19 Maart Jaco de Waal gaan loer op Donderdag 19 Maart In die skadu van verslawing. Hy vra – watter rol speel skaamte (“shame”) in die tentakels van ‘n magdom verslawings. Wat maak dat mense nie eetversteurings of alkoholisme kan oorkom nie. En watter rol speel emosies?
Agter elke verslawing is daar ’n storie. Sommige gevul met hoop… ander sonder ’n einde.
In die skadu van verslawing neem jou dieper as net die oppervlak – na die werklikheid van wat in die brein gebeur, die emosionele stryd, en die impak op families wat saam die pad stap.
Verslawing verander nie net die lewe van een persoon nie – dit raak families, verhoudings en hele gemeenskappe. Dit werk stil, dikwels onsigbaar, totdat die impak onmiskenbaar word. Tog bly dit een van die mees misverstaande toestande, met baie mense wat steeds glo dit gaan bloot oor swak wilskrag of keuses.
In die radiodokumentêr In die skadu van verslawing word hierdie wanopvattings uitgedaag deur eerlike gesprekke met kenners en mense wat eerstehands met verslawing leef. Die dokumentêr ondersoek wat fisies in die brein gebeur wanneer iemand verslaaf raak, hoekom dit so moeilik is om op te hou, en hoe die pad na herstel lyk – of soms nie lyk nie.
Dr Hugo de Villiers, ’n algemene praktisyn met ’n belangstelling in geestesgesondheid, verduidelik in eenvoudige terme hoe verslawing die brein verander. Hy wys daarop dat dit nie bloot ’n gedragsprobleem is nie, maar ’n mediese toestand wat die manier waarop mense plesier, stres en besluitneming ervaar, ingrypend beïnvloed. Hy waarsku ook teen die gevare daarvan om skielik op te hou met sekere middels, aangesien dit in sommige gevalle lewensgevaarlik kan wees sonder mediese toesig.
Die dokumentêr beweeg verder as net die mediese perspektief en fokus ook op die mens agter die verslawing. Albert Bredenhann, wat wyd bekend is vir sy werk met mense in herstel, beskryf verslawing op ’n manier wat die emosionele en geestelike dimensies daarvan belig. Sy insigte help om te verstaan hoekom mense aanhou gebruik, selfs wanneer dit hul lewens begin verwoes.
Renier Gouws, stigter van IGrow Recovery, deel sy persoonlike verhaal van hoe hy self in die greep van alkoholverslawing beland het. Hy praat openlik oor die vrees om op te hou gebruik, en hoe die middel dikwels ’n vorm van oorlewing word. Hy lig ook die rol uit wat skuld en skaamte speel – emosies wat mense dikwels stil hou en verhoed om hulp te soek.
Maar verslawing raak nie net die individu nie. Die dokumentêr gee ook aandag aan die ervaring van geliefdes wat langs iemand staan wat worstel. Dit is ’n pad van hoop, teleurstelling en moeilike besluite, sonder eenvoudige antwoorde.
Een van die mees aangrypende oomblikke in die dokumentêr is die storie van ’n persoon wat verkies om anoniem te bly. Hy vertel van jare se gesukkel om sy broer te help, ’n pad wat gekenmerk word deur geweld, trauma en uiteindelik die moeilike werklikheid dat sy broer steeds met verslawing worstel. Dit dien as ’n kragtige herinnering dat nie alle verhale ’n gelukkige einde het nie.
In die skadu van verslawing is nie net ’n verkenning van die probleem nie, maar ook ’n poging om begrip te skep. Dit wys dat herstel moontlik is, maar ook dat dit kompleks, lank en dikwels onvoorspelbaar is.
Vir die samesteller van die dokumentêr was die doel om ’n eerlike en gebalanseerde prentjie van verslawing te skets – een wat beide die wetenskap en die menslike ervaring in ag neem. Deur hierdie stories te vertel, word die hoop uitgespreek dat meer mense sal verstaan wat verslawing werklik is, en dat dit die begin kan wees van empatie en hulp.
Indien jy of iemand wat jy ken hulp nodig het, kan IGrow Recovery gekontak word by 072 011 6225 of per e-pos by igrow.rg@gmail.com. Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angs Groep is ook beskikbaar by 0800 567 567.
