaas’ nog steeds vol humor en patos

RSG herhaal eersdaags die gewilde tragikomediese middagvervolgverhaal, Agterplaas, deur die veelbekroonde dramaturg Charles J. Fourie.

Die vervolgverhaal is geskoei op Fourie se gelyknamige treffer-toneelstuk wat vir drie jaar lank tydens verskeie kunstefeeste landwyd opgevoer is. Dit is destyds vir altesame ses kykNET Fiësta-teaterpryse benoem en later ook as ‘n kort fliek vervaardig. Resensente was dit eens dat dit een van die hartroerendste dog vermaaklike toneelstukke is wat nog in Suid-Afrika op die planke gebring is.

In opdrag van RSG het Fourie later die storie uitgebou, nuwe karakters ingesluit en ‘n meesleurende dramareeks geskep wat luisteraars weer vir die volgende twee maande gaan boei.

“Waar ons destyds die stuk voor ‘n gehoor van hoogstens 300 gehoorlede in die buitelug kon opvoer, word dit deur veel meer mense op die draadloos ervaar en gehoor,” sê Fourie.

“Met die verwerking van die stuk vir radio as ‘n vervolgverhaal kon ek ook die gehele wêreld van die oorspronklike karakters verder verken, asook ‘n aantal nuwe karakters bybring.”

DIE STORIE

Die Conradie-gesin verloor hul huis weens pa Frans (Deon Lotz) se aanvanklike werkverlies en die gevolglike drankprobleem waarin hy en sy vrou, Sannie (Frieda van den Heever), mettertyd verstrengel raak.

Hulle beland noodgedwonge in Klets Vermeulen (Lindie Stander) se agterplaas waar hulle in ’n karavaan moet woon saam met hul twee kinders, wat nog albei op skool is.

Frans voer ’n opdraande stryd teen sy drankprobleem en steek alles vir Sannie weg.

Wanneer hul dogter, Rachel (Ilana Cilliers), verklaar dat sy nie meer by hulle gaan woon nie, en skool verlaat, word die gesin se lewens in ’n mallemeule van oorlewing en maatskaplike  verval gedompel. Rachel raak boonop betrokke by die ongure karakter Moolman (Leon Kruger) wat teer op arm meisies wat hy by sy nagklub laat werk.

Wanneer Rachel besluit om te vlug, besluit Moolman om haar te volg. Tydens ’n rusie word Moolman deur een van die verhaal se karakters geskiet.

Rachel neem die skuld op haarself, maar die moordsaak word uiteindelik deur die polisie ondersoek met tragiese gevolge vir almal.

Tussendeur is daar ander karakters soos Klets, wat daarvan droom om ‘n rol in ‘n bekende TV-sepie te vertolk en ‘n aktrise te word. Asook oom Blikkies (Neels Coetzee), wat ook in armoede gedompel is.

Agterplaas deur Charles J. Fourie sal luisteraars ontroer en ’n intieme blik bied op die lewens van daardie leë gesigte wat ‘n mens toenemend  in karavaanparke en op straat by die verkeerslig teëkom.

Die ander spelers is Martin Venter (Pieter), Carel Nel (Nico), Mariechen Vosloo (Alet), Geon Nel (Louw), Johann Nel (Pastoor) en Adri Vivier (Gerda).

Agterplaas is in Kaapstad opgeneem onder spelleiding van Joanie Combrink.  Die tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.

Agterplaas begin op Donderdag 25 Junie om 14:45 op RSG.

Agter vlnr: Johan Nel, Frieda van den Heever, Ilana Cilliers, Joanie Combrink, Martin Venter en Deon Lotz. Voor is Adri Vivier en Lindie Stander.

Luister weer: Ons drama “Liesbet’ neem jou terug na die dae van stoomtreine

Liesbet bring 3 trein-entoesiaste bymekaar. Die akteur Deon Lotz wat as kelner in sy jongdae diens gedoen het op stoomtreine, die byklanke-operateur Frikkie Wallis wat langs ‘n treinspoor grootgeword het, en Leon van Nierop wat ook langs ‘n treinspoor mens geword het, en ‘n paar keer as kind nog in stoomlokomotiewe gery het. Hy het ook as student tussen Johannesburg en Stellenbosch op sulke treine in die vroeg sewentigs gery, ses mense per kompartement!

