Dis weer tyd vir die Toyota Stellenbosch Woordfees, en die RSG/ATKV-vierkant beloof om ’n gewilde bymekaarkomplek vir mense en stories te wees. Die RSG/ATKV-vierkant word vanjaar vir die tweede keer aangebied en is ’n kombinasie van regstreekse radio, musiek, gesprekke, literatuur en kinderaktiwiteite. Hierdie inisiatief gee prakties gestalte aan die ATKV se doel om Afrikaans te laat leef – nie net as ’n taal wat ons praat nie, maar as ’n taal waarin ons stories vertel, musiek maak, gesprekke voer, lees, skep en saam kuier. Lees hier meer:
Die RSG/ATKV-vierkant word vanjaar vir die tweede keer by die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.
Kom kuier saam by die RSG/ATKV-vierkant
Stellenbosch het klaar sy feesklere aan en wag geduldig op besoekers om alles wat Afrikaans is te kom vier. Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind vanjaar van 3 tot 10 Oktober plaas en die RSG/ATKV-vierkant gaan ’n gesellige kuierplek by die Universiteit Stellenbosch-museum wees.
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie van die ATKV, vertel dat die idee vir die RSG/ATKV-vierkant ontstaan het uit die behoefte om meer as net ’n regstreekse uitsaaiplek by die fees te hê. “Ons wou ’n ruimte skep waar mense kan kom kuier, luister, gesels en werklik deel van die feeservaring wees,” noem sy.
Die US-museum is daarby sentraal en ’n ideale informele en toeganklike kuierplek vir feesgangers, gesels Mercia.
“Ons wil ’n warm en gesellige atmosfeer skep – ’n plek waar stories, musiek en mense bymekaarkom. Dit is ook belangrik dat daar iets vir verskillende ouderdomme en belangstellings is: van storietyd vir kinders en literatuur tot musiek, gesprekke en regstreekse radio-uitsendings.”
Mercia sê dis ’n plesier om saam met RSG te werk. “RSG en die ATKV is reeds verskeie jare afsonderlik by die Woordfees betrokke. Die groot ontwikkeling was om van bloot ’n plek waar radio uitgesaai word, na ’n volwaardige kuier- en kultuurruimte te beweeg. Die RSG/ATKV-vierkant word vanjaar vir die tweede keer aangebied en is ’n kombinasie van regstreekse radio, musiek, gesprekke, literatuur en kinderaktiwiteite.”
Amoré Swanepoel, bemarkingsbestuurder van RSG, beaam Mercia se woorde en sê die projek is ’n heerlike samewerking tussen RSG en die ATKV. “Ons snoer ons kragte saam om ’n lekker aanbieding vir mense te bied, en dit is boonop gratis. Daar gaan interessante praatjies en optredes wees, maar ook regstreekse uitsendings wat vir mense wys hoe radio gebeur. Dis beslis ’n aanbieding wat jy nie kan misloop nie.”
“Ons saai regstreeks vanaf die vierkant uit met gewilde programme soos Op en Wakker, Spektrum, Kommentaar, Driesestig, Naweekaktueel en RSG-Landbou. Ons is veral opgewonde dat Op en Wakker vanjaar vir die eerste keer Woordfees toe gaan. Ons was ook op die Kultuurkaravaantoer met die program, en luisteraars het dit baie geniet om die aanbieders, Gustav Greyling en Renske Jacobs, te ontmoet,” sê Amoré.
“Ons het ook gewilde samewerkingsplatforms saam met die ATKV by die KKNK en Innibos het, en hul betrokkenheid by die 2026 Toyota Stellenbosch Woordfees bly spesiaal. Dit is vir ons ’n groot lekkerte om by ons luisteraars uit te kom en die feeste bied ’n platform daarvoor. Ons kan met ons luisteraars gesels oor dit waarvan hulle hou en nie hou nie en meer oor hul passies en lewens uitvind.”
Volgens Mercia gee die vierkant prakties gestalte aan die ATKV se doel om Afrikaans te laat leef – nie net as ’n taal wat ons praat nie, maar as ’n taal waarin ons stories vertel, musiek maak, gesprekke voer, lees, skep en saam kuier.
“Dit is vir ons belangrik dat Afrikaans ’n lewende en inklusiewe taal van deelname bly, en daarom probeer ons mense van verskillende ouderdomme en belangstellings by die ruimte betrek. Kinders kan na stories luister, jongmense en volwassenes kan kunstenaars en gesprekke ervaar, en RSG kan sy verhouding met sy luisteraars verder uitbou.”
Die program by die RSG/ATKV-vierkant:
Saterdag 3 Oktober
10:00 – Christelle Webb-Joubert gesels met verskeie gaste
13:00 – RSG: Naweekaktueel
14:00 – Jak de Priester
Sondag 4 Oktober
10:00 – Die Reine Wynheid met Martelize Brink, gaste en verskeie kunstenaars
14:00 – Deon Meiring
20:00 – RSG: Kommentaar
Maandag 5 Oktober
07:00 – RSG: Op en Wakker
10:00 – Deon Meiring
11:00 – Selby Williams
12:00 – RSG: Spektrum
13:00 – RSG: Driesestig
17:15 – Via: Bier-uur
Dinsdag 6 Oktober
07:00 – RSG: Op en Wakker
10:00 – Frieda van den Heever
11:00 – Christelle Webb-Joubert
12:00 – RSG: Spektrum
13:00 – RSG: Driesestig
15:30 – RSG: Kuns met Kontant
17:15 – Via: Bier-uur
Woensdag 7 Oktober
07:00 – RSG: Op en Wakker
10:00 – Anna Davel
11:00 – Mathys Roets
12:00 – RSG: Spektrum
13:00 – RSG: Driesestig
15:30 – RSG: Kuns met Kontant
17:15 – Via: Bier-uur
Donderdag 8 Oktober
07:00 – RSG: Op en Wakker
10:00 – Joshua na die Reën
11:00 – Jak de Priester
12:00 – RSG: Spektrum
13:00 – RSG: Driesestig
15:30 – RSG: Kuns met kontant
17:15 – Via: Bier-uur
Vrydag 9 Oktober
07:00 – RSG: Op en Wakker
10:00 – RSG-Landbou
11:00 – Stephanie Baartman
12:00 – RSG: Spektrum
13:00 – RSG: Driesestig
Saterdag 10 Oktober
10:00 – RSG-Landbou
11:00 – Almero Welgemoed
12:00 – Leon Ferreira
13:00 – RSG: Naweekaktueel
14:00 – Petronel Baard