‘n Nuwe musiekreeks, ‘n fees van bekroonde wendramas, ‘n reeks oor emosionele wysheid en veerkragtigheid asook ‘n bekroonde joernalis en omroeper wat weer agter die mikrofoon inskuif, is vanaf April van die nuwighede op RSG se klankspyskaart.
Ons som vir jou die veranderings aan ons programskedule op. Dit geld van 1 April 2026.
Veranderings op Sondae
Die nuwe musiekreeks op Sondae om 13:00 Die omroeper en stemkunstenaar Christelle Webb-Joubert is die aanbieder van die musiekreeks, Duet, wat Sondae om 13:00 op RSG uitgesaai gaan word. Duet word saamgestel deur Ilse Schürmann en is deur dieselfde span wat verantwoordelik was vir Pure Poerring en sal bestaan uit ligte klassieke musiek, werke uit musiekspele en opnames van Pavarotti en Sting, Jannie Moolman en Corlea Botha, André Rieu en sy Johann Strauss-orkes asook Frank Sinatra en Liza Minelli, om net ‘n paar te noem.
Christelle Webb-Joubert
Nic se goed kom tot ‘n einde Die veteraanakteur en -uitsaaier Nic de Jager (85) gaan ‘n welverdiende blaaskans geniet. Sy Sondagprogram, Nic se goed, word in Maart vir die laaste keer uitgesaai, maar herhalings van sy gewildste programme sal vanaf April steeds elke Saterdagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag op RSG gehoor kan word.
Nic het reeds verlede jaar in ‘n onderhoud aangedui dat dit “al hoe stadiger gaan” om sy program op te neem en dat hy dit dalk nog net vir ‘n “maand of twee” sou doen. Wat oorspronklik as ‘n dertien week lange reeks begin het, het egter vir twaalf jaar lank geduur. RSG en sy luisteraars is dankbaar dat Nic sy eklektiese musiekkeuse, ervarings, wyshede, uitsaai-ervaring en storievertellings vir so lank op lug met almal gedeel het.
Nic de Jager
U Eie Keuse skuif na Sondae om 12:00 Die oudste program op Afrikaanse radio (eerste program op 20 Oktober 1945), U Eie Keuse met Willem Pelser, sal vanaf April Sondae om 12:00 in die plek van Nic se goed gehoor kan word. Dié gewilde versoekprogram sal steeds saamgestel word uit die gunstelinge wat weekliks deur luisteraars aangevra word. Dit word vanaf April ook steeds elke Woensdagoggend tussen 01:00 en 02:00 herhaal.
Willem Pelser
Sondagmiddae is dus ‘n fees vir musiekliefhebbers met U Eie Keuse om 12:00, die musiekreeks Duet, om 13:00, en Jacqui January wat om 14:00 die gewyde program Dis gospel sal aanbied. Sondag met Fritz volg steeds om 15:00 tot 18:00.
Nuwe geestelike program op Sondagaande Die berader, teoloog en musikant DJ Muller is die aanbieder van Binne en buite: Emosionele fiksheid en geestelike waardes, ‘n reeks wat handel oor innerlike krag. Daar is stories oor atlete, stresvolle werke, die eise van die alledaagse lewe en hoe veerkragtigheid, integriteit, nederigheid en geloof help om weer moed te skep en deur te druk. Die reeks bevat praktiese insigte en spirituele refleksie. Binne en buite word vanaf April elke Sondagaand om 19:05 uitgesaai.
DJ Muller
Veranderings op Woensdag- en Donderdagaande
Die bekroonde omroeper keer terug na Kompas op Woensdagaande Chrislynn Sias, wat met ‘n Junior Koker-toekenningb bekroon is vir haar werk in en bevordering van Afrikaans, gaan van April af wéér by die Kompas-span aansluit en sal elke Woensdagaand om 19:30 agter die mikrofoon inskuif.
