Geveg teen bek-en-klouseer besig om vrugte af te werp

Pogings word voortgesit om bek-en-klouseer die nekslag toe te dien. Noue samewerking tussen boere, veeartse en die regering is besig om vrugte af te werp. Die minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, dr. Ivan Meyer, bring ons op hoogte van die stand van sake.

Ons hoor wat alles in die jongste uitgawe van die gratis landboutydskrif, Agriprobe, gelees kan word.

Die wynmaker by De Grendel, Morgan Steyn, praat oor die waarde van mentorskap in die landbou.

Nuwe unieke musiekreeks ‘Alles en nog wat’ begin Sondag

Luister vanaf Sondag na ons nuwe musiekreeks.Alles en nog wat is ‘n woord-gedrewe musiek- en storieprogram met diepte en karakter, opgestel deur Johan van Lill.

Die eerste program in die reeks begin Sondag om 13:00. Alles en nog wat is ’n kuratoriese musiek- en storieprogram waarin elke episode rondom ’n enkele woord gebou word.

Nie as ’n tema wat eksplisiet ontleed word nie, maar as ’n denk-anker—’n eenvoudige woord wat ’n hele wêreld van betekenis oopmaak.

Woorde soos:
herinnering, hartklop, reus, wortels, drome, skaduwee, lig, verlange, vryheid, tydloosheid, stemme, hede, verbinding, verlies, hoop, oorgang

Elke episode gebruik hierdie woord as ’n stil vertrekpunt waarvandaan musiek, stories en waarnemings natuurlik ontvou.

Die woord word nie verduidelik nie. Dit word beleef.

Die kern van die program lê in ’n eenvoudige, maar kragtige idee: ’n Enkele woord kan ’n hele emosionele en intellektuele landskap ontsluit.

Elke episode verken daardie woord deur:

  • toeganklike klassieke musiek
  • besonderse stemme en opnames
  • persoonlike en kulturele stories
  • spitsvondige, subtiele kommentaar op mense en die wêreld

Die woord funksioneer as ’n goue draad wat alles bind—sonder om ooit swaarhandig of didakties te wees.

Hierdie woord-gedrewe benadering skep ’n program wat:

  • samehangend, maar nie voorspelbaar is nie
  • emosioneel resonant is sonder sentiment
  • intellektueel stimulerend is sonder om akademies te raak

Dit gee aan elke episode ’n duidelike identiteit, terwyl dit steeds ruimte laat vir kreatiewe vryheid en verrassings.

Die volgende woorde illustreer die rykheid van moontlike inhoud:

  • Herinnering
    Musiek wat terugkyk, ou opnames, nostalgie, “urban legends” wat nie altyd betroubaar is nie
  • Hartklop
    Ritme, lewe, spanning—die liggaam en die musiek wat dit weerspieël
  • Skaduwee
    Die dinge wat nie direk gesien word nie—subteks, ironie, dubbelsinnigheid
  • Verlange
    Stemwerke en arias wat handel oor behoort, afstand en emosionele spanning
  • Verlies
    Stilte, afwesigheid en die manier waarop musiek dit kan dra
  • Verbinding
    Hoe mense, stories en klanke oor tyd en plek heen bymekaar kom

Elke woord bied ’n nuwe invalshoek, sonder dat die program ooit in ’n rigiede formaat vasval.

Alles en nog wat is gemik op ’n belese, nuuskierige en kultureel bewuste gehoor wat:

  • hou van klassieke musiek wat mooi en toeganklik is
  • belangstel in die stories agter die musiek
  • waarde heg aan subtiele humor en intelligente waarneming
  • geniet om self betekenis te konstrueer

Hierdie luisteraar soek nie net inhoud nie—hulle soek ervaring en insig.

Die program se styl bly kenmerkend:

  • ’n intieme, gesprekstyl aanbieding
  • skerp, maar verfynde humor
  • lig filosofiese refleksie sonder swaarmoedigheid
  • segues wat natuurlik vloei tussen musiek en storie

Die woord dien as rigtingwyser, maar die reis bly oop en verrassend.

