Lucia Prinsloo se laaste roman kry ’n nuwe stem op RSG

RSG nooi luisteraars om vanaf 18 Augustus soggens om 10:45 die wêreld van die Kougaberge te betree met die nuwe boekvoorlesing, Solank as die aarde, deur Lucia Prinsloo. Die roman word deur Saskia Pocock voorgelees en staan onder regie van Eddie de Jager.

Die voorlesing bied aan luisteraars die geleentheid om Prinsloo se laaste roman te beleef en bring terselfdertyd hulde aan ’n skrywer wat nie die verskyning van die boek kon meemaak nie.

Prinsloo is op 6 Februarie 2024 oorlede nadat sy aan ’n ernstige niersiekte gely het. Solank as die aarde het ongeveer ’n maand ná haar dood verskyn. Dit is haar derde roman en volg op Kwaheri my geliefde en Vegters.

Lucia Prinsloo

Die verhaal speel af op die plaas Soetkloof in Opkoms, ’n werklike gebied agter Joubertina in die Kougaberge. Kleiner plase hier het oor geslagte vrugte gelewer totdat droogte en veranderende omstandighede die voortbestaan van die gemeenskap bedreig het. Die gebied vorm vandag deel van ’n natuurbewaringsgebied. Teen hierdie herkenbare agtergrond ontvou die fiktiewe verhaal van die Du Preez-gesin.

Die roman begin by die begrafnis van De Viljee. Sy broer, Cornel, was by hom toe ’n noodlottige jagongeluk plaasgevind het. Die onsekerheid oor Cornel se aandeel in sy broer se dood plaas die gesin onder geweldige druk. Cornel se tweelingsuster, Ragel, moet terselfdertyd haar eie weg deur die verlies vind. Die voortbestaan van Soetkloof raak al moeiliker, terwyl ’n bewaringsinisiatief die sukkelende plase wil opkoop.

Die verhaal vra wat dit beteken om aan grond te behoort wanneer daardie grond nie meer ’n lewe kan onderhou nie. Dit ondersoek die uitwerking van verlies op ’n gesin, en kyk ook na die mens se verantwoordelikheid teenoor die natuur. Tog bly daar deurgaans ’n sterk bewussyn van voortgang. Die titel verwys na Genesis 8 vers 22 en herinner daaraan dat die ritme van die aarde groter is as ’n enkele menselewe.

In haar resensie op LitNet beskryf Heilna du Plooy die boek as ’n intense en weldeurdagte roman wat veel meer as ’n ligte verhaal bied. Volgens haar word ’n werklike stuk geskiedenis deur die ervarings van die karakters verpersoonlik. Die roman laat die leser nadink oor wat die gebeure vir die mense van Opkoms beteken. Hierdie dieper betekenis maak die boek besonder geskik vir ’n radiovertolking waarin elke woord gehoor en beleef kan word.

Lucia se suster, Elsa Winckler, beskryf haar as ’n vrye gees. Sy was volgens Winckler ’n dromer wat ook die moed gehad het om haar drome uit te leef. Haar lewe was vol stories wat sy uit haar eie leefwêreld geput en neergeskryf het.

Lucia Prinsloo en Elsa Winckler

Lucia het saam met haar man, Dappie, in Jeffreysbaai gewoon. Sy was die ma van vier volwasse kinders en die ouma van ses kleinkinders. Winckler onthou veral haar suster se ligte benadering tot die lewe. Haar kenmerkende lag en haar humorsin het mense om haar geraak.

Die natuur was ‘n belangrike deel van Lucia se lewe. Sy het ’n besondere liefde vir die berge en die wye ruimtes van die woestyn gehad. Sy het saam met haar man en kinders gestap en gekamp. Hulle het ook van die hoogste pieke van die Drakensberge aangedurf.