Chrislynn Sias
Wendramas word op Donderdagaande uitgesaai Die 2025-wenners van die ATKV en RSG se radiodrama-skryfkompetisie kan vanaf Donderdag 2 April om 20:00 gehoor word. Die nuwe dramaseisoen sluit ook dramas in deur Christo Davids, Esta Steyn, Leon van Nierop, Karen Wessels en wyle Chris Majiedt asook sir Peter Shaffer se klassieke Amadeus. Shaffer sou vanjaar sy 100ste verjaardag vier en die veteraanakteur André Rossouw vertolk die hoofrol in hierdie Nerina Ferreira-vertaling van die klassieke werk. Die ander spelers sluit in Dawid Minnaar en Marthinus Basson.
Veranderings op Saterdae
Haidee se hartsnommertjies word langer Haidee se hartsnommertjies met Haidee Muller-Isaacs sal vanaf April om 20:00 op Saterdae uitgesaai word en dus verleng word om meer musiek te bevat. Luisteraars, wat reeds weekliks daarvoor vra, sal ook hul eie “hartsnommertjies” kan versoek. Die res van die Saterdagaandskedule bly dieselfde met die nuusbulletin om 21:00, gevolg deur Kappityt en Countryklanke.
Haidee Muller-Isaacs
Saterdagmiddae bly vol musiek Saterdagmiddae om 14:00 kan luisteraars inskakel vir Vastrap met Willem Viljoen, waarna Top Treffers met Carla McKenzie om 15:00 volg. Voor en na RSG Sport, Saterdae tussen 17:00 en 19:00, sal luisteraars meer musiek hoor vir die perfekte Saterdagluim.
Prof. Tobie de Villiers, ‘n ginekoloog met ‘n spesiale belangstelling in menopousale medisyne, osteoporose en ginekologiese endokrinologie, gesels oor die nuutste inligting oor menopouaw, hormoonvervanging en alles wat verband hou met menopouse.
Hy verduidelik wat menopouse is.
2. Hy praat oor perimenopouse.
3. Hy praat oor die akute simptome van menopouse.
4. Hy praat oor hormoonterapie.
5. Hy praat oor oor die veilige toepassing van menopaosale hormoonvervangingsterapie.
6. Hy praat oor genito-urinêre sindroom.
7. Hy praat oor postmenopausale osteoporose.
8. Hy praat oor die uitwerking van menopouse op hartsiektes.
Die nuwe oggendboekvoorlesing wat op Donderdag 19 Maart op RSG begin, is die bekende skrywer SD Fourie se Die Reis. Dit word voorgelees deur Bertha le Roux-Wahl en is uitgegee deur Protea Boekhuis.
Bertha le Roux-Wahl
Skakel vanaf 19 Maart weeksdae om 10:45 in die voorlesings uit Die Reis, deur SD Fourie, eksklusief op RSG.
Die storie
Mariza, ‘n skrywer verloor haar woorde ná drie traumatiese gebeure in haar lewe: haar man, met wie sy ‘n komplekse verhouding gehad het is oorlede; haar huis het afgebrand; en haar geliefde Jack Russell is dood.
Sy laat die huis herstel, maar haar drie kinders dring almal daarop aan dat sy in tuinwoonstelle by hulle moet kom woon. Mariza weier egter botweg. Dan ontmoet sy vir professor Joubert Hofmeyr, ‘n kultuurhistorikus. Hulle stamp koppe, maar besef daar is ‘n komplekse verweefdheid in hulle onderskeie verledes. Mariza en Joubert vertrek op ‘n landsreis na die Kgalikgadi, sodat sy haar woorde kan terugkry en hy meer kan uitvind oor een van sy voorsate.
Die reis
Die reis beslaan die grootste deel van die verhaal – maar dit is nie net die fisiese reis nie. Dit is ‘n reis deur Mariza se lewe sodat sy by die kern kan uitkom van wat haar daarvan weerhou om weer te skryf; ‘n reis deur die kollektiewe geheue van geslagte vroue in haar familie wat mekaar geslag op geslag beïnvloed.
Tydens die reis vertel Marize en Joubert om die beurt stories – en leer só op mekaar se paaie loop om te besef hoe die verlede die hede en die toekoms beïnvloed.
Die skrywer
SD Fourie is ‘n ou bekende by RSG-luisteraars. Twee van haar vorige boeke, Die dooies leef en Die lanternswaaier is voorheen op RSG voorgelees, en verskeie van haar radiodramas is al uitgesaai. Met Droomskip het sy in 2008 die eerste prys verower in die RSG Radiodramaskryfkompetisie.
