Skip to content

RSG verwelkom nuwe aanbieder van “Loof die Here”

RSG NOU

RSG verwelkom nuwe aanbieder van “Loof die Here”

RSG verwelkom nuwe aanbieder van “Loof die Here”

‘Johannesburg, 28 September 2026 – RSG verwelkom met trots vir AJ Maree as die nuwe aanbieder van die immergewilde geestelike program Loof die Here. Hy sal op Sondag 1 November 2026 tussen 8h00 en 9h00 sy eerste program aanbied – ’n blinknuwe en opwindende seisoen vir ’n ou gunsteling wat reeds vir meer as vyf dekades lank luisteraars jonk en ouer op ‘n inspirasie- en verrykingstog begelei.

AJ se aanstelling volg ná Magdaleen Krüger se besluit om ná 7 jaar agter die Loof die Here-mikrofoon op 27 September die tuig neer te lê om haar aftrede ten volle te geniet. Magdaleen se afskeid het ’n merkwaardige era afgesluit, en juis daarom word die maand van Oktober ’n besonderse huldeblyk aan die ryke geskiedenis van die program voordat die nuwe seisoen in volkleur en -klank afskop.

AJ is ’n toegewyde musiekliefhebber, wiskunde‑onderwyser, en koordirigent. Nadat hy sy graad in Aktuariële Wiskunde voltooi het en ’n kort draai in die korporatiewe wêreld gemaak het, het hy half onverwags in die klaskamer beland, waar hy ontdek het dat sy ware roeping in die onderwys lê. Sedert 2010 onderrig hy by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, en sedert 2016 rig hy die skool se koor, die Rooidasse, af.

Hy is ’n gereelde spreker by koorseminare en wiskunde‑onderrig‑kongresse, waar hy sy entoesiasme en ervaring deel met die hoop om ’n blywende verskil in die lewens van jongmense en kollegas te maak. Musiek is die hartklop van sy lewe, veral koor‑ en klassieke musiek. In sy vrye tyd lees hy wyd, herlaai in die natuur en is ’n ywerige koffieliefhebber wat sy eie boontjies maal en sy eie espresso trek.

“Om by RSG en spesifiek hierdie program aan te sluit is vir my ’n besondere voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid,” sê AJ. “Loof die Here het ’n ryke geskiedenis en is ’n program waarmee baie mense oor dekades heen grootgeword het.” 

“Vir talle luisteraars het dit deel geword van die ritme van ’n Sondagoggend. Ek het groot respek vir die nalatenskap van die program en die mense wat dit oor die jare gevorm het. Luisteraars kan steeds uitsien na ’n uur van lofsang, rustigheid, besinning en inspirasie waarvoor hul harte warm klop, en ek sal my eie melodie  hieraan toevoeg. Verder sal ek my liefde vir koormusiek, klassieke musiek en besonderse geestelike musiek met luisteraars deel, by ou bekendes aandoen, maar ook nuwe melodieë – of ‘tunetjies’ soos Magdaleen hulle sou noem – verken en ontdek. Uiteindelik hoop ek dat elke Sondagoggend iets sal bied wat die hart aanraak, ’n ruimte waarin mense kan stil word, asemhaal en iets van hoop en verwondering kan ervaar.”

Oor die Koninkryksdoel van Loof die Here sê hy, “Ek hoop Loof die Here herinner mense aan God se teenwoordigheid in die alledaagse – nie noodwendig deur groot woorde of lang boodskappe nie, maar deur die musiek, die stilte en die ruimte wat die program vir nadenke skep. Musiek het die besondere vermoë om te praat wanneer woorde soms kortskiet. As een luisteraar ná ’n uitsending bietjie meer hoopvol, rustig, dankbaar of bewus van God se genade is, dan is ons op die regte koers. Uiteindelik hoop ek dat Loof die Here mense nie net vir ’n uur vergesel nie, maar hulle help om die nuwe week binne te gaan met geloof, hoop en ’n groter bewustheid van God se goedheid. Musiek bring mense bymekaar  – oor nasies, tale en kulture heen. In musiek is ons een. Dis wat radio so besonders maak: jy kan alleen in jou motor, kombuis of sitkamer wees, maar as die musiek jou ruimte vul, voel jy vir ’n oomblik deel van iets groter as jouself.”

Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, sê, “Loof die Here is veel meer as net ’n radioprogram; dit is vir baie luisteraars ’n geliefde deel van hul Sondagoggend en ’n ruimte van geloof, hoop en inspirasie. Ons is opreg dankbaar vir die merkwaardige bydrae wat Magdaleen Krüger oor die afgelope sewe jaar gelewer het en wens haar alles van die beste toe. Terselfdertyd verwelkom ons vir AJ Maree met groot opgewondenheid! Sy liefde vir musiek, sy warmte as mens en sy diep waardering vir die program se nalatenskap maak hom die ideale persoon om hierdie geliefde instelling se volgende hoofstuk saam met ons luisteraars aan te pak. Ons is trots om AJ by die RSG-familie te verwelkom en sien daarna uit om saam met hom die volgende hoofstuk van Loof die Here te skryf.”

Gedurende Oktobermaand sal ’n keur van Loof die Heer hoogtepuntprogramme uitsaai wat oor die jare deur voormalige aanbieders Fanie Smit en Wouter de Wet aangebied is. Hierdie spesiale uitsendings vorm deel van RSG se viering van die program en sy kleurryke stemme, asook die viering van 90 jaar van die SAUK.

Op Sondag 1 November 2026 begin Loof die Here se splinternuwe hoofstuk – steeds met dieselfde hart, maar met ’n vars stem wat die tradisie met ‘n vaste anker in die Vader, erkenning vir die reuse op wie se skouers dié program staan én hernude inspirasie voortsit. Die beste van Afrikaanse geestelike musiek en Sondagoggend‑rustigheid vind jy, soos altyd, op RSG.

Deel nou