Die eerste saadjie vir Solank as die aarde is geplant toe Lucia saam met haar suster Friena, van Eden tot by Addo gestap het. Die roete was vierhonderd kilometer lank en het oor sewe bergreekse gestrek. Hulle het dit binne drie weke voltooi. Lucia se kennis van die Kougastreek en haar belangstelling in natuurbewaring vloei gevolglik op ’n natuurlike manier deur die roman.

Die boek is opgedra aan Lucia se broer, wat ’n nier aan haar geskenk het.

Winckler skryf dat die verhaal uit Lucia se eie ervaring en belewenis ontstaan het. Die roman weerspieël daarom nie net haar verbeelding nie. Dit dra ook iets van haar persoonlike reis en haar nadenke oor voortbestaan.

Vir De Jager was dit van die begin af belangrik dat die voorlesing soos beelde voor die luisteraar se geestesoog moes afspeel. “Lucia Prinsloo het ’n storie geskryf wat met die aanhoor van elke woord soos ’n film in jou gedagtes afspeel,” sê hy.

Die keuse van die regte voorleser was daarom van groot belang. Pocock moes die verhaal van Ragel en Cornel vertel, maar ook die ander mense wat hul pad kruis geloofwaardig vertolk. Volgens De Jager het sy reeds met die eerste sin daarin geslaag om Opkoms se wêreld lewe te gee. Haar deeglike voorbereiding en aanvoeling vir karakteronderskeid laat elke karakter tot sy reg kom. “Opkoms is ’n stukkie aarde wat ’n stem verdien,” sê De Jager.

Solank as die aarde beloof ’n intieme oggendluisterervaring waarin Lucia Prinsloo se laaste roman met respek voortleef. Skakel soggens om 10:45 in op RSG en hoor hoe die mense van Soetkloof deur Saskia Pocock se stem gestalte kry.

Luister weer: Hoekom is mediese fondse so duur?

In die program vanaand net na agtuur, ondersoek Marí Hudson veral twee aspekte betreffende mediese fondse:
1. Hoekom is dit so duur en styg die premiese vinniger as inflasiekoers? Hoe werk mediese fondse?
2. Kan duur mediese fondse en private gesondheidsorg voortstu op dié pad van stygende koste? Hoe het ons in so situasie beland, en wat is die oplossing? Kan ons sonder mediese fondse?

Luister hier na die program.


Enkele feite staan soos ‘n paal bo water:
Die hoë koste van mediese fondse en private gesondheidsorg is ‘n groot probleem
Minder jongmense sluit by mediese fondse aan, en baie kan dit nie bekostig nie.

9.1 miljoen Suid-Afrikaners kry private sorg danksy mediese fondse.
Mediese fondse mag nie wins maak nie, maar die administratiewe segment mag wel. 90% van jou premie se geld word bestee op gesondheidsorg vir die lede. 10% word bestee aan die administrasie van mediese fondse.

Sonder mediese fondse is daar geen private sektor nie.
Transformasie van mediese fondse om dit meer bekostigbaar te maak, word al vir 30 jaar geblok.

Dr Marius Wasserfall, president van die Faculty of Consulting Physicians of South Africa, verduidelik hoe mediese fondse werk en prof Alex van den Heever, gesondheidsekonoom verbonde aan Wits se bestuurskool, daag die stelsel uit en steek ‘n vinger in die oog van die politici met verskuilde agendas.


RSG en Virseker se Kultuurkaravaan op soek na Afrikaans se kosbaarste skatte

Johannesburg, 27 Julie, 2026 – RSG, Virseker en die ATKV gaan dié lente die land ekstra kleur gee wanneer die heel eerste RSG en Virseker Kultuurkaravaan Suid-Afrika gaan deurkruis op soek na die mense, stories, kos, kultuur en skeppendheid wat harte warmer laat klop.

Dié veldtog wat in September afskop, is ‘n opwindende viering van Afrikaans, sy mense en die uniekheid wat ons hartsplekke so spesiaal maak. Dit is ’n landswye reis met RSG se karavaan, omroepers en borge wat die kleurryke tapyt gaan betree wat ons kultuur so bekoorlik en ons Suid-Afrikaanse dorpe en sy kultuurdraers so sonderling maak.