Strategiese waarde vir die stasie

Die woord-gebaseerde formaat bied:

  • ’n duidelike, herkenbare identiteit per episode
  • sterk herroepbaarheid en bemarkbaarheid (“Vanaand: Verlange”)
  • inhoud wat maklik vertaal na digitale platforms (kort snitte, aanhalings, sosiale media)
  • ’n unieke nisposisie binne die klassieke en kultuurlandskap

Dit skep ook geleentheid vir luisteraarbetrokkenheid, byvoorbeeld:

  • luisteraars wat woorde voorstel
  • persoonlike stories wat aan woorde gekoppel word

Slot

Alles en nog wat gebruik nie groot temas om indruk te maak nie.

Dit begin klein.
Met net een woord.

En dan wys dit hoe daardie woord—amper ongemerk—’n hele wêreld kan oopmaak.

Luister van Sondagaand na ons nuwe geloofsreeks “Ek twyfel…”

Ons nuwe Sondagaangeloofsreeks EK TWYFEL , begin eerskomende Sondag om 19:05.

Die reeks word aangebied deur Leon Geel.

Twyfel is iets waarmee baie mense worstel, selfs gelowiges. Dit beteken nie noodwendig dat iemand swak geloof het nie, maar wys dikwels dat ’n persoon eerlik soek na waarheid, betekenis en sekerheid. Hierdie tema fokus op die moeilike vrae waarmee mense daagliks leef — vrae oor God, geloof, lyding, vergifnis, die kerk en die doel van die lewe.

Die doel van hierdie gesprek is nie om mense te veroordeel oor hul vrae nie, maar om ruimte te skep vir eerlike gesprekke, nadenke en geestelike groei. Twyfel en geloof kan soms saam bestaan, omdat vrae mense dikwels nader bring aan dieper begrip en ’n meer persoonlike verhouding met God.

Moontlike onderwerpe wat bespreek gaan word:

  • Is twyfel ’n teken van swak geloof, of kan geloof en twyfel saam bestaan?
  • Ek twyfel waarom God slegte dinge met goeie mense laat gebeur
  • Twyfel oor die bestaan van God.
  • Twyfel oor die waarheid en interpretasie van die Bybel — letterlik of simbolies.
  • Twyfel oor lewe na die dood, hemel en hel.
  • Twyfel oor die krag van gebed en of God werklik luister.
  • Twyfel oor redding, uitverkiesing en vergifnis.
  • Twyfel oor wonderwerke en God se teenwoordigheid vandag.
  • Die vraag waarom lyding, boosheid en swaarkry bestaan, veral onder gelowiges.
  • Twyfel oor God se plan en doel met ’n mens se lewe.
  • Die gevoel dat mens nie genoeg doen om God tevrede te stel nie.
  • Twyfel oor kerke, tradisies en geestelike gebruike.
  • Die uitdaging om God se stem van eie gedagtes te onderskei.
  • Vrae oor die rol van vroue in die kerk en die betekenis van rituele.

Luister weer: ‘n Padda is ‘n ding wat spring – of nie?

Fenomenale klank en video-opnames met  meer as 1500 kwaliteit fotos, is die afgelope klomp jare van paddas in Suidelike Afrika gemaak. Prof. Louis du Preez van die Departement Dierkunde van Nooord-wes Universiteit doen al vir 30 jaar navorsing oor parasiete en padda.  Hulle het hierdie fassinerende versameling van klanke en fotos in boekvorm uitgegee: “Frogs of Southern Africa-A complete guide.”

Luister op Donderdag 2 Julie om 8 die aand na:” ’n Padda is ’n ding wat spring – of nie?” Kobus Rudolph gesels met prof. Louis en van sy nagraadse studente oor die mites en waarhede van paddas.  En “nee”, nie alle paddas kan spring nie!

Kan jy vratjies van paddas kry?  Is paddas giftig?  Sal ’n padda jou byt?  Hoe kom paddas in jou badkamer – kan hulle muurklim? Op Donderdag 2 Julie om 8 uur die aand in RSG se nuwe dokumentêre reeks, vertel prof. Louis du Preez ’n parasitoloog en paddakenner van Noordwes Universiteit dat skaaptjops steeds beter as paddaboudjies smaak.

’n Padda is ’n ding wat spring – of nie? is ’n program met baie unieke en uitstekende klankopnames  van meer as 160 paddas en paddakore. Saamgestel deur Kobus Rudolph.

Prof. Louis du Preez van Noord-Wes Universiteit en sy mede-navorsers het die afgelope 2 dekades dit reggekry om unieke en pragtige, suiwer  geluide van 160 verskillende paddaspesies op te neem!  Plus 1500 pragfotos en 80 videos! “Dit moes ’n enorme taak gewees het en Kobus sê hy weet nie hoe hulle dit reg gekry het nie!”  Kom luister ons na paddas, hulle gewoontes, kwake of roepe en die mites rondom  hierdie amfibieërs!

