Oud-onnie wen RSG se radiodramaskryfkompetisie

‘n Kaapse skrywer en oud-onderwyser, Adam Willemse (45), is die wenner van die 29ste RSG Radiodramaskryfkompetisie, aangebied in samewerking met die ATKV. Willemse het die kroon gespan met sy radiodrama, Kalahari sterre.

Willemse ontvang R50 000 vir sy wendrama. Hy is ‘n voltydse psigometris en ‘n deeltydse opvoeder in sielkunde. Voorheen van Pretoria, woon hy al amper ‘n dekade lank in Vishoek, Kaapstad.

Die gehalte van verlede jaar se inskrywings was van so ‘n hoogstaande gehalte dat die beoordelaars twee dramas met die gesamentlike tweede prys bekroon het. Hulle is Karin du Toit (45) met Gebakte pere en Ingrid Penzhorn (42) met Suikerbek. Beide ontvang elk R25 000 se prysgeld.

Karin du Toit is haar lewe lank ‘n boorling van Vanderbijlpark en werk al 22 jaar as oogkundige. In 2019 het sy die RSG radiodramaskryfkompetisie gewen met haar debuut-radiodrama, Die lyk.

Ingrid Penzhorn is ‘n patoloog van Kaapstad en het al drie keer vantevore aan die radiodramaskryfkompetisie deelgeneem. Sy was ’n finalis in 2010, jong skrywer wenner in 2012 met Vlug, en wenner in 2014 met Ontnugter.

Jana Nortier (44), tans ‘n Engels-onderwyser in Suid-Korea, ontvang die derde prys vir haar radiodrama, Meeu-rus. Sy is ook bekend as aktrise, skrywer, en storie – en – inhoudskepper. Sy is veral bekend as Sussie in die gewilde sepie Villa Rosa en as Mabel Beeslaer in die fliek ‘n Pawpaw Vir My Darling. Nortier se prysgeld is R15 000.

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) gaan aan J.J. Roberts (28) vir Bloed van my. Roberts, oorspronklik van Upington, is ‘n skrywer en akteur, wat in die RSG vervolgverhaal van Leon van Nierop se Op die oog af gehoor is, en tans ook mede-regisseur van Kortom op RSG. Roberts het R15 000 gewen vir sy radiodrama.

Morné Malan (50), ‘n romanskrywer en tans senior taalpraktisyn en inhoudsbestuurder vir ’n internasionale tegnologiemaatskappy, ontvang die merieteprys vir Tuimelduif. Sy prysgeld beloop R10 000.

Na die eerste ronde van beoordeling kon die finaliste in die kompetisie saam met ‘n mentor-regisseur aan sy of haar inskrywing skaaf, voordat die tweede en finale ronde van beoordeling plaasgevind het. Daar was ook slypskole wat in beide Johannesburg en Kaapstad aangebied is om nuweling- en gesoute skrywers met die nodige radiodrama-vaardighede te bemagtig.

Die ATKV as hoofborg van die kompetisie, het onder andere die slypskoolgeleenthede moontlik gemaak. Die slypskole het bygedra tot die kwaliteit van skryfwerk in vanjaar se kompetisie, asook talle nuwe stemme wat met nuwe radiodramas kon deelneem. Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê “Die ATKV is trots om as hoofborg betrokke te wees by die RSG-Radiodramaskryfkompetisie. Ons doelwit met hierdie projek was om vir skrywers die geleentheid van ’n leeftyd te bied en nuwe stemme in die Afrikaanse radiodrama-genre te bevorder. Omdat die ATKV weet hoe ’n groot rol radio steeds in baie Afrikaanssprekendes se lewens speel, is dit vir ons ’n reuse voorreg om op hierdie manier tot die uitbou en bewaring van ons pragtige taal by te dra. Ons wil graag elke deelnemer vir hul bydrae bedank en die wenners van harte gelukwens met hul uitsonderlike prestasies.”

Die 30ste RSG-Radiodramaskryfkompetisie skop op Dinsdag 20 Januarie af en beloof om ‘n spesiale jaar met groter prysgeld ter viering van drie dekades te wees.

 Vir meer inligting besoek rsg.co.za, asook op Facebook, Instagram en WhatsApp.

Die foto’s hieronder is vlnr: Adam Willemse, Ingrid Penzhorn, Karin du Toit, Jana Nortier, JJ Roberts en Morné Malan.

Terugblik 2

Ons kyk terug op programme wat in 2025 baie luisteraarsreaksie uitgelok het.