Sowat 70% van Suid-Afrika se Graad 1 tot 3 leerders se leesvaardigheid is nie op peil nie, en byna ‘n kwart van leerders in sekere taalgroepe kan teen Graad 3 nog nie lees nie.
Ilse Salzwedel wil by drie kenners weet waar die fout lê: by die regering, onderwysers of ouers? Sy praat met hulle oor die krisis, en hulle deel ook handige wenke vir ouers, onderwysers en versorgers om kinders te help om beter te lees.
Die kenners is Christien Neser (spraakterapeut en skrywer van 20 kinder- en jeugboeke), emeritus-professor Michael le Cordeur (‘n kenner in opvoedkunde) en Chareldine van der Merwe van die Vriende Van Afrikaans (VVA), ‘n nie-winsgewende organisasie wat die afgelope dertig jaar al leesvaardighede onder Afrikaanse kinders landswyd bevorder.
Ongediagnoseerde en onbehandelde gloukoom kan tot blindheid lei omdat die oogsenuwee met gloukoom beskadig beskadig word. Maar indien dit vroeg opgespoor en behandel word, kan dit doeltreffend behandel word en blindheid voorkom word.
Gloukoom gaan dikwels gepaard met hoë vogdrukking in die oogbol, maar selfs sonder verhoogde drukking, kan gloukoom ontwikkel.
Dit kan doeltreffend met oogdruppels, laserbehandeling of uiteindelik chirurgie behandel word.
Dr Freddie van die Colff, oogspesialis by Panorama Mediclinic, vertel hoe die drukking kan verhoog, oor die verskillende soorte gloukoom, die diagnose en die behandeling.
Het jy geweet herbivore kan koolstof deur middel van fotosintese bind? Om die koolstofvoetspoor op ‘n melkplaas te bereken, word die DESTiny-model gebruik. Dr. Heinz Meissner vertel van Melk SA se projek in hierdie verband.
Pannar vier vanjaar hulle eeufees. Ons hoor by Caria Grobler wat dit vir landbou in Suid-Afrika beteken.
Tydens ’n onlangse mediatoer van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging, het ons met Pratesh Sharma gesels. Hy is ’n kommersiële suikerrietkweker in die Tongaat-omgewing. Ons het hom uitgevra oor die implikasies wat die Tongaat Hulett-likwidasieaansoek vir kwekers en die bedryf as geheel inhou. Hy praat ook oor suikerinvoere wat die plaaslike bedryf lamlê.
Vloek perfeksioniste meer as mense vir wie die lewe maar net altyd ‘n lied is? Vloek mans meer as vroue? Gebruik sommige mense vloekwoorde as ‘n manier om sosiaal aanvaarbaar te wees, en ander dit onbewustelik om tameletjies in die lewe beter te probeer hanteer? Wat presies gebeur in ons breine wanneer ons vloek? Kan vloek pyn- en stresverligting bring – maar méér so vir mense wat nie gereeld vloek nie? Hoekom is vloek so taboe? En is daar ook kragwoorde in Die Bybel?
Is jy ‘n chroniese vloeker? Vloek jy nét wanneer jy tussen jou vriende is, en glad nie wanneer jy by jou ma is nie? Swets jy meestal in Afrikaans, of in Engels? Wat bewys die navorsing hieroor? Wat is die kraswoord wat Suid-Afrikaners die meeste gebruik? Gebruik mense vloekwoorde in verskillende sosiale omstandighede om ‘n identiteit aan te neem? Wat presies gebeur in jou brein wanneer jy ‘n vloekwoord uiter? Was daar kraswoorde in die Bybel, wat oor die jare uitvertaal is? En kan die sê van ‘n vloekwoord jou pyn verlig?
Esté de Klerk krap so klein bietjie dieper. Sy praat met ‘n taalkundige, ‘n sielkundige, ‘n afgetrede dominee, ‘n skrywer, en iemand wat, nou ja, toevallig bekend geword het omdat sy ‘n vloekwoord gesê het. WAARSKUWING: Daar is inhoud in dié dokumentêr wat sensitiewe luisteraars kan ontstel.