Hoekom kry mens paddas in jou huis?  Kan ‘n padda muurklim?  Hoekom verdrink paddas as hulle dan amfibieërs is?  Kry mens vratjies van paddas?  Is paddas giftig?  Reën dit paddas as daar dan so baie paddas is wanneer dit reën?  Hoekom kwaak ‘n padda?  Hoe lank slaap ‘n padda in die winter?  Waar bly paddas?

Prof du Preez en die padda navorsing
Prof. Louis du Preez van die departement Dierkunde aan die Noord-Wes Universiteit doen al vir meer 30 jaar navorsing op parasiete en paddas.  Hy het sy M graad en PhD oor parasiete gedoen.  Tydens sy navorsing het hy besef dat van die parasiete in die blase van paddas voorkom.  Dit het gelei tot sy intense navorsing op paddas as amfibieërs.

Prof.Louis en ‘n brulpadda

In die dokumentêr ‘n Padda is ‘n ding wat spring – of nie? hoor ons dat paddas, baie meer as net springers is.  Die program is deurspek met fenomenale byklanke van verskillende paddaspesies wat prof. Louis en sy mede-werkers die afgelope twintig jaar opgeneem het.  Dit is eintlik ‘n “onbegonne” en baie geduldige taak om verskillende spesies op te spoor en dan nog, om die oudio professioneel, helder en duidelik op te neem. 

Die luisteraars sal verstom wees oor wat hulle in die program hoor – die inligting wat prof. Louis gaan gee maar ook die verskillende klanke en roepe van paddas: van die Borrelpadda in die bosveld, die S.A. Skerpneuspadda wat een of ander wêreldrekord hou, die Lawaaipadda wat jou bitter-erg in jou tuin en visdam kan irriteer, tot by die Woestynreënpadda van McDougallsbaai en jou Gewone skurwepadda en Gorrelskurwepadda.

Joretha du Buisson – Kurator van Paddaversameling NWU

Ons gesels ook met Joretha du Buisson, die kurator van Noord-Wes Universiteit se paddaversameling.  Sy het haar M.graad oor die bloedparasiete van paddas gedoen.

Tiaan Botha is ‘n Phd student.  Hy gesels oor sy navorsingswerk op die bedreigde Bilbo se Reënpadda.  Die paddatjie is slegs 15 mm lank en word net in eMthonjaneni(Melmoth), KZN in die gras, tussen die pad en die bosbouplantasies aangetref.

Tiaan Botha – PhD student

Prof. Louis vertel ook meer oor S.A. se groot verskeidenheid van paddaspesies teenoor bv. Engeland se net 5 spesies.  Paddas is van die mees bedreigde vertebrate ter wêreld  Dit sluit ons voëlryk, bedreigde dierspesies en visse in.

Prof. Louis du Preez het reeds verskeie internasionale toekennings vir sy navorsingswerk ontvang.  Uit erkenning vir sy werk op platwurmparasiete en paddas, is ‘n nuutontdekte Malgassiese, paddaspesie, deur Duitse Wetenskaplikes na hom vernoem: Blommersia dupreezi

Hy ontvang vanjaar – 2026, die gesogde Havenga Prys vir Lewenswetenskappe van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns.  Prof. du Preez word vereer vir sy uitstaande bydrae tot dierkunde – meer spesifiek vir sy navorsing in parasitologie en biodiversiteit sowel as sy internasionale impak op akwatiese parasitologie.

Prof.Louis du Preez en ‘n boompaddatjie

Kobus Rudolph, die samesteller van die dokumentêr sê:

“Dié program oor paddas vir RSG is vir my een van die mees interessante onderwerpe met die indrukwekkende byklanke en die inligting wat ek nog ooit gemaak het.  Ons as inwoners van S.A. weet eintlik bitter min oor ons eie paddas.  Ek kan werklikwaar nie een padda met sekerheid uitken of identifiseer nie!  Dis eintlik, redelik, effens swak, sou ek sê!”

