Kan diere rou? Ons weet diere ervaar verlies, maar verstaan ons regtig wat in daardie oomblikke gebeur?
En, Hoekom styg ’n heliumballon?
Kan diere rou? Ons weet diere ervaar verlies, maar verstaan ons regtig wat in daardie oomblikke gebeur?
En, Hoekom styg ’n heliumballon?
Die veteraan-akteur Tobie Cronje is by ‘n glansgeleentheid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die SA Akademieprys vir Drama bekroon.
Die toekenning kan net een keer aan ‘n persoon gemaak word. Tobie is vir sy lewensbydrae vereer wat oor meer as 50 jaar strek in radio, televisie, op die verhoog en in rolprente.
Vroeër vanjaar was hy onder meer in die middagvervolgverhaal Jaffie te hoor; en het ”Die jaar toe dit gemmerbier gereën het” as oggendboekvoorlesing op RSG voorgelees.
“Van die lomp speurder Willem in een van die eerste reekse op Suid-Afrikaanse televisie in 1976, tot die plekspesifieke produksie Die gebed van ’n halfmens by vanjaar se KKNK; van die rolprent Die sersant en die Tiger Moth in 1972 tot oom Vaaltyn in die radioverwerking van Eitemal se Jaffie in 2026; van musiekteater, pantomime en operette tot boekvoorleser, teaterregisseur en mentor.
Dít is Tobie Cronjé.Sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf strek oor meer as 50 jaar en sy veelsydigheid word moeilik nagedoen. Sy aanvoeling vir karakters se emosionele landskap, en sy vermoë om dit uit te beeld ongeag die medium, lei daartoe dat hy op byna 78-jarige ouderdom steeds hoog in aanvraag is.
Tobie se professionaliteit, die integriteit en eerlikheid waarmee hy elke rol benader, sy sorgvuldige voorbereiding en diepgaande insig in die karakters, lei tot sy geloofwaardige vertolkings. Hoewel hy ’n besondere aanvoeling vir komedie het, en die kuns van perfekte tydsberekening in die moeilike kluggenre vervolmaak het, is hy ewe vaardig in ernstige rolle en word dié vaardigheid toenemend in sy latere werk deur regisseurs benut. Sy besondere stemvaardigheid in ernstiger rolle kom veral ook in radiowerk en as voorleser na vore.
Tobie se volgehoue harde werk en die erns waarmee hy elke rol benader, is tekenend van die toewyding tot sy ambag, en met sy onbaatsugtigheid as mentor belê hy ook in die toekoms. Sy diensbaarheid aan sy kuns, onverdunde professionaliteit en buitengewone veelsydigheid maak hom ’n waardige ontvanger van die SA Akademieprys vir Drama.”
Welkom by RSG se Matriekhersieningsreeks, in samewerking met die Skoleondersteuningsentrum.
Die eindeksamen is om die draai, die druk begin toeneem en die ure voel net té min, maar matriekleerders hoef dit nie alleen te hanteer nie. Vanaf Dinsdag, 4 Augustus, bied RSG vanjaar weer ’n kragtige matriekhersienings-reeks aan, in vennootskap met die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Wolkskool, om leerders te help om slim te leer en met selfvertroue te presteer.
Agt kernvakke word oor ‘n tydperk van tien weke hersien. Ervare onderwysers verduidelik moeilike begrippe prakties, deel kernkennis en wys leerders hoe om hul voorbereiding vir elke vraestel doelgerig te struktureer.
Hierdie kenners verstaan die kurrikulum, die eksamenvereistes en die uitdagings waarmee matriekleerders daagliks worstel. Die reeks is dan ook ontwerp om leerders te help om met begrip te leer en die eksamenlokaal vol selfvertroue binne te stap.
Bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars – insluitend Robbie Wessels, Demi Lee Moore, Groothond van Van Pletzen, Jack Parow en meer – sluit ook by die program aan om leerders te motiveer. Die toppresteerders van 2025 deel ook húlle beste wenke.
Die vakke wat hersien word sluit in: Fisika, Chemie, Afrikaans, Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid, Rekeningkunde, Engels en Besigheidstudies.
RSG se Sakebestuurder, Louise Jooste, sê, “Ons is trots om saam met Solidariteit SOS en Wolkskool ’n program aan te bied wat werklik ’n verskil maak. Matriek is ’n groot mylpaal, en met praktiese wenke, duidelike leiding en die regte ondersteuning kan elke leerder met selfvertroue presteer. Hierdie reeks is meer as hersiening; dit is toerusting vir die leiers van môre. As jy inskakel, is jy nie net besig om te leer nie, jy bou aan jou toekoms.”
