Volgens Missing Children SA verdwyn een kind elke vyf uur in Suid-Afrika. 77% van kinders wat as vermis aangemeld word, word gekry, maar 23% word òf nooit gevind nie, òf in kinderhandel gebruik, òf sterf.
Die verdwyning van Joshlin Smith het die land diep geruk – nie net oor die misterie nie, maar oor die skokkende moontlikheid dat ’n kind deur diegene wat haar moes beskerm, verraai kan word. Hierdie werklikheid vorm die hartklop van RSG se nuwe radiodrama, Joshlin – meer as ’n naam, wat op 1 Oktober om 20:00 begin.
Die drama, geskryf deur Herschelle Benjamin en vir radio verwerk deur Henriëtta Gryffenberg, kyk verder as die opslae. Dit vra die vraag wat elke Suid-Afrikaner moet beantwoord: “Wat doen ons om die kind in ons straat veilig te hou?”
In Joshlin – meer as ’n naam word ’n ma, Kendra Jacobs, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun, Isaac tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van publieke opinie en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het.
Teen die agtergrond van ’n gemeenskap wat vinnig oordeel, word die verhaal ook ’n ondersoek na die vele vorme van kinderuitbuiting en mensehandel, en na hoe maklik ’n vermiste kind se verhaal deur sensasie en openbare verontwaardiging oorgeneem kan word. Joshlin – meer as ’n naam is uiteindelik ’n verhaal oor kinders wat verdwyn, die mense wat na hulle soek, en die vraag hoeveel van ons almal verantwoordelikheid dra vir die veiligheid van ’n kind.
Regisseur Johan Rademan beskryf hierdie werk as deel van ’n kreatiewe nalatenskap wat terugstrek na sy werk met ikoniese tekste soos Die kind is nie dood en Kanna hy kô hystoe. Hy sê die drama sluit aan by ’n generasie kunstenaars wat deur dekades heen die stemme van kinders, gemarginaliseerde mense en uitgelewerde gemeenskappe op die luggolwe laat leef. Vir hom is Joshlin ’n voortsetting van daardie stryd, ’n herinnering dat die veiligheid van ’n kind nooit net ’n privaat saak is nie, maar ’n kollektiewe verantwoordelikheid.
Rademan beklemtoon dat Herschelle Benjamin se teks “fyn en slim gestruktureer” is, en dat Henriëtta Gryffenberg se verwerking vir radio die stuk ’n aangrypende nuwe dimensie gee. Sy benut die medium se intimiteit en skep ’n magiese realisme waarin Ingrid Jonker se Die kind soos mis oor die Weskus deur die verhaal verweef word – ’n poëtiese, maar skerp herinnering aan die kwesbaarheid van kinders. Die kinderkoor, die klankwêreld en die spel skep saam ’n atmosfeer waarin die luisteraar nie kan wegkyk nie.
Vir Rademan is die drama ’n direkte oproep tot aanspreeklikheid: ‘n konfrontasie met die vraag hoeveel ons werklik doen om kinders te beskerm. “Joshlin is meer as ’n naam,” sê hy. “Sy is elke kind, en elke kind verdien ’n gemeenskap wat nie wegkyk nie.”
Wat akteurs betref, vra Joshlin iets anders, die humor van ‘n ou Tantetjie, Zenobia Kloppers. Die slegtes en goeies in n gemeenskap, vertolk deur verhoog en sepiesterre, Dean Balie, Denver Vraagom, Veronique Jephtas, Miche van Wyk en Kay Smith.
Kendra en die 4 kinders moet inskakel by gesoute radiospelers met hul vuurdoop debute by die mikrofoon in ‘n radiodrama-ateljee.
’n Baie spesiale aspek van hierdie produksie is dat verskeie spelers hul oorsprong het in die Proscenium‑program, ’n internasionaal-erkende ontwikkelingsplatform vir jong akteurs. In dié drama word hulle êrens langs die pad kinders wat jou uitdaag, konfronteer en emosioneel geroer agterlaat.
Adri-Jo Waterboer se spel, waaraan ‘n groot gedeelte van Joshlin – meer as ‘n naam se sukses hang, lewer voortreflike en treffende werk. Bronwyn Damon, Bronwynne Neer, Chriswill Kotze en Leighmen Marshall se skole en tersiëre inrigtings moet hulle in watte toedraai. Hulle begryp, verstaan en vertolk uitmuntend.
‘n Drama soos dié vereis ook ‘n klankbaan met weldeurdagte emosie en gravitas. Louis van Rensburg het sy deel met Kanna gedoen, maar wie sou opstaan vir Joshlin en al die verlore kinders van die wereld? Niemand anders as Frazer Barry, wat ook musiek in die verhoogproduksie beskikbaar gestel het. Hy haak die knoop deur en lewer n skitterklankbaan, plek-plek ondersteun deur Jolyn Phillips, wat jou koue rillings sal gee.
Rademan sê dat min dramas só diep aangrypend is, selfs vanuit die regisseurstoel: “Jy kom gekneus, gewond en amper geestelik afgetakel aan die ander kant uit, met een van die kragtigste relevante en toepaslikste dramas van ons tyd in Afrikaans.”
Joshlin – meer as ’n naam word op Donderdag 1 Oktober 2026 om 20:00 op RSG uitgesaai.