Prof. Louis du Preez het saam met Vincent Carruthers ‘n pragboek van 520 bladsye “Frogs of Southern Africa – A complete guide” uitgegee. Die boek is ‘n samevatting is van hulle navorsingswerk oor die afgelope paar dekades. Dit bevat ook meer as 160 unieke paddageluide, 1500 fotos en 80 videos.  Daar bestaan ook ‘n gratis program wat mens van die internet op jou foon kan aflaai met inligting oor en byklanke van verskillende paddas: “Frogs of Southern Africa LITE.”

Borrelvlei padd

Bosveldreënpadda

Die bedreigde Bilbo se Reënpadda in KZN

Gebande rubberpadda

Gestreepte langtoonpadda

Gewone platanna

Gorrelskurwepadda

Gorrelskurwepadda

Grootbrulpadda

Grootgrysskuimnespadda

Lawaaipaddas

Natalse boompadda

Snorkmodderpadda

Skuimnespadda

Skilderbontrietpadda

Rooiskurwepadda

Frogs of Southern Africa – A Complete guide deur Louis du Preez en Vincent Carruthers is ‘n omvattende boek van 520 bladsye wat al die geluide in vanaand se program bevat. Asook die klanke van 160 paddaspesies  met meer as 1500 pragfotos en 80 videos.  Daar is ook ‘n gratis program vir jou foon wat jy van die internet kan aflaai – Frogs of Southern Arica LITE

 SA produseer meer as 50% van die wêreld se sybokhaar

29 Junie 2026: Het jy geweet Suid-Afrika produseer meer as vyftig persent van die wêreld se sybokhaar? Sybokhaar SA het onlangs op Graaff-Reinet kongres gehou, en ons hoor waarom Suid-Afrikaners trots kan wees op dié bedryf.

Inskrywings vir die jaarlikse Lewendehawe Registrerende Federasie en Santam se Stoetteler van die Jaar-kompetisie sluit op 17 Julie. Die hoofbeoordelaar, prof. Frikkie Neser, praat oor die kriteria vir deelname.

Syferfontein en Bonro Bonsmara se 27ste produksieveiling is met groot sukses op 16 Junie aangebied. Nico Pieterse gee terugvoer.

Ons nuwe dokumentêre seisoen: Die kaalvoetlegende, ‘gif’ in ons hande & die waarheid van heldersiendes, slegs op RSG

Bestaan daar regtig mense wat met die sogenaamde helm gebore is? Wat is die “gif” wat ons daagliks in ons hande vashou en waarvan daar glad nie ontslae geraak kan word nie?

Wat hou die bedreiging van paddas vir ons land se  varswaterbronne in? Wat het geword van ons kaalvoet-atletieklegende Zola Budd en die liewe tannie Magda van TV se Wielie Walie?

Hierdie is slegs ‘n handjievol van die vrae wat in RSG se tweede dokumentêr-seisoen van 2026 gevra word en waarvoor die programmakers wyd en syd na antwoorde gaan soek het.

Luisteraars ontmoet ook die Papier-familie wat al vir ‘n eeu lank musiek maak, en die Britse koning Charles ontmoet het tydens hul konserte in Engeland. Op lug leer ken ons die vragmotorbestuurders wat ‘n lewensaar vir Suid-Afrikaners geword het nadat die spoorbedryf ineengestort het. Daar is ‘n kykie agter die skerms van die gewilde TV-sepie Kelders van geheime en daar word kop gekrap oor waarom vroue meer ernstig beseer word in motorongelukke in vergelyking met mans.

Kobus Rudolph skop die dokkie-seisoen af met ‘n Padda is ‘n ding wat spring… of nie? waarin hy dié spesie se deurslaggewende rol in die ekostelsel bekyk, terwyl sowat 41% van alle paddaspesies tans bedreig word. Luister op Donderdag 2 Julie om 20:00.

‘n Week later reis Carla MacKenzie na Franschhoek om die Papier Langarmorkes te ontmoet wat tydens die Chelsea-blommeskou opgetree en opslae gemaak het. Hoe kry hulle dit reg om vir dekades lank soveel van die ouer Kaapse dans- en volksmusiekstyle te bewaar en te laat weerklink; nou ook wêreldwyd.

In Met die helm gebore op Donderdag 16 Julie kyk dr. Flip Loots na die mediese, kulturele en spirituele perspektiewe op wat in die volksmond bekend staan as mense wat “met die helm gebore” is. Wat is die mites en tradisies; en bestaan hierdie heldersiende mense regtig?