Met Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word die herinneringe van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld met ‘n stoomtrein na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is.

Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar.

Die idee is gebore toe Leon die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat hy in sy navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Leon van Nierop het ook die regie van Liesbet behartig en beskryf dit as die moeilikste tegniese produksie wat hy nog onderneem het.

Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit.

Liesbet deur Leon van Nierop, Donderdagaand 25 Junie in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Liesbet neem die luisteraar terug na die dae van stoomtreine wanneer ‘n afgeleefde stoker en ‘n seun wat aan disleksie ly, wat in die middel van nêrens van ‘n bus afklim, saam in ‘n lokomotief na ‘n gerestoureerde stasie toe ry en mekaar inderwaarheid op sy eie manier terug restoureer na die lewe.

Ons stasies het meestal verval. Waar daar eers florerende, mooi stasies was waardeur reuse stoomlokomotiewe gery het, is daar deesdae maar min van oor. Maar wanneer ‘n nuwe toeristeroete uitgelê word, word die gesteelde spore vervang en word ‘n stoker opdrag gegee om ‘n legendariese ou lokomotief te restoureer. Terwyl Absalom dit doen, klim ‘n seun met ernstige leer- en leesprobleme (disleksie) van ‘n bus af. Hy kan saam met die stoker na sy eindbestemming in die lokomotief ry indien hy instem om die reuse-staalgedierte te was en te poleer. Gedurende hierdie reis het die twee ‘n onuitwisbare invloed op mekaar. Deon Lotz vertolk die rol van die stoker, en nuweling Rico Immelman is die seun. Dis ‘n unieke reis waar twee mense in 2025 terugreis na die verlede en weer mens word.

Van die regisseur – Leon van Nierop

Die idee is gebore toe ek die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat ek in my navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Boonop het ek die kans gehad om die gesoute Deon Lotz ‘n Noord-Kaapse aksent te gee, en hom teenoor die 17-jarige Rico Immelman van TV se Spooksoekers te plaas. Daardie kombinasie stemme het nuwe lewe aan die teks gegee. Ook Frikkie Wallis se trein-byklanke waarvan hy sommige self moes vervaardig. Ek het ook iemand ontmoet wat aan disleksie ly en eerstehands kon beskryf hoe moeilik dit is om die letters agtermekaar te plaas. Letters en spoorstawe ontmoet in hierdie drama.  

Die beginsels van ‘n goeie familieboerdery is…

Wat is die beginsels van ‘n goeie familieboerdery? Dit was een van die onderwerpe wat by die onlangse Bergrivier Besproeiing-boeredag bespreek is.

Ons luister ook na Hendri Truter en die suksesverhaal van Deli-Co, ‘n vleis- en graan-familiebesigheid in Riebeeck Kasteel.

Die emosionele impak van bek-en-klouseer op produsente en hulle families is enorm. Volgens dr. Shaun Morris van Octavoscene moet dié siekte eerder wetenskaplik as emosioneel benader word, maar dis makliker gesê as gedaan.

Luister weer na “Die Potplant,” ‘n kabaret op radio

‘n Klompie verwaarloosde plante in ’n kantoor is ongelukkig met hul omstandighede.

Hulle besef hulle kom al hoe nader daaraan om uit te sterf en probeer onmiddellik planne beraam om te oorleef. 

Met ’n paar verwikkelinge en struikelblokke soos ontvangs se haarsproei, wonder hulle oor ’n paar goed; wie is nou eintlik die vyand – Vismot, die grommige-gogga wat aan alles knaag, óf die ledematiges wat in die kantoor werk en klaarblyklik nie na hulle omsien nie.

En die belangrikste – is die gras werklik groener aan die ander kant…

Dié drama is deur Karli Heine geskep en vir radio verwerk, waar die musiek en ’n paar kern-karakters ontstaan het uit die oorspronklike kabaret. “Die Potplant: ’n Tragedie” is vir die eerste keer in 2024 opgevoer by KKNK se Blitsteater.

Agter van links na regs: Frieda van den Heever, Joanie Combrink en Lochner de Kock. Voor: Esther von Waltsleben, Marion Holm, en sittend is Karli Heine

Karli vertel, “die idee het begin toe dit vreemd voel om ’n boom-karakter binnenshuis te plaas. Wat het plant-gedagtes en staan onder dak?”