Ozempic/diabetes

Vetsug is nou ‘n siekte op sy eie, en dit kan jou doodmaak, sê die wêreld se voorste metaboliese en vetsugkenners. Hoekom kyk kenners nou na vetsug as ‘n aparte siekte? En hoe kan dit pasiënte help?
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-22-januarie-2025

Die feit dat vetsug nou as ‘n aparte siekte beskou word, hou voordele vir pasiënte in, aangesien mediese fondse nou vir die behandeling van vetsug sal betaal. Dit kan dié fondse geld spaar omdat skraler mense waarskynlik minder tipe 2 diabetes, hartaanvalle en verskeie ander obesiteitverwante siektes kan kry.

Ons kyk ook na Tik-Tokkers wat swartmark Ozempic bemark.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-29-januarie-2025

*Kanker

Kate Borthwick se reis met aggressiewe miëloom was nie maklik nie. Sy kon nou, danksy skarefinansiering, met uiters duur, nuwe immunoterepaie begin. Sy ontsnap van haar kankergedagtes deur haar musiek. Sy vertel meer oor haar kanker, haar behandeling en haar musiek aan Marí Hudson.

Die eerlike en onstellende vertelling van ‘n borskankerpasiënt lê bloot hoe ‘n algemene praktisyn en ginekoloog se gebrekkige insig in genetika haar ontneem het om borskanker te keer. Marí Hudson gesels met ‘n borskankerpasiënt, ‘n onkoloog en genetiese raadgewer in die finale episode van die kort reeks oor borskanker en gene.

Het die oorlewingsyfer van kanker verbeter? Watter kankers is nou meer behandelbaar, en watter reageer swak op behandeling? ‘n Chirurg wat met kankerpasiënte werk, en vier pasiënte, vertel van hulle reis met kanker. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-5-februarie-2025

‘n Vrou wat in April 2024 met verspreide longkanker gediagnoseer is, was drie maande later sonder ‘n teken van kanker. Sy is met geteikende medikasie behandel. Hoe werk dit? En waar pas nuwe kankerbehandelings en bestaande chemoterapie en bestraling in?https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-12-februarie-2025

Geteikende kankerterapie kan vir sekere kankers, selfs gevorderde en verspreide kanker, in bedwang bring. Dit word saam met immunoterapie as die kankerbehandeling van die toekoms gereken. Het geteikende kankerbehandeling newe-effekte? Moet ‘n pasiënt dit vir altyd gebruik? Dek jou mediese fonds die nuutste kankertoetse en -behandeling? https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-19-februarie-2025

* Radiologie

Watter soort skandering kan die vet en spiere in jou liggaam meet? En hoe werk al die ander soorte skanderings soos X-strale, CT- en MR-skaderings? Ons kyk ook na fibromialgie, en hoe baie ander probleme uitgeskakel moet word vóór ‘n diagnose van dié pynsindroom gemaak kan word. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-12-maart-2025

Wat sien ‘n radioloog op ‘n breinskandering wat aandui dat die pasiënt ‘n breinbloeding het, en nie ‘n gewas nie? Hoe lyk lintwurmeiers in die brein anders as malkoeisiekte? ‘n Neuro-radioloog verduidelik hoe hy ontleed wat ‘n breinskandering verklap.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-22-oktober-2025

* Artritis

Fibromialgie kán behandel word. ‘n Reumatoloog verduidelik hoe, en gee ook ‘n oorsig oor die verskillende reumatologiese siektes, soos reumatoïede artritis, lupus en nog meer. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-26-maart-2025

Daar is die afgelope 30 jaar soveel vordering gemaak in die behandeling van reumatoïede artritis dat dokters nou min gevalle sien waar pasiënte in rolstoele is. Wat is reumatoïede artritis, hoe word dit gediagnoseer en hoe kan dit nou met middels beheer word? https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-16-april-2025

Hoe diagnoseer reumatoloë spondolo-artritis, lupus en psoriatiese artritis? Kan die agteruitgang en skade wat met dié reumatologiese siektes gepaard gaan, gekeer word? https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-30-april-2025

Jig is een van die mees algemene soort artritissiekte wat ‘n mens kan tref. Sommige bloeddrukmiddels kan die risiko vir uriensuurkristalle in die gewrigte verhoog, en alkohol, vleiskosse en fruktosevrugtedranke ook. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-18-junie-2025

Hoe word chroniese jig behandel? En wat is Polimialgie Reumatica, wat erge spierpyne veroorsaak (erger as die spierpyne met griep), en selfs skade aan ‘n slagaar in jou slape kan aanrig? https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-25-junie-2025