Daar is ‘n “geslagsdatagaping” wat veroorsaak dat vroue meer vatbaar is vir nek-, bors-, buik- en talle ledemaatbeserings tydens motorongelukke, rapporteer Martelize Brink in As vroue voet innie hoek sit… Dié dokkie word op Donderdag 23 Julie uitgesaai en fokus ook op nuwe ontwikkelinge in die motorbedryf, soos die gebruik van meer lewensgetroue vroulike botstoetspoppe.

In Lang pad op Donderdag 30 Julie reis Ettienne Ludick saam met die vragmotorbestuurders wat dag en nag Suid-Afrika deurkruis om kosbare vragte af te lewer, desondanks gevaar, misdaad en selfs ekstreme weersomstandighede.

Die dokkiemaker Esté de Klerk kyk in Die gevaar in ons groen longe na die Gautengse riviere soos die Jukskei- en Klipriviere waarin daar daagliks rou riool en ander industriële afval gestort word. Die besoedeling het reeds skokkende afmetings aangeneem en beide die inwoners en die omgewing is tans in lewensgevaar.

In Siekefonds of skynveiligheid? Die waarheid oor jou dekking laat val Mari Hudson van die RSG program Gesondheid, die kollig op die werklike beskerming wat mediese dekking bied, veral as pasiënte dit die nodigste het. Wat is hierdie kraaines van wagtydperke, skielike uitsluitings en ander onverwagte kostes waarvoor daar nie voorsiening gemaak is nie? Boonop neem lidmaatskap toe en kan ‘n mens tereg vra: word ek enigsins beskerm deur my dekking? Luister op Donderdag 13 Augustus om 20:00.

Die aktrise en geliefde TV-aanbieder Magda van Biljon het onlangs haar tagtigste verjaardag gevier. Wat het van die geliefde tannie Wielie Walie geword en ook die aktrise vir radio, teater, televisie en die silwerdoek? Ina Strydom het by haar gaan inloer en dit word op Donderdag 20 Augustus uitgesaai.

Magda van Biljon

Die gif in jou hande: Die onsigbare prys van ‘e-rommel’ is ‘n blik op die sogenaamde begraafplase waar ou rekenaars, selfone en ander tegnologietoestelle eindig. Hoeveel word daar werklik herwin? En watter impak het dit op die omgewing en ons gesondheid? Lizelle de Bruin skuif op Donderdag 27 Augustus agter die mikrofoon in vir hierdie priemende ondersoek.

Die Afrikaanse sepie Kelders van geheime was vanuit die staanspoor ‘n suksesverhaal met soveel as twee miljoen kykers en ongekende advertensie-inkomste. Maar dié gewilde reeks kom in Augustus ten einde en Haidee Muller-Isaacs het gaan ondersoek instel na die sukses en uitdagings van die sepie wat op ‘n plaas in die Wes-Kaap verfilm en vervaardig word. Skakel in op Donderdag 3 September om 20:00.

Die Suid-Afrikaanse middelafstandatleet Zola Budd het internasionaal bekendheid verwerf, maar haar loopbaan was in omstredenheid gedompel weens sportpolitiek, ‘n onverkwiklike voorval en gesprekke rondom haar nasionaliteit. Al het sy kaalvoet gehardloop, ontdek Jody Hendricks veel, veel meer in sy dokkie, Zola Budd: Spoor van ‘n kaalvoetlegende, op Donderdag 10 September.

Zola Budd

Jacqui January het na die Richtersveld gereis vir Gestroop van die aarde: Vetplante en die swartmark vir haar dokumentêr oor vetplantstropery van skaars en endemiese plante wat deel vorm van internasionale en naatloos georganiseerde misdaadsindikate wat nie net die plante nie, maar ook plaaslike inwoners se lewens bedreig. Dit word op Donderdag 17 September uitgesaai.

Die seisoen word afgesluit met Plektrum, ‘n dokumentêr oor die lewe en loopbaan van die kitaarspeler, komponis en veelsydige musikant Mauritz Lotz. Lotz se loopbaan word dikwels gereduseer tot sessie- of agtergrondmusikant, maar hy spog met meer as 4 000 opnames, het homself as tiener geleer kitaar speel en hy spog met Grammy-pryse op sy kaggelrak. Sy komposisies wissel van veelbekroonde teaterproduksies tot rolprentklankbane, ballet en eietydse musiekteater waarvoor hy die kreatiewe lewensaar was. Wat word van hierdie kunstenaars wat dikwels in die skadu van ander staan? Hierdie uur lange dokumentêr kan op Donderdag 24 September (op Erfenisdag) op RSG gehoor word.

