Skip to content

Joshlin – meer as ’n naam lui die RSG Radioteater seisoen in

RSG NOU

Joshlin – meer as ’n naam lui die RSG Radioteater seisoen in

Joshlin – meer as ’n naam lui die RSG Radioteater seisoen in

In Joshlin – meer as ’n naam word ’n ma, Kendra Jacobs, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun, Isaac tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van publieke opinie en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het.

Teen die agtergrond van ’n gemeenskap wat vinnig oordeel, word die verhaal ook ’n ondersoek na die vele vorme van kinderuitbuiting en mensehandel, en na hoe maklik ’n vermiste kind se verhaal deur sensasie en openbare verontwaardiging oorgeneem kan word. Joshlin – meer as ’n naam is uiteindelik ’n verhaal oor kinders wat verdwyn, die mense wat na hulle soek, en die vraag hoeveel van ons almal verantwoordelikheid dra vir die veiligheid van ’n kind.

Die regisseur is Johan Rademan. Die stemme van Zenobia Kloppers, Kay Smith, Miche van Wyk, Dean Balie en Denver Vraagom kan gehoor word. Nuwe stemme uit die Proscenium dramakompetisie-stal is Adri-Jo Waterboer, Leighmen Marshall, Chriswell Kotze, Bronwynne, Neer en Bronwyn Damon.

Ons moet onsself vra –  wat as Joshlin se verhaal nie net háár verhaal is nie?

Joshlin – meer as ’n naam kyk verby die opslae en die sensasie. Dit draai die spieël na óns. Na elke ouer. Elke buurman. Elke gemeenskap.

Want terwyl ons vra: Waar is Joshlin? is daar ’n groter vraag wat ons almal moet antwoord:

Wat doen jy om die kind in jou straat veilig te hou?

’n Kragtige radio-ervaring wat nie net ’n vermiste kind se verhaal vertel nie, maar ons dwing om te vra hoe ver ons bereid is om te gaan om ’n kind te beskerm.

Dean Balie en Adri-Jo Waterboer

Kay Smith en Adri-Jo Waterboer
Proscenium deelnemers agter die mikrofoon
Bronwyn Damon, Chriswell Kotze, Bronwyn Neer, Johan Rademan Leighman Marshall, Adri-Jo Waterboer
Johan Rademan, Veronique Jephtas, Zenobia Kloppers, Miche van Wyk, Adri-Jo Waterboer, Bronwyn Neer, Kay Smith

Deel nou