Miskien is dit die padstal waar niemand kan verbyry sonder om iets te koop nie, die tannie wat almal se verjaarsdae onthou, die kerkkoor wat die mooiste melodieë sing, die ou met ‘n ongewone talent, die groep wat dans dat die stof so staan of selfs die bekende wat hul wortels in die dorp het.

Wys vir ons die kultuurdraers, smake en talente wat jou dorp, gemeenskap, voorstad of selfs woonbuurt uniek maak en die RSG en Virseker Kultuurkaravaan kan dalk in jou dorp kom parkeer en dit saam met jou verken en ervaar.

Dié veldtog is op Maandag 27 Julie tydens ‘n regsteekse uitsending op die Seepunt-promenade met die aanbieders Renske Jacobs, Gustav Greyling en Martelize Brink bekend gestel.

Luisteraars wat hul dorpe, buurte, gemeenskappe of voorstede benoem, staan die kans om ‘n midweekwegbreek by enige ATKV‑oord te wen. Elke gekose dorp ontvang ‘n RSG-kuier met ’n regstreekse Op en Wakker‑uitsending saam met Renske Jacobs, Gustav Greyling en Blaine Jones. Sowel as prysaktiwiteite saam met Virseker, ’n ATKV Boektrommel ter waarde van R8 000 vir ’n plaaslike skool en ‘n allemintige R300 000 se RSG‑lugtyd om plaaslike toerisme te bevorder.

As deel van hierdie landswye reis is LekkeSlaap die trotse akkommodasieborg wat sal verseker dat die RSG-span regoor die land gerieflik en tuis voel terwyl hulle die land se mooiste kultuurskatte en dorpe verken.

Verder is daar Kiek die Karavaan waar luisteraars foto’s kan neem wanneer hulle die karavaan op die pad bespeur om kontantpryse van Virseker te wen.

‘n Kultuurkapsule reis ook saam met die span en word by elke dorp aangevul met iets wat die kultuur of identiteit van die gemeenskap verteenwoordig. Die kapsule word by die finale uitsending oopgemaak en verken as ‘n terugblik op Afrikaans, sy stories sy dorpe en sy mense.

Inskrywings is eenvoudig: luisteraars besoek kultuurkaravaan.co.za en vertel vir RSG wie die koshelde, skeppendes, sportsterre, omgee‑engele, skoolhelde en verborge skatte van hul dorp is. Hulle stel ook ’n voorgestelde dagroete saam vir die RSG‑span en motiveer hoekom hul dorp of blyplek die hart van Afrikaans verteenwoordig.

Inskrywings sluit op Vrydag 14 Augustus 2026 om 17:00 en die 2026 Kultuurkaravaan skop amptelik in September af.

Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, sê, “Die Kultuurkaravaan is Afrikaans se kleurrykste, mooiste en lekkerste padvat. Dis ’n viering van wie ons is. Afrikaans is nie net ’n taal nie, maar ’n lewende kultuur wat in elke dorp, straat en gemeenskap wortel skiet, groei en lééf. Ons wil die gesigte en name agter hierdie kultuur ontmoet, by hulle kuier, saam met hulle ontdek en die taal en menswees wat ons saambind saam met hulle vier.”

“Virseker is trots om deel te wees van ’n veldtog wat die mense, stories en tradisies vier wat Afrikaans laat leef. Ons gemeenskappe se kosbaarste skatte is juis dié dinge wat nie altyd in geld gemeet kan word nie – hul karakter, omgee, talent en trots. Deur die Kultuurkaravaan wil ons help om hierdie besonderse stories raak te sien, te beskerm en met die res van Suid-Afrika te deel,” voeg Morné van Emmenes, Senior Bestuurder by Virseker, by.