Vir meer inligting besoek rsg.co.za of laai RSG se nuwe app af om die dokumentêre programme regstreeks te stroom.

Dis Opera verval Sondagaand om Bafana Bafana se wedstryd uit te saai

Enkele programveranderings is aangebring aan ons Sondag programskedule om die wedstryd van Bafana Bafana teen Kanada op die Los Angeles Stadion uit te saai. Dit is die tweede ronde van die FIFA Wêreldbekersokkertoernooi 2026.

Die kommentator is Udo Carelse met regstreekse kommentaar vanaf JHB Radio Park Mezzanine.

NB! Dis Opera val weg.

Hier is die nuwe programskedule vir Sondagaand:

19:30 – 19:50 Sterre en Planete (Verkort – Volle program beskikbaar op potgooi)

19:50 – Kommentaar (vroeër)

20:50 – Weer: Temperature (vroeër)

20:55 – Nuus: 21:00 bulletin (vroeër)

(Skakel oor na die kommentator Udo Carelse vir Sokkerwedstryd)

21:00 – 23:00 Sokker Wedstryd met Udo Carelse as die kommentator

23:00 – Nuus en weer

23:13 – Tjil

00:00 – Begin Deurnag

Die ‘Agterplaas’ nog steeds vol humor en patos

RSG herhaal eersdaags die gewilde tragikomediese middagvervolgverhaal, Agterplaas, deur die veelbekroonde dramaturg Charles J. Fourie.

Die vervolgverhaal is geskoei op Fourie se gelyknamige treffer-toneelstuk wat vir drie jaar lank tydens verskeie kunstefeeste landwyd opgevoer is. Dit is destyds vir altesame ses kykNET Fiësta-teaterpryse benoem en later ook as ‘n kort fliek vervaardig. Resensente was dit eens dat dit een van die hartroerendste dog vermaaklike toneelstukke is wat nog in Suid-Afrika op die planke gebring is.

In opdrag van RSG het Fourie later die storie uitgebou, nuwe karakters ingesluit en ‘n meesleurende dramareeks geskep wat luisteraars weer vir die volgende twee maande gaan boei.

“Waar ons destyds die stuk voor ‘n gehoor van hoogstens 300 gehoorlede in die buitelug kon opvoer, word dit deur veel meer mense op die draadloos ervaar en gehoor,” sê Fourie.

“Met die verwerking van die stuk vir radio as ‘n vervolgverhaal kon ek ook die gehele wêreld van die oorspronklike karakters verder verken, asook ‘n aantal nuwe karakters bybring.”

DIE STORIE

Die Conradie-gesin verloor hul huis weens pa Frans (Deon Lotz) se aanvanklike werkverlies en die gevolglike drankprobleem waarin hy en sy vrou, Sannie (Frieda van den Heever), mettertyd verstrengel raak.

Hulle beland noodgedwonge in Klets Vermeulen (Lindie Stander) se agterplaas waar hulle in ’n karavaan moet woon saam met hul twee kinders, wat nog albei op skool is.

Frans voer ’n opdraande stryd teen sy drankprobleem en steek alles vir Sannie weg.

Wanneer hul dogter, Rachel (Ilana Cilliers), verklaar dat sy nie meer by hulle gaan woon nie, en skool verlaat, word die gesin se lewens in ’n mallemeule van oorlewing en maatskaplike  verval gedompel. Rachel raak boonop betrokke by die ongure karakter Moolman (Leon Kruger) wat teer op arm meisies wat hy by sy nagklub laat werk.

Wanneer Rachel besluit om te vlug, besluit Moolman om haar te volg. Tydens ’n rusie word Moolman deur een van die verhaal se karakters geskiet.

Rachel neem die skuld op haarself, maar die moordsaak word uiteindelik deur die polisie ondersoek met tragiese gevolge vir almal.

Tussendeur is daar ander karakters soos Klets, wat daarvan droom om ‘n rol in ‘n bekende TV-sepie te vertolk en ‘n aktrise te word. Asook oom Blikkies (Neels Coetzee), wat ook in armoede gedompel is.

Agterplaas deur Charles J. Fourie sal luisteraars ontroer en ’n intieme blik bied op die lewens van daardie leë gesigte wat ‘n mens toenemend  in karavaanparke en op straat by die verkeerslig teëkom.