Eerstens kyk ons na die kortisoonbehandeling van polimialgie. Tweedens kyk ons na die tipiese eienskappe van ‘n bedrieër of swendelaar, wat ook die eienskappe van ‘n psigopaat, sosiopaat en narsis is. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-9-julie-2025

Kan natuurlike middels help teen artritissiektes? Kan ‘n virus ‘n outo-immuunsiekte aanskakel? Is daar ‘n verband tussen artritis en Crohn-siekte? Prof. Helmuth Reuter beantwoord dié en ander luisteraarsvrae oor artritissiektes. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-30-julie-2025

Sekere artritismidels kan gebruik word in die behandeling van akute Covid. Hoe werk dit? Ons sluit die reeks oor artritis af, en begin die gesprek oor demensie. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-6-augustus-2025

Demensie

Sekere artritismidels kan gebruik word in die behandeling van akute Covid. Hoe werk dit? Ons sluit die reeks oor artritis af, en begin die gesprek oor demensie. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-6-augustus-2025

Vir die eerste keer is ‘n middel om Alzheimer-siekte te behandel, en selfs om te keer, in die vooruitsig. ‘n Neuroloog praat oor Alzheimer-siekte en ander voms van demensie.

TIK

Die gebruik van Tik is ‘n allemintige en groeiende probleem in Suid-Afrika. Ons kyk na die probleem van beide kante: die straatstorie en die mediese storie. Wat gebeur met iemand wat Tik gebruik, en wat gebeur in sy brein? Tik maak die gebruiker letterlik ‘mal’. Hierdie episode is die eerste in ‘n kort reeks oor Tik.

Met Tik-gebruik word massas dopamien in die brein vrygestel en die senuselle beskadig. Dit lei tot paranoïese skisofrenie, wat tydelik of permanent kan wees. Ons kyk na dieTik-probleem van beide kante: die straatstorie en die mediese storie. Hierdie is die tweede episode in ‘n kort reeks oor Tik.

In die derde aflewering in ons reeks oor Tik, fokus ons op rehabilitasie, en op waarnemings wat tydens die ondersoek aan die lig gekom het.

Terugblik 1: Belangrike Gesondheidsprgramme van 2025

Avontuur/oefening

Adrenalien-junkies sal hierdie vakansie sekerlik ‘n reksprong of twee, ‘n foefieslaaidrit of ‘n ander waagmoedige of opwindende aksie aanpak. Maar waar kom die adrenalien in die liggaam vandaan, en hoe weet die liggaam om meer vry te stel in sekere situasies? Ons kyk na die fisiologie van adrenalien, noradrenalien, die veg-en-vlug-reaksie, kortisol en stres.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-18-desember-2024

* Vroeggebore babas

‘n Baba wat vóór of op 37 weke swangerskap gebore word, is ‘n vroeggebore of premature baba. Dié babas is nog ‘onder konstruksie’ en al hulle organe en stelsels is nog nie volledig ontwikkel nie. Hoe vroeër ‘n baba gebore word, des te groter is die risiko dat iets skeef kan loop. ‘n Pediater van die Tygerberg Neonatale eenheid vertel wat veral met die brein, longe, niere en dermkanaal skeef kan loop.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-8-januarie-2025

‘n Vroeggebore baba is ‘n baba onder konstruksie, en baie dinge kan skeefloop. In deel 2 van ‘n kort reeks fokus ons op die oorsake, risikogroepe, moontlike langtermyngevolge en voorkoming. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-15-januarie-2025

* Orgaanoorplanting

“Ek het elke dag gevoel ek verdrink,” vertel Anchen van Dyk, eienaar van ‘n velsorgkliniek. Sy het ses jaar gelede ‘n dubbele longoorplanting ondergaan. Ons vind uit hoe dit vóór die oorplanting was, en hoe dit nou met haar gaan.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-4-desember-2024

 

* Fertiliteit

Aktrise en Kwêla-aanbieder Therese Bam deel openhartig haar reis van hartseer en vreugde tot waar sy uiteindelik haar babaseun in haar arms kon vashou, danksy skenkereierselle.