“Die ATKV is ’n organisasie vir en deur mense. Ons ondersteun graag hierdie RSG-inisiatief omdat die betrokkenheid van ATKV-taklede landwyd ons wys hoe verskilmakers hul gemeenskappe laat groei, Afrikaans laat leef, en waardes van omgee en diens elke dag sigbaar maak,” sê Gerrie Lemmer, ATKV se uitvoerende hoof: Kultuur.

“By LekkeSlaap draai alles om die ontdekking van Suid-Afrika se uniekste hoekies en die hartlikheid van ons mense. Elkeen wat plaaslik reis en bespreek, ploeg direk terug in daardie gemeenskap, van die dorpskoffiewinkel tot die plaaslike vulstasie. Die RSG en Virseker Kultuurkaravaan vier presies hierdie eie-is-goud-geesdrif, en ons kan nie wag om die RSG-span langs die pad tuis te bring nie,” sê Gerriline Fouché, Hoof van Bemarking by LekkeSlaap.

Die geliefde RSG Bakgat-beskuitkompetisie neem ’n welverdiende blaaskans, terwyl die Kultuurkaravaan die kollig steel. Bakgat het oor die jare ’n merkwaardige nalatenskap opgebou en was die geboorteplek vir verskeie entrepreneurs, waaronder vorige wenners, Marthlé Smith en Magda Janse van Vuuren, wat vandag elk hul eie suksesvolle sake-ondernemings, KRAAK! en Magda Beskuit, besit. Hul besighede is ‘n konkrete bewys van hoe Bakgat talent ontgin, kreatiwiteit aanwakker en kleinskaalse bakkers kan help om GROOT loopbane te bou. Bakgat sal wel op lug terugkeer – groter, beter en liplek-lekkerder as ooit.

Laai die nuwe RSG‑app af, volg die stasie op sosiale media, of besoek die webblad vir meer.

MEER OOR RSG:

RSG is Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie en deel van die SABC. Die stasie bedien meer as ’n miljoen luisteraars daagliks met nuus, aktualiteit, kultuur, musiek, vermaak en bekroonde radiodramas. RSG is ’n tuiste vir Afrikaanse stories, klanke en gemeenskappe, en verbind luisteraars landwyd deur inhoud wat geloofwaardig, inspirerend en relevant is. Met ’n sterk digitale teenwoordigheid, potgooie, buiteluguitsendings en ’n diverse programaanbod, bly RSG ’n kernpilaar van die Afrikaanse medialandskap.

Europa brand: Is dit die nuwe klimaatwerklikheid?

Europa brand. Nie net woude nie, maar ook rekords, infrastruktuur en gemeenskappe. Honderde duisende mense moes reeds uit hulle huise vlug. Die vlamme verswelg wynlande, bedreig militêre terreine en is só intens dat dit selfs hulle eie donderstorms begin vorm. Is dit net ’n uitsonderlike natuurramp, of is dit die nuwe normaal vir Europa?

Ons praat met Francois Engelbrecht, ’n professor in klimatologie en direkteur van die Global Change Institute by Wits.

Luister weer: Dokumentêr oor langafstand-vragmotorbestuurders

Die Langpad neem luisteraars diep in die wêreld van Suid-Afrika se langafstand-vragmotorbestuurders – die mense wat dag en nag die land aan die beweeg hou. Hoor die eerlike stories van drie langafstand drywers wat gesamentlik byna ‘n eeu se ervaring op paaie regoor Suid-Afrika en die wêreld het.

Luister hier na die program:

Ontdek die werklikheid agter die stuurwiel: die opoffering om weke lank van geliefdes af weg te wees, die gevare wat hulle daagliks trotseer, die eensaamheid van die oop pad en die unieke broederskap wat onder trokke en hul bestuurdrrs bestaan. Dis ‘n blik op ‘n beroep wat baie mense sien, maar min werklik verstaan.