Die spelers is Joanie Combrink, Karli Heine, Lochner de Kock, Marion Holm en Esther von Waltsleben. Met musiek deur Grethe van der Merwe en Frieda van den Heever as die regisseur in die ateljee.

Die Potplant deur Karli Hiene, Donderdagaand 18 Junie in Radioteater om 10 oor 9 op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Jy hoor kabaret op radio.

Hoe werk ‘n blindederm- en ‘n galblaasoperasie?

Ons vind meer uit oor twee baie algemene operasies, naamlik ‘n blindedermoperasie en ‘n galblaasoperasie.

Hoe weet die chirurg die fout is werklik by die blindederm of die galblaas? Wat as die blindederm gebars het? En wat as galsteentjies in die lewer beland? Mari Hudson praat hieroor met dr Maré du Plessis, ‘n Kaapstadse chirurg by Milnerton Mediclinic.

‘n Ontsteekte blindederm

Die galblaas lê onder die lewer

Wat doen skermtyd aan ons fokus, slaap en welstand?

Ons is deesdae byna heeltyd aanlyn. Van die oomblik wat ons wakker word, tot ons saans die selfoon op die bedkassie neersit, is tegnologie deel van ons werk, verhoudings en ontspanning.

Al hoe meer mense besef dat dit teen ’n prys kom: minder fokus, swak slaap, digitale uitbranding en die gevoel dat ons in honderde rigtings getrek word.

Ons praat met dr. Marlena Kruger, ’n digitale welstand- en neurointegratiewe gesondheidsafrigter, en stigter van MindUnique Education.

Luister weer na “Een, twee, drie, Blok myself”

Die radiodrama Een, Twee, Drie, Blok Myself, geskryf en geregisseer deur Karen Wessels, is ’n spanningsvolle sielkundige riller wat diep delf in die onderdrukte psige van die mens en die brose, soms wrede grens tussen werklikheid en illusie. Dit was ‘n finalis in die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Die rolverdeling sluit sterk karakteruitbeeldings deur Amanda Strydom, Pierre Breytenbach, Natasja Jacobs, Pietie Beyers, Zane Meas en Jakkie Groenewald in. Elke karakter is ’n draer van hul eie pyn, geheime en morele grys areas.

Een, Twee, Drie, Blok Myself is ’n rou en eerlike drama wat vrae stel oor identiteit, herinneringe en of ’n mens werklik van jouself kan wegkruip. Die storie en akteurs se spel kruip onder jou vel in, smokkel met jou kop, en dwing jou om te vra hoe veilig jou eie herinneringe werklik is wanneer die waarheid begin terugveg.

Een, Twee, Drie, Blok Myself is Donderdagaand 4 Junie in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG App te hoor en is dan beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Die storie

Die drama speel af in die hede en kombineer spanningsvolle, emosionele diepte en subtiele humor teen die agtergrond van ’n plattelandse kroeg en ’n afgesonderde gemeenskap.

Monika, ’n voormalige polisievrou met ’n geskiedenis van verslawing en trauma, word gekonfronteer met haar verlede wanneer haar onderdrukte herinneringe begin terugkeer. Die verhaal ondersoek temas soos die onderdrukking van die werklikheid en die blywende impak van onopgeloste trauma.

Wanneer ’n aantreklike vreemdeling, Walter, opdaag en haar wêreld stadig begin ontwrig, word dit duidelik dat alles nie pluis is nie. Soos Monika se werklikheid begin verbrokkel, word die luisteraar meegesleur in ’n spanningsvolle onthulling van verborge geheime, skuldgevoel, en ’n verlede wat weier om begrawe te bly. Die drama word gedra deur intense dialoog, atmosferiese klankontwerp en musiek wat as emosionele leitmotief dien.

Die riller maak sterk gebruik van musiek – veral die liedjie “Sonder Jou” deur Gé Korsten dien as ‘n ontstellende voorbode en ‘n emosionele sneller. Regie word ook behartig deur Karen Wessels.

Agter Zane Meas, Pietie Beyers, Pierre Breytenbach, voor Amanda Strydom, Natasja Jacobs en Jakkie Groenewald copy

Agter van links na regs: Zane Meas, Pietie Beyers en Pierre Breytenbach. Voor is Amanda Strydom, Natasja Jacobs en Jakkie Groenewald.