O Vloek! Om te swets of nie? DOKUMENTÊR 12 Maart 2026 DEUR: Esté de Klerk
Marelize en Heidi Horn
“Iemand het eendag gesê ‘n vloekwoord is ‘n plekhouer vir iets wat jy nie ‘n beskrywing voor het nie en ek dink dit het baie te doen met daai absolute: ‘Wat sê ek?’” Só sê die Namibiër, Heidi Horn, wat ses jaar gelede saam met haar dogter, Marelize, oornag ‘n internet-sensasie geword het omdat sy een vloekword gesê het wat op ‘n skreeusnaakse video vasgelê is wat soos ‘n warrelwind in Namibië en Suid-Afrika versprei het.
Deon Meyer
Die skrywer, Deon Meyer, sê mense het op dié manier met Heidi geïdentifiseer omdat dit so eg menslik was. “Ons het almal sulke oomblikke, ons het almal sulke mense in ons lewens, ons het almal sulke kinders wat iets aanvang wat jy niks anders kan sê nie, want verdomp gaan net nie in daardie oomblik die ding doen nie, gaan net nie die emosie weergee nie, gaan net nie die berisping wees wat jy nodig het vir daai oomblik nie.”
Vloek jy soms, nooit, of is jy ‘n chroniese vloeker? Vloek jy nét wanneer jy tussen sekere mense is, met ander woorde, jy neem die konteks en omstandighede waarin jy verkeer in ag? Of rol daardie kraswoorde sommer so van jou tong af en jy dink: ag basta met die mense wat aanstoot neem met hoe jy praat? Is dit vir jou lekker om te vloek en het jy al opgelet hoe dit jou laat voel wanneer jy daardie kraswoord losgelaat het?
Elmarie Claassens
Vloek vervul verskillende funksies en kan wel ‘n katarsis by ons ontketen wanneer ons wel die dag ‘n kraswoord sê – dit kan verligting bring. Die rede? Dit is omdat vloekwoorde anders as gewone woorde in die brein geprosesseer word, verduidelik die kliniese sielkundige, Elmarie Claassens. “Vloekwoorde is soos ‘n alarmknoppie in die brein – jy druk dit en die hele stelsel skrik wakker. Gewone taal is meer soos ‘n rustige epos – jy het tyd om dit te redigeer en jy kan dink of jy nou vir iemand dit wil sê of dat wil sê, en jy kan teruggaan soontoe. Maar vloekwoorde is meer soos ‘n whatsapp boodskap in hoofletters met rooi uitroeptekens. Die vloekwoord glip uit soos ‘n werknemer wat in die kantoor instorm en sê: ‘Ek kan nie meer nie!’ Dit glip uit en daar is juis nie tyd nie – omdat dit so vinnig gebeur – is daar nie tyd om verskriklik te dink daaroor nie.”
Dit kan dus stresverligting bring, en ook pynverligting bring – maar hier is wel perke, soos wat navorsing bewys het en ons bespreek dit in dié dokumentêr. Nie álle vloekers gaan pynverligting ervaar nie.
En dan is daar ook die vraag of daar wel kraswoorde in die Bybel was? En in ‘n vinnig veranderende tegnologiese wêreld is daar ook die vraag of ons sal wil hê ons Kunsmatige Intelligensie Assistente moet wel kan vloek of ons verstaan wanneer ons op hulle vloek?
In die dokumentêr O Vloek! Om te swets of nie? gaan krap Esté de Klerk so klein bietjie dieper na hoekom mense vloek, wat daardie kraswoorde kan ontlont, in watter taal ons eerder swets, of dit enigsins verligting kan bring en hoekom mense so maklik oordeel. Hierdie is ‘n dokumentêr waarin jy óf heerlik gaan saamlag, óf waarin jy gaan oordeel. Dit hang seker maar af vanuit watter bril jy die lewe bekyk!
In O Vloek! Om te swets of nie, gaan krap Este de Klerk op Donderdag 12 Maart om 20:00 so klein bietjie dieper. Sy praat met ‘n taalkundige, ‘n sielkundige, ‘n afgetrede dominee, ‘n skrywer, en iemand wat, nou ja, toevallig bekend geword het omdat sy ‘n vloekwoord gesê het.