Kompas, RSG se jeugprogram, saai die hersieningsreeks vanaf 4 Augustus elke Dinsdagaand tussen 19:30 en 20:00 uit. Alle matriekleerders is welkom om saam te leer, te oefen en te groei.
Vir ekstra lesse, werkkaarte, assesserings en akademiese ondersteuning, besoek wolkskool.co.za.
Vat hom, matrieks! RSG is saam met julle tot by die eindstreep vir uitstekende uitslae sonder grense.
Laai die nuwe RSG‑app af, volg die stasie op sosiale media, of besoek die webblad vir meer.
MEER OOR RSG:
RSG is Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie en deel van die SAUK. Die stasie bedien meer as ’n miljoen luisteraars daagliks met nuus, aktualiteit, kultuur, musiek, vermaak en bekroonde radiodramas. RSG is ’n tuiste vir Afrikaanse stories, klanke en gemeenskappe, en verbind luisteraars landwyd deur inhoud wat geloofwaardig, inspirerend en relevant is. Met ’n sterk digitale teenwoordigheid, potgooie, buiteluguitsendings en ’n diverse programaanbod, bly RSG ’n kernpilaar van die Afrikaanse medialandskap.
Hier vind jy al die potgooie van ons lesaanbiedings sodat jy enige tyd weer daarna kan luister.
Raadpleeg die uitsaairooster om te sien wanneer jou vak aan die beurt is en skakel in vir praktiese hersiening en eksamenwenke. Vir nóg meer ondersteuning, besoek gerus https://www.wolkskool.co.za/ waar jy toegang kry tot uitgebreide hulpbronne vir al jou matriekvakke.
Die eksamen begin op 13 Oktober.
’n Sewentigste verjaardag bring ’n familie weer bymekaar, maar agter die viering wag ou wonde.
Tuimelduif, Morné Malan se tragikomiese familiedrama en merietepryswenner van die 2025 RSG-Radiodramaskryfkompetisie, word op Donderdag 8 Oktober 2026 om 20:00 in RSG se Radioteater uitgesaai.
Amor Tredoux behartig die regie, met Jacques Bessenger, Karli Heine, Johan Nel, Joanie Combrink en Zenobia Kloppers in die rolverdeling.
Die verhaal speel in Mosselbaai af, waar Dawid sy tweelingsuster, Jana, ná jare terugnooi om hul ma se sewentigste verjaardag te vier. Wat na ’n naweek van blomme, koek en frikkadelle klink, word ’n ontmoeting met alles wat die Van Rensburgs oor die jare ongesê gelaat het. Hul ma se progressiewe Alzheimer se siekte stel nuwe eise aan die gesin, terwyl ou verwyte en onverwerkte verlies die broer en suster se verhouding opnuut onder druk plaas.
Intussen vind hul pa ontvlugting in sy belangstelling in duiwe en raak hy al hoe meer geheg aan ’n bosduif wat op sy balkon kom nesmaak. Teen hierdie agtergrond ondersoek Tuimelduif die verskil tussen ’n huis en ’n tuiste. Kan ’n mens terugkeer na die plek waar jy laas gelukkig was? En wat gebeur wanneer die mense en verhoudings wat daardie plek betekenis gegee het, intussen verander het?
Malan benader dié vrae met humor en deernis. Die drama erken hoe diep families mekaar kan seermaak, maar ook hoe hulle mekaar deur verlies en verandering kan dra. Die beeld van die tuimelduif, wat deur sy tuimelary weer koers vind, sluit aan by die verhaal se temas van rou, tweede kanse en die moed om hulp te aanvaar. Onder die botsings en stiltes lê ’n eenvoudige, kwesbare erkenning: “Ek het jou nodig.”
Die inspirasie vir die drama kom uit die persoonlike omstandighede van Malan se vriende en familielede. Die besef dat ouers nie altyd daar sal wees nie, bring dikwels nuwe verantwoordelikhede, skuldgevoelens en besluite waarvoor niemand heeltemal voorbereid voel nie. Met Tuimelduif wil hy aan luisteraars die versekering gee dat hulle nie alleen met dié ervarings staan nie. Om ondersteuning te vra en te aanvaar, word deel van die verhaal se beweging na vergifnis en aanvaarding.