Die ouderdom, gehalte en hoeveelheid eierselletjies wat ‘n vrou beskikbaar het, speel ‘n groot rol in suksesvolle vrugbaarheids-behandeling. Daarom is die bevriesing van eierselletjies terwyl die vrou in haar dertigs is, belangrik. Nou is navorsers besig met nuwe metodes om die ge-oeste eierselletjies nóg beter te laat ontwikkel. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-23-april-2025

* Pyn

Een uit elke vyf mense ly aan chroniese pyn. Hoe werk pyn? Wat is normale pyn? Wat loop skeef dat ‘n mens chroniese pyn ontwikkel? https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-26-februarie-2025

Pyn is in jou brein gesetel. ‘n Spesifieke soort chroniese pyn kan vererger indien die chirurg opereer, of deur inspuitings. Maar baie pasiënte en dokters verstaan nie hoe chroniese pyn werk, en hoe om dit te benader nie. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-5-maart-2025

Hoe werk neuropatie? Is dit die gevolg van veroudering, ’n vasgeknypte senuwee, of is daar ander oorsake? Kan dit behandel word? https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-5-november-2025

* Radiologie

Watter soort skandering kan die vet en spiere in jou liggaam meet? En hoe werk al die ander soorte skanderings soos X-strale, CT- en MR-skaderings? Ons kyk ook na fibromialgie, en hoe baie ander probleme uitgeskakel moet word vóór ‘n diagnose van dié pynsindroom gemaak kan word. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-12-maart-2025

Wat sien ‘n radioloog op ‘n breinskandering wat aandui dat die pasiënt ‘n breinbloeding het, en nie ‘n gewas nie? Hoe lyk lintwurmeiers in die brein anders as malkoeisiekte? ‘n Neuro-radioloog verduidelik hoe hy ontleed wat ‘n breinskandering verklap.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-22-oktober-2025

* Narkose

Narkose is nie net om jou aan die slaap te maak nie – dit plaas jou in ‘n koma. Maar narkose is 90 keer veiliger as 60 jaar gelede. Dit is enkele van die interessanthede wat aan die lig gekom het in ‘n gesprek met ‘n internasionaal bekende narkotiseur. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-2-april-2025

* Rugoperasie

As die tussenwerwelkussing uitdruk teen die senuwee, word nuwe ruimte geskep deur die agterste middeldeel van die werwel te verwyder

‘n Ortopeed van die Paarl was een van die eerstes in Suid-Afrika en die wêreld om met ‘n nuwe tweesleutelgat-prosedure rugoperasies soos fusies te doen. Al meer ortopede leer nou dié tegniek aan. Dit behels ‘n kwaai leerkurwe. Hoe weet die pasiënt of die ortopeed al vaardig genoeg is om dié prosedure op lewende mense uit te voer? https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-17-september-2025

‘n Aksiebelaaide middagvervolgverhaal vir 2026

RSG begin die nuwe jaar met ‘n nuwe middagvervolgverhaal, Faksie, deur Ilne Fourie, wat vanaf 5 Januarie elke weeksdag om 14:45 uitgesaai word.

Fourie is geen vreemdeling vir aanhangers van radioteater nie, en is bekend vir haar spitsvondige komiese dialoog.

In Faksie het Ilne ‘n spannende, aksiebelaaide storie geskep.

Die ervare regisseur, Joanie Combrink gee die storie lewe.

Van die akteurs wat gehoor kan word is  Deon Lotz, Jacques Bessenger, Stefan Vermaak, Wilhelm van der Walt, Roeline Daneel, Conradie van Heerden, Marinda Botha, De Klerk Oelofse, Ilne Fourie, Rene Cloete en André Samuels.

Luister hier na Phil Loots se onderhjoud met Ilne Fourie: https://omny.fm/shows/driesestig-1/ilne-fourie-se-faksie-op-rsg

Ontmoet Du Preez-familie van Fortuna Trans

Faksie nooi die luisteraar in die sakewêreld en milieu van die Du Preez-familieonderneming, Fortuna Trans BPK, in.  Die Engelse gesegde lui nie verniet: “It’s a dog eat dog world…” nie.  Hierdie familie is net so koud en blink van buite soos die chroom-en-staalgebou van waaruit hulle hul sakeryk regeer. Die storie speel af in die hartjie van Johannesburg, die Stad van Goud. Dit is hier waar die slagtande tussen drie broers begin wys, en waar bloed nie dikker as water is nie.

Cor (Wilhelm van der Walt) is die aangenome seun van Laurinda (Marinda Botha) en Piet (Deon Lotz) du Preez. In ‘n gesin waar ‘n stiefbroer die derde lid van die  driemanskap van broers uitmaak,  is wedywering onafwendbaar. Stefan (Jacques Bessenger) en Rian (Stefan Vermaak) is Cor se stiefbroers. Elke broer vervul ‘n spesifieke rol in Fortuna Trans, en hulle is ‘n gedugte span.  Met hulle pa, Piet, aan die stuur van sake kan niks kwansuis skeefloop nie. Elke broer is egter van meet af aan besig met sy eie gekonkel binne die strukture van die besigheid – met verreikende gevolge.