Die ander spelers is Martin Venter (Pieter), Carel Nel (Nico), Mariechen Vosloo (Alet), Geon Nel (Louw), Johann Nel (Pastoor) en Adri Vivier (Gerda).

Agterplaas is in Kaapstad opgeneem onder spelleiding van Joanie Combrink.  Die tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.

Agterplaas begin op Donderdag 25 Junie om 14:45 op RSG.

Agter vlnr: Johan Nel, Frieda van den Heever, Ilana Cilliers, Joanie Combrink, Martin Venter en Deon Lotz. Voor is Adri Vivier en Lindie Stander.

Luister weer: Ons drama “Liesbet’ neem jou terug na die dae van stoomtreine

Liesbet bring 3 trein-entoesiaste bymekaar. Die akteur Deon Lotz wat as kelner in sy jongdae diens gedoen het op stoomtreine, die byklanke-operateur Frikkie Wallis wat langs ‘n treinspoor grootgeword het, en Leon van Nierop wat ook langs ‘n treinspoor mens geword het, en ‘n paar keer as kind nog in stoomlokomotiewe gery het. Hy het ook as student tussen Johannesburg en Stellenbosch op sulke treine in die vroeg sewentigs gery, ses mense per kompartement!

Met Liesbet (die naam van ‘n lokomotief waarin Koningin Elizabeth volgens oorlewering ook gery het en die fluit getrek het) word die herinneringe van vergange se dae teruggebring, wanneer ‘n ou stoker, Absolom, deur ‘n hotelgroep aangesê word om ‘n lokomotief te restoureer, en toeriste gereeld met ‘n stoomtrein na ‘n stasie te vervoer waar ‘n hotel pas gebou is.

Hy ontmoet ‘n skoolseun, Gieljan, wat disleksies is en wat saam met hom gaan ry. Dié twee het ‘n lewensveranderende invloed op mekaar.

Die idee is gebore toe Leon die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat hy in sy navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Leon van Nierop het ook die regie van Liesbet behartig en beskryf dit as die moeilikste tegniese produksie wat hy nog onderneem het.

Die spelers is Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit.

Liesbet deur Leon van Nierop, Donderdagaand 25 Junie in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Liesbet neem die luisteraar terug na die dae van stoomtreine wanneer ‘n afgeleefde stoker en ‘n seun wat aan disleksie ly, wat in die middel van nêrens van ‘n bus afklim, saam in ‘n lokomotief na ‘n gerestoureerde stasie toe ry en mekaar inderwaarheid op sy eie manier terug restoureer na die lewe.

Ons stasies het meestal verval. Waar daar eers florerende, mooi stasies was waardeur reuse stoomlokomotiewe gery het, is daar deesdae maar min van oor. Maar wanneer ‘n nuwe toeristeroete uitgelê word, word die gesteelde spore vervang en word ‘n stoker opdrag gegee om ‘n legendariese ou lokomotief te restoureer. Terwyl Absalom dit doen, klim ‘n seun met ernstige leer- en leesprobleme (disleksie) van ‘n bus af. Hy kan saam met die stoker na sy eindbestemming in die lokomotief ry indien hy instem om die reuse-staalgedierte te was en te poleer. Gedurende hierdie reis het die twee ‘n onuitwisbare invloed op mekaar. Deon Lotz vertolk die rol van die stoker, en nuweling Rico Immelman is die seun. Dis ‘n unieke reis waar twee mense in 2025 terugreis na die verlede en weer mens word.

Van die regisseur – Leon van Nierop

Die idee is gebore toe ek die boek Op Die Spoorweg deur David Williams gelees het wat ek in my navorsing gebruik het, en waarin jong stokers eers lokomotiewe deurnag moes was en skrop voordat hulle daarmee kon ry. Dit was ‘n tradisie en kom in die drama voor.

Boonop het ek die kans gehad om die gesoute Deon Lotz ‘n Noord-Kaapse aksent te gee, en hom teenoor die 17-jarige Rico Immelman van TV se Spooksoekers te plaas. Daardie kombinasie stemme het nuwe lewe aan die teks gegee. Ook Frikkie Wallis se trein-byklanke waarvan hy sommige self moes vervaardig. Ek het ook iemand ontmoet wat aan disleksie ly en eerstehands kon beskryf hoe moeilik dit is om die letters agtermekaar te plaas. Letters en spoorstawe ontmoet in hierdie drama.