Vir Malan was radiodrama die ideale medium om hierdie intieme verhaal te vertel, en die RSG Radiodramaskryfkompetisie het hom die geleentheid gebied om daarmee te eksperimenteer. Hy is ook die skrywer van verskeie Afrikaanse romans, waaronder Minder as water. Sy eerste roman, Suiderkruis, is uit ’n verhoogteks verwerk en was die debuutwenner in die Sanlam en Insig Groot Romanwedstryd. Met Tuimelduif keer hy terug na die verweefde emosies en verhoudings van die familiedrama.
Tredoux sê die teks het haar reeds met die eerste lees opgewonde gemaak. “Dis snaaks. Dis rou. Dis raak,” beskryf sy haar aanvanklike reaksie. Vir haar spreek die werk van ’n skrywer wat sy verhaal ken en uit die hart skryf. Die uitdaging was om ’n klankwêreld te skep waarin die humor en patos mekaar ondersteun, en waarin die karakters se broosheid ruimte kry om deur te klink.
Musiek vorm ’n belangrike deel van Tredoux se benadering. Sy het opnames van die jazzmusikant Brad Mehldau gekies, met grepe uit Blackbird, When It Rains, Little Person en Dusty McNugget vir die oorgange tussen tonele. Cassi Lowers se klanklandskap dra verder tot die produksie se atmosfeer by. Tredoux vertel dat die volle emosionele trefkrag tydens naproduksie na vore gekom het, toe die fyn spel, musiek en klank saamgevloei het en haar tot trane geroer het.
Tuimelduif nooi luisteraars om saam met die Van Rensburgs oor versorging, en die moontlikheid van ’n nuwe begin na te dink. Die verjaardagviering word ’n geleentheid om moeilike waarhede raak te sien, en te vra wat dit verg om werklik vir mekaar daar te wees. Dit is ’n verhaal vir elkeen wat al gewonder het hoe om nader te kom wanneer die lewe mense uitmekaar trek.





Die kollig val op twee aansteeklike virussiektes: A-pokke en Ebola.
Die toename in gevalle van A-pokke in Suid-Afrika, veral in Wes-Kaap, maak dit noodsaaklik om meer uit te vind oor dié siekte.
Die grootste uitbreking ooit van Ebola in die DRK duur voort, en laat vrae oor die gesukkel om dit onder beheer te kry en hoe dodelik die nuwe variant van die virus is.
Mari Hudson praat met prof Jantjie Taljaard, hoof van Infeksiesiektes by die Departement Interne Geneeskunde van die Universiteit van Stellenbosch.
Lees meer oor A-pokke: https://www.cdc.gov/monkeypox/hcp/clinical-signs/index.html
en
https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/mpox


Lees meer oor die uitbreking: https://www.cdc.gov/ebola/situation-summary/index.html




Kuddeveearts dr. Danie Odendaal van Veearts Netwerk werk saam met veeartse, boere en produsente-organisasies om die veilige gebruik van bek-en-klouseer-entstof in kommersiële melk- en vleisbeeskuddes te evalueer. Voerkrale en selfs kommunale kuddes is by die gestruktureerde veldmoniteringsprogram ingesluit. Hy vetrel van hulle waarnemings.
Ons hoor ook wat Chris Derksen oor hierdie week se vleispryse te sê het, en Johan van den Berg gesels weersake.
Rooibos spog op die oomblik met rekord-uitvoere. ‘n Baanbreker toegang- en voordele-ooreenkoms is ook onlangs gesluit wat tot groot voordeel vir talle Suid-Afrikaners sal wees.
Lindie-Alet van Staden is in 2024 aangewys as die Wes-Kaap se algehele wenner van die provinsie se Prestige Agriwerker van die Jaar-kompetisie. Sy boer tans op die plaas Sterrekopje buite Franschhoek. Sy gee seisoen-spesifieke wenke vir jou groentetuin.
Brand Wessels is mede-professor in Houtkunde by Universiteit Stellenbosch. Hy bespreek nuwe loopbaangeleenthede in bosbou.
In Joshlin – meer as ’n naam word ’n ma, Kendra Jacobs, gekonfronteer met die verdwyning van haar elfjarige seun, Isaac tydens ‘n hofsaak wat in die kollektiewe gewete aangehoor word. In hierdie vreemde hofsaal van publieke opinie en oordeel is daar ’n groep kinders wat soos ’n spookagtige koor uit ’n tussenwêreld die verrigtinge bywoon. Joshlin se opspraakwekkende verhaal dreig egter om die verrigtinge te ontspoor, want almal wil steeds weet wat van Joshlin geword het.