Piet het ‘n swakheid vir die skoner geslag en dit kan hom duur te staan kom as hy nie versigtig  is nie. Maureen de Lange (Ilne Fourie) was 24 toe Piet haar aangestel het by Fortuna Trans. Sy werk al 31 jaar vir die maatskappy en het ‘n besondere sagte plek vir Cor. Anika (Karle Briedenhann) is die oorywerige jong sekretaresse wat vir Piet iets vir die oog verskaf, alhoewel sy haar visier op Cor het.

Soos enige familieryk moet daar ‘n erfgenaam wees om die leisels oor te neem. Norman (Conradie van Heerden) is Stefan en Janine (Roeline Daneel) se enigste seun en Piet en Laurinda se kleinseun. Norman is in sy matriekjaar en moet besluit wat hy met die res van sy lewe wil doen. Hy kry ‘n vakansiewerkie in Fortuna Trans as sy oupa se selfaangestelde inligtingstegnologiebeampte wat hom in kontak bring met iemand wat hom nie goedgesind is nie.

Shorty (De Klerk Oelofse) is Fortuna Trans se hoofwerktuigkundige en dryweropsigter. Die regte  kanale is nie gevolg met Shorty se aanstelling nie. Cor en Shorty was saam op skool en so het Cor hom met vervalste kwalifikasies deur die proses gedruk. Dié twee verdien ekstra inkomste met oorgrenssmokkelary. Met elke sending word die pap dikker aangemaak.

Arend Fillis (Heinrich Franse) begin as vakleerling onder Shorty werk en ontdek ongerymdhede wat oor ‘n lang tyd strek. Hy wys dit uit, en verwys dit na senior lede van die personeel.

Sandra Jacobs (Rene Cloete) is die vurige menslikehulpbronbeampte wat Arend beskerm en onverskrokke die waarheid nastreef.

‘n Smokkelsending ontvou met lewensgevaarlike oomblikke wat vir sommiges goed uitwerk, en vir ander die einde beteken. Sersant Allister Fortuin (André Samuels) moet die saak ondersoek om agter die kap van die byl te kom.

Faksie beloof om luisteraars vasgenael te hou tot die laaste episode.

Faksie,  deur Ilne Fourie, word vanaf 5 Januarie weeksdae om 14:45 op RSG uitgesaai.  Dit word ook aanlyn uitgesaai op die webwerf,  rsg.co.za en SABC PLUS. Elke episode is na afloop van die uitsending ook op potgooi beskikbaar op rsg.co.za en op Spotify.

Therese Bam se reis van hartseer en uiteindelik vreugde om klein Jack in haar arms se hou danksy skenker-ova

Aktrise en Kwêla-aanbieder Therese Bam deel openhartig haar reis van hartseer en vreugde tot waar sy uiteindelik haar babaseun in haar arms kon vashou, danksy skenkereierselle.
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-24-desember-2025

Die ouderdom, gehalte en hoeveelheid eierselletjies wat ‘n vrou beskikbaar het, speel ‘n groot rol in suksesvolle vrugbaarheids-behandeling. Daarom is die bevriesing van eierselletjies terwyl die vrou in haar dertigs is, belangrik. Nou is navorsers besig met nuwe metodes om die ge-oeste eierselletjies nóg beter te laat ontwikkel. https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-23-april-2025

Midas-musiek, raakpraat-gesprekke en rymklets in nuwe jaar op RSG

RSG lui die nuwe jaar in met ‘n reeks boeiende reekse, wat insluit Ons praat dit uit met ds. PC Pretorius as die aanbieder, die sesde reeks van Die Midas van Musiek met Kobus Burger asook die bekroonde musikant en TV-aanbieder Frazer Barry wat die land gaan deurkruis in die vierde reeks van Rymklets sonder grense.

In Rymklets sonder grense, Donderdag 1 Januarie weekliks om 20:30, gesels Barry met verskeie rymkletsers verskeie rymkletsers oor onder andere die impak van kunsmatige intelligensie op die rymkletskultuur en hoe dit deur produksieleiers benut word.

Hy vra, hoekom gebruik talle van die jong rymkletsers deesdae meer en meer skoktegnieke om gehore te lok en hoe beïnvloed tronk- en bendetaal die eietydse musiek? Terselfdertyd is daar ‘n groot oplewing in Afrikaanse gospel-rymkletsmusiek, wat reeds groot aanhang geniet. Met die gehalte van rymklets wat met rasse skrede toegeneem het, gaan Barry RSG se luisteraars aan al die nuwe musiek, kunstenaars en tendense bekend stel.