Die Langpad, deur Ettienne Ludick, ondersoek ook hoe die lewe van vragmotorbestuurders verbeter kan word en waarom hulle ‘n onmisbare rol in ons ekonomie en samelewing speel. Klim saam.in die kajuit wat baie hul tuiste noem en luister Donderdagaand om 20:00 op RSG na hierdie aangrypende radiodokumentêr oor die mense agter die stuur.

Waarskuwing vir canolaboere oor mistige toestande

Rooibos is op pad na die buitenste ruim! Marthane Swart van die SA Rooibosraad verduidelik waarom dit van waarde op aarde is.

Lizette Nowers, ‘n wetenskaplike navorser by die Departement Landbou in die Wes-Kaap, en navoringstegnikus Piet Lombard deel ‘n dringende boodskap aan canolaboere, wat verband hou met ongewone mistige toestande wat op die oomblik voorkom.

Is die kernooreenkoms tussen Saoedi & VSA nét vreedsaam?

Die oliereus in die Midde-Ooste, Saoedi-Arabië, en die wêreld se grootste supermoondheid, Amerika, het volgens berigte ‘n geskiedkundige ooreenkoms bereik oor kernenergie. Kort ná die ooreenkoms bekend geword het, het die Amerikaanse president, Donald Trump, egter op sosiale media gesê die ooreenkoms is onderhewig daaraan dat Saoedi-Arabië die Abraham-akkoord onderteken, en daardeur Israel as ‘n staat erken. Die ooreenkoms is glo net om uraan te verryk vir kernkrag, maar vrese bestaan dat dit later mag ontwikkel tot wapengraad uraanverryking.

Ons praat hieroor met professor Jo-Ansie van Wyk, ‘n spesialis oor kernenergie-politiek, verbonde Unisa.

Masels is g’n kinderspeletjies nie

 Masels, ‘n gevaarlike kindersiekte, is in Suid-Afrika aan die toeneem. Die VSA beleef ook verskeie uitbrekings van dié hoogs aansteeklike siekte. Die hoof-oorsaak van die toename is te wyte aan ouers wat nalaat om hulle kinders teen die virus te laat inent.

Die maselsvirus kan ‘n kind se immuniteit aantas, asook sy brein en longe, en kan noodlottig wees.

Mari Hudson praat met ‘n pediater, dr Thandie Wessels van die Tygerberg Hospitaal, oor dié gevaarlike aansteeklike siekte.

Kyk hoe lyk ‘n masels-uitslag

Masels
Masels
Wit Koplik vlekkies
Duitse masels/Rubella


Luister weer na”Nie vir haar gebou: Die Geslagsgaping in Ongelukke”

Luister weer na die dokumentêr Nie vir haar gebou: Die Geslagsgaping in Ongelukke. Die dokumentêr is saamgestel deur Martelize Brink.

Vroue is meer geneig om ernstig beseer te word of te sterf in motorongelukke as mans, met ‘n 73% hoër waarskynlikheid van ernstige besering in vergelykbare ongelukke. Vroue ly meer beserings aan die onderste ledemate, buik en bors, terwyl mans meer geneig is tot rugbeserings en, oor die algemeen, meer noodlottige ongelukke. 

Motors is oor die jare volgens mans se liggame ontwerp. Selfs die veiligheidstoetse is met manlike botstoetspoppe gedoen. Nuwe, meer akkurate vroulike botstoetspoppe word ontwikkel wat 150 sensors bevat om die spesifieke impak op ‘n vrou se liggaam te meet. 

Alhoewel sommige vervaardigers jare lank vroulike toetse insluit, is dit eers onlangs dat omvattende en standaard vroulike poppe ‘n fokuspunt in veiligheidsnavorsing word

Craig et al. (2026) het ook 22 jaar se data van ernstige en noodlottige beserings wat op die NASS-CDS en die Crash Investigation Sampling System (CISS) in die VSA gehou is, gekombineer.