Teen die agtergrond van ’n gemeenskap wat vinnig oordeel, word die verhaal ook ’n ondersoek na die vele vorme van kinderuitbuiting en mensehandel, en na hoe maklik ’n vermiste kind se verhaal deur sensasie en openbare verontwaardiging oorgeneem kan word. Joshlin – meer as ’n naam is uiteindelik ’n verhaal oor kinders wat verdwyn, die mense wat na hulle soek, en die vraag hoeveel van ons almal verantwoordelikheid dra vir die veiligheid van ’n kind.
Die regisseur is Johan Rademan. Die stemme van Zenobia Kloppers, Kay Smith, Miche van Wyk, Dean Balie en Denver Vraagom kan gehoor word. Nuwe stemme uit die Proscenium dramakompetisie-stal is Adri-Jo Waterboer, Leighmen Marshall, Chriswell Kotze, Bronwynne, Neer en Bronwyn Damon.
Ons moet onsself vra – wat as Joshlin se verhaal nie net háár verhaal is nie?
Joshlin – meer as ’n naam kyk verby die opslae en die sensasie. Dit draai die spieël na óns. Na elke ouer. Elke buurman. Elke gemeenskap.
Want terwyl ons vra: Waar is Joshlin? is daar ’n groter vraag wat ons almal moet antwoord: Wat doen jy om die kind in jou straat veilig te hou?
’n Kragtige radio-ervaring wat nie net ’n vermiste kind se verhaal vertel nie, maar ons dwing om te vra hoe ver ons bereid is om te gaan om ’n kind te beskerm.





‘Johannesburg, 28 September 2026 – RSG verwelkom met trots vir AJ Maree as die nuwe aanbieder van die immergewilde geestelike program Loof die Here. Hy sal op Sondag 1 November 2026 tussen 8h00 en 9h00 sy eerste program aanbied – ’n blinknuwe en opwindende seisoen vir ’n ou gunsteling wat reeds vir meer as vyf dekades lank luisteraars jonk en ouer op ‘n inspirasie- en verrykingstog begelei.
AJ se aanstelling volg ná Magdaleen Krüger se besluit om ná 7 jaar agter die Loof die Here-mikrofoon op 27 September die tuig neer te lê om haar aftrede ten volle te geniet. Magdaleen se afskeid het ’n merkwaardige era afgesluit, en juis daarom word die maand van Oktober ’n besonderse huldeblyk aan die ryke geskiedenis van die program voordat die nuwe seisoen in volkleur en -klank afskop.
AJ is ’n toegewyde musiekliefhebber, wiskunde‑onderwyser, en koordirigent. Nadat hy sy graad in Aktuariële Wiskunde voltooi het en ’n kort draai in die korporatiewe wêreld gemaak het, het hy half onverwags in die klaskamer beland, waar hy ontdek het dat sy ware roeping in die onderwys lê. Sedert 2010 onderrig hy by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, en sedert 2016 rig hy die skool se koor, die Rooidasse, af.
Hy is ’n gereelde spreker by koorseminare en wiskunde‑onderrig‑kongresse, waar hy sy entoesiasme en ervaring deel met die hoop om ’n blywende verskil in die lewens van jongmense en kollegas te maak. Musiek is die hartklop van sy lewe, veral koor‑ en klassieke musiek. In sy vrye tyd lees hy wyd, herlaai in die natuur en is ’n ywerige koffieliefhebber wat sy eie boontjies maal en sy eie espresso trek.
“Om by RSG en spesifiek hierdie program aan te sluit is vir my ’n besondere voorreg, maar ook ’n groot verantwoordelikheid,” sê AJ. “Loof die Here het ’n ryke geskiedenis en is ’n program waarmee baie mense oor dekades heen grootgeword het.”
“Vir talle luisteraars het dit deel geword van die ritme van ’n Sondagoggend. Ek het groot respek vir die nalatenskap van die program en die mense wat dit oor die jare gevorm het. Luisteraars kan steeds uitsien na ’n uur van lofsang, rustigheid, besinning en inspirasie waarvoor hul harte warm klop, en ek sal my eie melodie hieraan toevoeg. Verder sal ek my liefde vir koormusiek, klassieke musiek en besonderse geestelike musiek met luisteraars deel, by ou bekendes aandoen, maar ook nuwe melodieë – of ‘tunetjies’ soos Magdaleen hulle sou noem – verken en ontdek. Uiteindelik hoop ek dat elke Sondagoggend iets sal bied wat die hart aanraak, ’n ruimte waarin mense kan stil word, asemhaal en iets van hoop en verwondering kan ervaar.”