Kom ons praat dit uit, vanaf Sondag 4 Januarie weekliks om 19:00, gaan gaan ds. PC Pretorius met Flip Loots as die regisseur, na onderwerpe soos selfbesering, verwerping, dwelms, geloofsonsekerhede, boeliegedrag, eensaamheid, liefdesprobleme en onbeheerbare gewelddadige gedrag kyk.

Die TV-aanbieder en radio-omroeper Lyntjie Jaars gaan oor selfbesering praat en die skrywer Ivor Swartz laat val die kollig op boeliegedrag. Ander gaste sluit in dr. Gustav Gous, prof. Nico Koopman, ds. Ivor Jefferies, ds. Trevor Links en dr. Rodney Seale.

Die sesde reeks van die gewilde Die Midas van Musiek begin op Sondag 4 Januarie om 14:00, met RSG se programbestuurder, Kobus Burger, wat weer agter die mikrofoon sal inskuif.

In hierdie splinternuwe reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos die Goombay Dance Band, Marilyn Monroe, The Platters, Johnny Cash, The Pointer Sisters, David Kramer, Vicky Leandros, Diana Ross & The Supremes asook die Gipsy Kings gehoor word.

In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.

Die maatstaf vir sukses in die popmusiekbedryf is dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle noodwendig daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.

Hierdie reeks stel nóg van hierdie Midas-musikante bekend en is ‘n voortsetting van die eerste, gewilde reeks wat sewe jaar gelede op RSG gebore is.

Volgens Kobus Burger sal daar suiwer nostalgie, verfrissende feite asook ‘n paar verrassings wees.

“Elke Midas-program is ’n ‘storie’ in die kleine. Dit verras my telkens as luisteraars my vir die stories, pleks van die meesleurende musiek en immergroen liedjies bedank,” sê Kobus.

“Die samestelling van Die Midas van Musiek is gewoonlik ‘n opwindende snuffeltog. Buiten die musiek – waarvan daar gewoonlik hopeloos te veel is om van te kies – is dit soos om vir ‘n paar dae in die voetspore van ‘n besonderse kunstenaar te loop en dan ietsie van daardie ontdekkingstog in klank te deel. Ek sien daarna uit om weer Sondae saam met die luisteraars te reis en hul luilekker middae met Midas se goud te omboor.”

Luister van Sondag 4 Januarie 2026, elke Sondagmiddag om 14:00, na Die Midas van Musiek met Kobus Burger.

‘n Wonderwerk vir Kersfees – ‘n kreatiewe Kersverhaal

Luister op Kersdag na ‘n Wonderwerk vir Kersfees deur Riana Scheepers, met Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Anrich Herbst, Dean Balie en Rolanda Marais en Johan Rademan as die regisseur.

Dis Oukersdag, ‘n boom word versier, kerse word aangesteek, en ‘n feesmaal word voorberei vir die klein Barnard gesin en Chrisjan.

Die karakters wens elk vir hulle eie wonderwerk en dit is die katalisator wat ‘n wonderwerk vir almal laat gebeur. Vir sommiges goed en vir ander minder goed. Al die elemente van die Kersverhaal is kreatief verweef in hierdie besondere storie, wat losweg gebaseer is op werklike gebeure.

Die “wonderwerk” in hierdie drama is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis, wat die inspirasie vir die verhaal is. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ‘n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief.

https://omny.fm/shows/radioteater/n-wonderwerk-vir-kersfees-deur-riana-scheepers

Die storie
Tannie Sara (Joanie Combrink) is ‘n weduwee en bedryf ‘n padwinkel wat groente, vrugte, tuisgemaakte produkte, melk en eiers verkoop.

Wilhelm (Dean Balie), haar seun, help haar op die plot. Sy ideaal is om eendag sy ma te ondersteun as sy moet rus. Wilhelm is begaafd en wil graag gaan studeer met die bietjie geld wat hy en sy ma bymekaar kon maak.

Marie (Mariechen Vosloo) is Sara se dogter en hoog swanger.

Wilhelm het nie een goeie woord vir sy suster en haar kêrel, Chrisjan (Anrich Herbst), nie. Chrisjan identifiseer homself as ‘n profeet wat gedurig die Woord voorhou as sy morele kompas. Hy sien ‘n eienaardige ooreenkoms tussen Marie se swangerskap en die van Maria met die geboorte van Jesus.

Hy en Marie is nie getroud nie, maar onderneem om die kind groot te maak asof hy die Messias is.

