Die Langpad neem luisteraars diep in die wêreld van Suid-Afrika se langafstand-vragmotorbestuurders – die mense wat dag en nag die land aan die beweeg hou. Hoor die eerlike stories van drie langafstand drywers wat gesamentlik byna ‘n eeu se ervaring op paaie regoor Suid-Afrika en die wêreld het.
Ontdek die werklikheid agter die stuurwiel: die opoffering om weke lank van geliefdes af weg te wees, die gevare wat hulle daagliks trotseer, die eensaamheid van die oop pad en die unieke broederskap wat onder trokke en hul bestuurdrrs bestaan. Dis ‘n blik op ‘n beroep wat baie mense sien, maar min werklik verstaan.
Die Langpad, deur Ettienne Ludick, ondersoek ook hoe die lewe van vragmotorbestuurders verbeter kan word en waarom hulle ‘n onmisbare rol in ons ekonomie en samelewing speel. Klim saam.in die kajuit wat baie hul tuiste noem en luister Donderdagaand om 20:00 op RSG na hierdie aangrypende radiodokumentêr oor die mense agter die stuur.
Rooibos is op pad na die buitenste ruim! Marthane Swart van die SA Rooibosraad verduidelik waarom dit van waarde op aarde is.
Lizette Nowers, ‘n wetenskaplike navorser by die Departement Landbou in die Wes-Kaap, en navoringstegnikus Piet Lombard deel ‘n dringende boodskap aan canolaboere, wat verband hou met ongewone mistige toestande wat op die oomblik voorkom.
Die oliereus in die Midde-Ooste, Saoedi-Arabië, en die wêreld se grootste supermoondheid, Amerika, het volgens berigte ‘n geskiedkundige ooreenkoms bereik oor kernenergie. Kort ná die ooreenkoms bekend geword het, het die Amerikaanse president, Donald Trump, egter op sosiale media gesê die ooreenkoms is onderhewig daaraan dat Saoedi-Arabië die Abraham-akkoord onderteken, en daardeur Israel as ‘n staat erken. Die ooreenkoms is glo net om uraan te verryk vir kernkrag, maar vrese bestaan dat dit later mag ontwikkel tot wapengraad uraanverryking.
Ons praat hieroor met professor Jo-Ansie van Wyk, ‘n spesialis oor kernenergie-politiek, verbonde Unisa.
Masels, ‘n gevaarlike kindersiekte, is in Suid-Afrika aan die toeneem. Die VSA beleef ook verskeie uitbrekings van dié hoogs aansteeklike siekte. Die hoof-oorsaak van die toename is te wyte aan ouers wat nalaat om hulle kinders teen die virus te laat inent.
Die maselsvirus kan ‘n kind se immuniteit aantas, asook sy brein en longe, en kan noodlottig wees.
Mari Hudson praat met ‘n pediater, dr Thandie Wessels van die Tygerberg Hospitaal, oor dié gevaarlike aansteeklike siekte.
Vroue is meer geneig om ernstig beseer te word of te sterf in motorongelukke as mans, met ‘n 73% hoër waarskynlikheid van ernstige besering in vergelykbare ongelukke. Vroue ly meer beserings aan die onderste ledemate, buik en bors, terwyl mans meer geneig is tot rugbeserings en, oor die algemeen, meer noodlottige ongelukke.
Motors is oor die jare volgens mans se liggame ontwerp. Selfs die veiligheidstoetse is met manlike botstoetspoppe gedoen. Nuwe, meer akkurate vroulike botstoetspoppe word ontwikkel wat 150 sensors bevat om die spesifieke impak op ‘n vrou se liggaam te meet.
Alhoewel sommige vervaardigers jare lank vroulike toetse insluit, is dit eers onlangs dat omvattende en standaard vroulike poppe ‘n fokuspunt in veiligheidsnavorsing word
Craig et al. (2026) het ook 22 jaar se data van ernstige en noodlottige beserings wat op die NASS-CDS en die Crash Investigation Sampling System (CISS) in die VSA gehou is, gekombineer.
Die Versekeringsinstituut vir Snelwegveiligheid (IIHS) se navirsing het uitgelig dat vroue, op ‘n per-botsing basis, 20-28% meer geneig is om dood te gaan en 37-73% meer geneig is om ernstig beseer te word.
Gaste
Die navorser wat die eerste vroulike botstoetspop ontwikkel het, Prof. Astrid Linder, PhD, Msc. Professor, Verkeersveiligheid, verbonde aan Chalmers Universiteit van Tegnologie in Swede, Monash Universiteit in Australië en die Sweedse Nasionale Pad- en Vervoernavorsingsinstituut.
Kyk na die video waar Astrid Linder, wat die eerste vroue botstoetspop in Swede ontwikkel het, verduidelik hoe die toetse gedoen is.