Oor die Koninkryksdoel van Loof die Here sê hy, “Ek hoop Loof die Here herinner mense aan God se teenwoordigheid in die alledaagse – nie noodwendig deur groot woorde of lang boodskappe nie, maar deur die musiek, die stilte en die ruimte wat die program vir nadenke skep. Musiek het die besondere vermoë om te praat wanneer woorde soms kortskiet. As een luisteraar ná ’n uitsending bietjie meer hoopvol, rustig, dankbaar of bewus van God se genade is, dan is ons op die regte koers. Uiteindelik hoop ek dat Loof die Here mense nie net vir ’n uur vergesel nie, maar hulle help om die nuwe week binne te gaan met geloof, hoop en ’n groter bewustheid van God se goedheid. Musiek bring mense bymekaar – oor nasies, tale en kulture heen. In musiek is ons een. Dis wat radio so besonders maak: jy kan alleen in jou motor, kombuis of sitkamer wees, maar as die musiek jou ruimte vul, voel jy vir ’n oomblik deel van iets groter as jouself.”
Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, sê, “Loof die Here is veel meer as net ’n radioprogram; dit is vir baie luisteraars ’n geliefde deel van hul Sondagoggend en ’n ruimte van geloof, hoop en inspirasie. Ons is opreg dankbaar vir die merkwaardige bydrae wat Magdaleen Krüger oor die afgelope sewe jaar gelewer het en wens haar alles van die beste toe. Terselfdertyd verwelkom ons vir AJ Maree met groot opgewondenheid! Sy liefde vir musiek, sy warmte as mens en sy diep waardering vir die program se nalatenskap maak hom die ideale persoon om hierdie geliefde instelling se volgende hoofstuk saam met ons luisteraars aan te pak. Ons is trots om AJ by die RSG-familie te verwelkom en sien daarna uit om saam met hom die volgende hoofstuk van Loof die Here te skryf.”
Gedurende Oktobermaand sal ’n keur van Loof die Heer hoogtepuntprogramme uitsaai wat oor die jare deur voormalige aanbieders Fanie Smit en Wouter de Wet aangebied is. Hierdie spesiale uitsendings vorm deel van RSG se viering van die program en sy kleurryke stemme, asook die viering van 90 jaar van die SAUK.
Op Sondag 1 November 2026 begin Loof die Here se splinternuwe hoofstuk – steeds met dieselfde hart, maar met ’n vars stem wat die tradisie met ‘n vaste anker in die Vader, erkenning vir die reuse op wie se skouers dié program staan én hernude inspirasie voortsit. Die beste van Afrikaanse geestelike musiek en Sondagoggend‑rustigheid vind jy, soos altyd, op RSG.
Die RSG/ATKV-vierkant word vanjaar vir die tweede keer by die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.
Kom kuier saam by die RSG/ATKV-vierkant
Stellenbosch het klaar sy feesklere aan en wag geduldig op besoekers om alles wat Afrikaans is te kom vier. Die Toyota Stellenbosch Woordfees vind vanjaar van 3 tot 10 Oktober plaas en die RSG/ATKV-vierkant gaan ’n gesellige kuierplek by die Universiteit Stellenbosch-museum wees.
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie van die ATKV, vertel dat die idee vir die RSG/ATKV-vierkant ontstaan het uit die behoefte om meer as net ’n regstreekse uitsaaiplek by die fees te hê. “Ons wou ’n ruimte skep waar mense kan kom kuier, luister, gesels en werklik deel van die feeservaring wees,” noem sy.
Die US-museum is daarby sentraal en ’n ideale informele en toeganklike kuierplek vir feesgangers, gesels Mercia.
“Ons wil ’n warm en gesellige atmosfeer skep – ’n plek waar stories, musiek en mense bymekaarkom. Dit is ook belangrik dat daar iets vir verskillende ouderdomme en belangstellings is: van storietyd vir kinders en literatuur tot musiek, gesprekke en regstreekse radio-uitsendings.”