Chrisjan se bedoelings is vaag en daar kan gewonder word oor sy lojaliteit teenoor die Barnard gesin. Wilhelm begin dit agter kom, maar Sara probeer net die vrede bewaar ter wille van die gesin

Kersdag om 15:00 op RSG of rsg.co.za en na afloop van die uitsending beskikbaar as potgooi of op Spotify.

Vrolike en vurige gerf feestydprogramme op RSG

Feestyd word vanjaar luisterryk op RSG gevier met regstreekse opnames van Jak de Priester se Glasiewynfontein tydens vanjaar se Woordfees, braaityd-kuierprogramme met Ettienne Ludick en ‘n spesiale keur van gewilde programme asook gewilde reekse wat herhaal word.

Programme soos Op en Wakker geniet vanaf Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie ‘n welkome blaaskans, maar luisteraars kan uitsien na ‘n keur van RSG se programbestuurder Kobus Burger se Midas van Musiek-reeks. Kunstenaars soos Phil Collins, Cher, Tracy Chapman, Neil Diamond, Laurika Rauch en die James Bond-klankbaankomponis John Barry se grootste treffers sal elke weekoggend net na 07:00 gehoor word. Die vyfde reeks van Midas van Musiek het vroeër vanjaar op RSG gedebuteer en belig die musiek en talent van kunstenaars wat soos die mitologiese koning Midas die gawe het of gehad het om dit wat hulle aanraak, in goud te laat verander.

Net na 08:00 gaan ‘n keur van Eloise Cupido se gewilde Goue Oues-programme gehoor word met saamsing-treffers van die jare 80 en 90.

Van Maandag 22 Desember tot Vrydag 26 Desember om 12:00 – maar nie op Kersdag nie – word ‘n paar gewilde en bekroonde radiodramas soos Hendie Grobbelaar se Leniesgif uitgesaai. Die ander dramas sluit in Ontruim, Ons gaan huis toe en Die somer van 56.

RSG Sport gaan ook vir twee weke lank rus en daarom word daar op Saterdag 27 Desember om 17:00 ‘n spesiale opname van Jak de Priester se Glasiewynfontein uitgesaai. Hierdie keer gesels hy met Hentie de Wet van Hentie’s Juices oor Desembervakansies, dansliedjies, liefdesliedjies asook sy allergunsteling.

‘n Uur later gaan Ettienne Ludick die braaivleisvure aansteek met die beste partytjiemusiek. Luisteraars kan via WhatsApp-stemnota’s hul gunstelinge versoek.

Van Maandag 29 Desember tot Vrydag 2 Januarie om 12:00 word ‘n reeks gewilde dokumentêre programme oor onder andere Anton Goosen, Taco Kamstra, Laurika Rauch en die Bergklub van Suid-Afrika uitgesaai. Tharien Oosthuizen se uurlange dokumentêr, Die kleur van lakens, wat vroeër vir ‘n gesogte Telkom SA Radioprys benoem is, word op Vrydag 2 Januarie om 12:00 uitgesaai.

Een van 2025 se heel gewildste programme en reekse was Allan se stories waarin Sue Pyler-Slabbert saam met die akteur, stemkunstenaar en wêreldreisiger Allan Dyssel deur sy lewe en ervarings gereis het aan die hand van spesiale musiekkeuses. Reeds sedert die eerste uitsending is RSG oorval met versoeke vir ‘n herhaling. Allan se stories sal van Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie om 18:00 uitgesaai word. Luisteraars sal vroegaand na twee episodes op ‘n slag kan luister.

Op Saterdag 3 Januarie om 17:00 is Jak de Priester terug met nog ‘n opname van Glasiewynfontein en hierdie keer kuier hy saam met die befaamde kunstenaar Portchie, wat vanjaar sy 35ste jaar in die kunstewêreld vier. Portchie, wat deesdae op Stellenbosch woon, deel sy stories en musiek. Net daarna sal Ettienne Ludick weer die vure en deuntjies laat knetter met sy spesiale braaiprogram.

Van Maandag 22 Desember tot Vrydag 2 Januarie sal Spektrum, Brandpunt asook Geldsake met Ryk van Niekerk ‘n blaaskans geniet, maar alle programme en die gewone RSG programskedule word vanaf Maandag 5 Januarie hervat.

Vir meer inligting besoek RSG se webblad by rsg.co.za.

“Musiek het my gehelp om te ontsnap” – Kate Borthwick gesels oor haar reis met kanker en haar musiek

Kate Borthwick is in 2022 met aggressiewe miëloom gediagnoseer.

Sy kon danksy ‘n skare-fondsinsameling wat deur haar suster, Hannah begin is, begin met uiters duur nuwe immunoterapie. Vorige behandelings – chemoterapie en ‘n beenmurgoorplanting – het nie tot voldoende remissie gelei.