Prof Astrid Linder
Screenshot
Dr. Cornel de Jongh is ’n forensiese biomeganiese ingenieur met ’n PhD in meganiese ingenieurswese met ‘n fokus op biomeganika, en meer as twee dekades se ervaring in die ontleding van motorbotsings, beseringsmeganismes en voertuigveiligheid. Hy dien gereeld as deskundige getuie in regsake in die VSA waar hy die biomeganika van botsings en die waarskynlikheid van beserings evalueer. Sy werk kombineer ingenieurswese, anatomie, fisiologie en mediese wetenskap om die bewegings en kragte waaraan die menslike liggaam tydens ’n botsing blootgestel word, te verstaan en te verduidelik. Met ’n besondere belangstelling in voertuigveiligheid en botsingsnavorsing fokus Dr. de Jongh op die wetenskap agter veiligheidstelsels soos veiligheidsgordels, lugsakke en botsingstoetspoppe (crash test dummies).
Dr Cornel de Jongh
Marnus Hattingh, motorjoernalis.
Minesh Bhagaloo, Hoof van Openbare Betrekkinge en Voorspraak van die Automobielvereniging van Suid-Afrika
Belangrike verskille in beserings
Nekbeserings: Vroue is drie keer meer geneig om sweepslag en ander nekbeserings op te doen as gevolg van verskille in neksterkte en sitposisies.
Onderste ledemaatbeserings: Vroue het ‘n 62% hoër kans om beserings aan hul bene, voete en enkels op te doen.
Buik en bors: In soortgelyke ongelukke is vroue aansienlik meer geneig om beserings aan hul buik en bors op te doen as mans.
Rugbeserings: Mans is meer geneig om rugbeserings as hul primêre besering te ervaar.
Redes vir Verskille
-Histories het motorveiligheidstoetse staatgemaak op poppe gebasseer op die gemiddelde manlike liggaam (50ste persentiel), wat veiligheidstelsels minder effektief vir vroue maak.
-Vroue sit dikwels nader aan die stuurwiel om pedale te bereik, wat hulle nader aan die ontplooiing van lugsakke plaas, terwyl verskille in ruggraatkromming ook ‘n rol speel.
– Verskille in tipes voertuie wat bestuur word en die erns van ongelukke, met mans dikwels in groter voertuie of as die bestuurder, kan beseringspatrone beïnvloed.
-Alhoewel mans meer geneig is om betrokke te wees by noodlottige ongelukke, hoofsaaklik as gevolg van hoëspoedongelukke, is vroulike bestuurders meer vatbaar vir ernstige torakale en ruggraatbeserings in soortgelyke ongelukscenario’s.
Historiese voertuigontwerp en veiligheidstoetse is op die gemiddelde manlike liggaam gefokus, wat ‘n “geslagsdatagaping” skep wat vroue met ‘n hoër risiko laat. Alhoewel daar wel vooruitgang is, is vroue statisties meer geneig om ernstig beseer te word of te sterf in motorongelukke as gevolg van veiligheidstelsels (veiligheidsgordels, lugsakke) wat nie rekening hou met vroulike fisiologie nie.
19 Julie 2026: Die taalkundige van die NWU, prof. Gerhard van Huyssteen, vertel vir Ina Strydom van navorsing wat hy en twee kollegas gedoen het oor onbeleefde taalgebruik in kommentaar op sosiale media; hoe die konstruksies lyk, en watter vorme dit kan aanneem ten einde deur te glip by platforms se reëls oor byvoorbeeld vloekwoorde en rassisme.
Luister weer na die dokumentêr oor die Papier musiekfamilie: Musiek in die are – geslagte van Papier-musiek.
Carla MacKenzie het na Franschhoek gereis om die Papier Langarmorkes te ontmoet wat tydens die Chelsea-blommeskou opgetree en opslae gemaak het. Hoe kry hulle dit reg om vir dekades lank soveel van die ouer Kaapse dans- en volksmusiekstyle te bewaar en te laat weerklink; nou ook wêreldwyd?
Die Papier Family Band se musiek vertel die verhaal van familie, erfenis en die unieke ritmes wat al geslagte lank deel vorm van Suid-Afrika se musikale geskiedenis.
Vir geslagte lank weerklank die klanke van die Papier-familie deur Franschhoek se strate. Vandag speel hulle nie net vir hul gemeenskap nie, maar ook op wêreldverhoë. Hierdie is die verhaal van ‘n familie wie se musiek hulle van die Boland tot by die Chelsea Blommeskou in Londen geneem het.
Die familie is veral bekend as die Papier Langarm Orkes / Papier Family Band. Die orkes bestaan uit pa, broers en familielede wat ‘n musikale nalatenskap voortsit wat deur hul pa, Marthinus Papier, begin is.
Vandag speel Frank Papier (77) die trekklavier en kleinseun Greagan (13 jaar oud) 11 instrumente en so leef meer as 100 jaar se musiekervaring in die familie voort.
Greagan is onlangs vir ‘n KKNK KANNA-toekenning benoem vir Beste Musiekspel by die ABSA KKNK.
Luister na hierdie musikale erfenis Donderdag om 20:00.
Vandag speel Frank Papier (77) die trekklavier en kleinseun Greagan (13 jaar oud) 11 instrumente en so leef meer as 100 jaar se musiekervaring in die familie voort.
Sig is een van die mens se vyf tradisionele sintuie. Ons oë help ons om die wêreld om ons te kan sien en verken.
Natasha Pieterse, ‘n pediatriese oogkundige, vertel van die oogprobleme wat by voorskoolse kinders kan opduik, en ons hoor of die eet van wortels wel help om goeie sig te bevorder