Die Versekeringsinstituut vir Snelwegveiligheid (IIHS) se navirsing het uitgelig dat vroue, op ‘n per-botsing basis, 20-28% meer geneig is om dood te gaan en 37-73% meer geneig is om ernstig beseer te word.

Gaste

Die navorser wat die eerste vroulike botstoetspop ontwikkel het, Prof. Astrid Linder, PhD, Msc. Professor, Verkeersveiligheid, verbonde aan Chalmers Universiteit van Tegnologie in Swede, Monash Universiteit in Australië en die Sweedse Nasionale Pad- en Vervoernavorsingsinstituut.

Kyk na die video waar Astrid Linder, wat die eerste vroue botstoetspop in Swede ontwikkel het, verduidelik hoe die toetse gedoen is.

Prof Astrid Linder
Screenshot

Dr. Cornel de Jongh is ’n forensiese biomeganiese ingenieur met ’n PhD in meganiese ingenieurswese met ‘n fokus op biomeganika, en meer as twee dekades se ervaring in die ontleding van motorbotsings, beseringsmeganismes en voertuigveiligheid. Hy dien gereeld as deskundige getuie in regsake in die VSA waar hy die biomeganika van botsings en die waarskynlikheid van beserings evalueer. Sy werk kombineer ingenieurswese, anatomie, fisiologie en mediese wetenskap om die bewegings en kragte waaraan die menslike liggaam tydens ’n botsing blootgestel word, te verstaan en te verduidelik. Met ’n besondere belangstelling in voertuigveiligheid en botsingsnavorsing fokus Dr. de Jongh op die wetenskap agter veiligheidstelsels soos veiligheidsgordels, lugsakke en botsingstoetspoppe (crash test dummies).

Dr Cornel de Jongh

Marnus Hattingh, motorjoernalis. 

Minesh Bhagaloo, Hoof van Openbare Betrekkinge en Voorspraak van die Automobielvereniging van Suid-Afrika

Belangrike verskille in beserings

Nekbeserings: Vroue is drie keer meer geneig om sweepslag en ander nekbeserings op te doen as gevolg van verskille in neksterkte en sitposisies. 

Onderste ledemaatbeserings: Vroue het ‘n 62% hoër kans om beserings aan hul bene, voete en enkels op te doen. 

Buik en bors: In soortgelyke ongelukke is vroue aansienlik meer geneig om beserings aan hul buik en bors op te doen as mans. 

Rugbeserings: Mans is meer geneig om rugbeserings as hul primêre besering te ervaar. 

Redes vir Verskille

-Histories het motorveiligheidstoetse staatgemaak op poppe gebasseer op die gemiddelde manlike liggaam (50ste persentiel), wat veiligheidstelsels minder effektief vir vroue maak. 

-Vroue sit dikwels nader aan die stuurwiel om pedale te bereik, wat hulle nader aan die ontplooiing van lugsakke plaas, terwyl verskille in ruggraatkromming ook ‘n rol speel. 

– Verskille in tipes voertuie wat bestuur word en die erns van ongelukke, met mans dikwels in groter voertuie of as die bestuurder, kan beseringspatrone beïnvloed. 

-Alhoewel mans meer geneig is om betrokke te wees by noodlottige ongelukke, hoofsaaklik as gevolg van hoëspoedongelukke, is vroulike bestuurders meer vatbaar vir ernstige torakale en ruggraatbeserings in soortgelyke ongelukscenario’s. 

Historiese voertuigontwerp en veiligheidstoetse is op die gemiddelde manlike liggaam gefokus, wat ‘n “geslagsdatagaping” skep wat vroue met ‘n hoër risiko laat. Alhoewel daar wel vooruitgang is, is vroue statisties meer geneig om ernstig beseer te word of te sterf in motorongelukke as gevolg van veiligheidstelsels (veiligheidsgordels, lugsakke) wat nie rekening hou met vroulike fisiologie nie.