Sy het midde-in die behandeling met Mari Hudson gesels oor haar reis met kanker, wat baie pyn ingesluit het, en haar musiek, wat haar help om van donker gedagtes te ontsnap.

Luister hier na die program:
https://omny.fm/shows/gesondheid/gesondheid-17-desember-2025

Sy komponeer klankbaanmusiek.

Luister hier na twee van haar komposisies. 

Nana
https://youtu.be/W-yNRYr4g1s?si=R7EyoWCEcc3UJFY0

Imaginarium
https://youtu.be/fRMvBMXSBpc?si=MM8HPPEj2uQXrQAO

Ikoniese “Pendoring Edms Bpk” weer op RSG uitgesaai   

Luister Donderdagaand na Pendoring (Edms) Beperk deur Ampie van Straten.

Dit skep ‘n komiese blik op die beheptheid met korrekte taalgebruik. Baie relevant in die jaar wat Afrikaans 100 jaar vier.

https://omny.fm/shows/radioteater/pendoring-edms-beperk-deur-ampie-van-straten

Pendoring Eiendoms Beperk het twee pryse gewen waaronder die SAUK-prys vir radio dramas en radio dokumentêre by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1977.

Die radiodrama fokus op die eksentrieke kopieskrywer Gert Klopper, gespeel deur Matthys du Toit, wie se passie vir Afrikaans – wat hy liefderik beskryf as sy “meisie” – bots met konvensionele taalreëls.

Die relaas is sprankelend, vol woordspeling en taalhumor, en dit laat ‘n mens dink oor hoe mense taal gebruik en soms misbruik.

Katinka Heyns as Sarie, ’n jong vrou wat by Gert kom werk, is geboei deur sy ongekunstelde, avontuurlike taalgebruik en sy sjarmante uitlatings (oor sy taalliefde én haar gemmerkoekies!). Hulle  humoristiese en hartlike verhouding is die hooffokus van die verhaal.

Die rolverdeling is

Sarie – Katinka Heyns,

Gert – Matthys du Toit,

Arno Kotze, Martie Lee, Paul Eloff, Francois Nel, Hennie Oosthuizen, Will Bernard, Francois de Bruin, Willie Pretorius, en Allewyn Lee.

Roelf Jacobs het die regie behartig en die klankbaan is opgeneem met ‘n lewendige orkes onder leiding van Theo Erasmus.

Na afloop van die uitsending sal die opname beskikbaar wees op potgooi en Spotify

 Die radiodrama, Pendoring Eiendoms Beperk, deur Ampie van Straten is op 2 November 1975 die eerste keer uitgesaai. Dit is die jaar wat Afrikaans  50 jaar ‘n amptelike taal was, en dit was ook die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument. In die jaar wat Afrikaans se eeufees as amptelike taal gevier is, is dit gepas om dié radiodrama uit die argief op te diep.

Ná Pendoring (Edms) Beperk het nog twee titels, Pendoring en Kie en Pendoring en Seun, gevolg om die Pendoring trilogie te voltooi. Ampie van Straten is met dié radiodrama verewig as ‘n invloedryke skrywer van sy tyd.

Erika Terblanche se skrywe oor Ampie van Straten (1937-1997) op LitNet (2014) haal die volgende aan uit  ‘n 1988-onderhoud met Van Straten in die Kaapstadse Bibliotekaris, oor die inspirasie vir die Pendoring radiodramas: “Dit het ontstaan in my jare in die reklamewese. Ek het vroeg-vroeg agtergekom dat sekere ongesofistikeerdes hoë woorde gebruik om te kompenseer vir die gemisse wat hulle in hulself aanvoel. Hulle sê nie sommer net iets nie: hulle maak gewag daarvan, opper die feit, bring dit te berde, lug die opinie, is die mening toegedaan … dat dit baie warm is. Soos die rugbykommentator wat nooit sê Naas Botha skop van die kwartlyn nie; nee, hy neem die skop van die kwartlyn af waar. Soos die dame wat meen dis ‘plat’ om te sê iets is te kry by alle goeie apteke. Jy moet sê dis verkrygbaar by alle goeie apteke.”

Pendoring (Edms) Beperk deur Ampie van Straten word Donderdagaand 18 Desember om 20:00 op RSG uitgesaai. Dit kan ook aanlyn gehoor word op die webwerf rsg.co.za. Na afloop van die uitsending sal die opname beskikbaar wees as potgooi op rsg.co.za en op Spotify.