Mercia sê dis ’n plesier om saam met RSG te werk. “RSG en die ATKV is reeds verskeie jare afsonderlik by die Woordfees betrokke. Die groot ontwikkeling was om van bloot ’n plek waar radio uitgesaai word, na ’n volwaardige kuier- en kultuurruimte te beweeg. Die RSG/ATKV-vierkant word vanjaar vir die tweede keer aangebied en is ’n kombinasie van regstreekse radio, musiek, gesprekke, literatuur en kinderaktiwiteite.”
Amoré Swanepoel, bemarkingsbestuurder van RSG, beaam Mercia se woorde en sê die projek is ’n heerlike samewerking tussen RSG en die ATKV. “Ons snoer ons kragte saam om ’n lekker aanbieding vir mense te bied, en dit is boonop gratis. Daar gaan interessante praatjies en optredes wees, maar ook regstreekse uitsendings wat vir mense wys hoe radio gebeur. Dis beslis ’n aanbieding wat jy nie kan misloop nie.”
“Ons saai regstreeks vanaf die vierkant uit met gewilde programme soos Op en Wakker, Spektrum, Kommentaar, Driesestig, Naweekaktueel en RSG-Landbou. Ons is veral opgewonde dat Op en Wakker vanjaar vir die eerste keer Woordfees toe gaan. Ons was ook op die Kultuurkaravaantoer met die program, en luisteraars het dit baie geniet om die aanbieders, Gustav Greyling en Renske Jacobs, te ontmoet,” sê Amoré.
“Ons het ook gewilde samewerkingsplatforms saam met die ATKV by die KKNK en Innibos het, en hul betrokkenheid by die 2026 Toyota Stellenbosch Woordfees bly spesiaal. Dit is vir ons ’n groot lekkerte om by ons luisteraars uit te kom en die feeste bied ’n platform daarvoor. Ons kan met ons luisteraars gesels oor dit waarvan hulle hou en nie hou nie en meer oor hul passies en lewens uitvind.”
Volgens Mercia gee die vierkant prakties gestalte aan die ATKV se doel om Afrikaans te laat leef – nie net as ’n taal wat ons praat nie, maar as ’n taal waarin ons stories vertel, musiek maak, gesprekke voer, lees, skep en saam kuier.
“Dit is vir ons belangrik dat Afrikaans ’n lewende en inklusiewe taal van deelname bly, en daarom probeer ons mense van verskillende ouderdomme en belangstellings by die ruimte betrek. Kinders kan na stories luister, jongmense en volwassenes kan kunstenaars en gesprekke ervaar, en RSG kan sy verhouding met sy luisteraars verder uitbou.”
Die program by die RSG/ATKV-vierkant:
Saterdag 3 Oktober
10:00 | Christelle Webb-Joubert gesels met verskeie gaste
13:00 | RSG: Naweekaktueel
14:00 | Jak de Priester
Sondag 4 Oktober
10:00 | Die Reine Wynheid met Martelize Brink, gaste en verskeie kunstenaars
14:00 | Deon Meiring
20:00 | RSG: Kommentaar
Maandag 5 Oktober
07:00 | RSG: Op en Wakker
10:00 | Deon Meiring
11:00 | Selby Williams
12:00 | RSG: Spektrum
13:00 | RSG: Driesestig
17:15 | Via: Bier-uur
Dinsdag 6 Oktober
07:00 | RSG: Op en Wakker
10:00 | Frieda van den Heever
11:00 | Christelle Webb-Joubert
12:00 | RSG: Spektrum
13:00 | RSG: Driesestig
15:30 | RSG: Kuns met kontant
17:15 | Via: Bier-uur
Woensdag 7 Oktober
07:00 | RSG: Op en Wakker
10:00 | Anna Davel
11:00 | Konstant Wieser en Mark Pekeur
12:00 | RSG: Spektrum
13:00 | RSG: Driesestig
15:30 | RSG: Kuns met Kontant
17:15 | Via: Bier-uur
Donderdag 8 Oktober
07:00 | RSG: Op en Wakker
10:00 | Joshua na die Reën
11:00 | Brandon October
12:00 | RSG: Spektrum
13:00 | RSG: Driesestig
15:30 | RSG: Kuns met kontant
17:15 | Via: Bier-uur
Vrydag 9 Oktober
07:00 | RSG: Op en Wakker
10:00 | RSG-Landbou
11:00 | Stephanie Baartman
12:00 | RSG: Spektrum
13:00 | RSG: Driesestig
Saterdag 10 Oktober
10:00 | RSG-Landbou
11:00 | Almero Welgemoed
12:00 | Leon Ferreira
13:00 | RSG: Naweekaktueel
14:00 | Petronel Baard