Luister Donderdagaand net ná agtuur na die dokumentêr Nie vir haar gebou: Die Geslagsgaping in Ongelukke. Die dokumentêr is saamgestel deur Martelize Brink.
Vroue is meer geneig om ernstig beseer te word of te sterf in motorongelukke as mans, met ‘n 73% hoër waarskynlikheid van ernstige besering in vergelykbare ongelukke. Vroue ly meer beserings aan die onderste ledemate, buik en bors, terwyl mans meer geneig is tot rugbeserings en, oor die algemeen, meer noodlottige ongelukke.
Motors is oor die jare volgens mans se liggame ontwerp. Selfs die veiligheidstoetse is met manlike botstoetspoppe gedoen. Nuwe, meer akkurate vroulike botstoetspoppe word ontwikkel wat 150 sensors bevat om die spesifieke impak op ‘n vrou se liggaam te meet.
Alhoewel sommige vervaardigers jare lank vroulike toetse insluit, is dit eers onlangs dat omvattende en standaard vroulike poppe ‘n fokuspunt in veiligheidsnavorsing word
Craig et al. (2026) het ook 22 jaar se data van ernstige en noodlottige beserings wat op die NASS-CDS en die Crash Investigation Sampling System (CISS) in die VSA gehou is, gekombineer.
Die Versekeringsinstituut vir Snelwegveiligheid (IIHS) se navirsing het uitgelig dat vroue, op ‘n per-botsing basis, 20-28% meer geneig is om dood te gaan en 37-73% meer geneig is om ernstig beseer te word.
Gaste
Die navorser wat die eerste vroulike botstoetspop ontwikkel het, Prof. Astrid Linder, PhD, Msc. Professor, Verkeersveiligheid, verbonde aan Chalmers Universiteit van Tegnologie in Swede, Monash Universiteit in Australië en die Sweedse Nasionale Pad- en Vervoernavorsingsinstituut.
Kyk na die video waar Astrid Linder, wat die eerste vroue botstoetspop in Swede ontwikkel het, verduidelik hoe die toetse gedoen is.




Dr. Cornel de Jongh is ’n forensiese biomeganiese ingenieur met ’n PhD in meganiese ingenieurswese met ‘n fokus op biomeganika, en meer as twee dekades se ervaring in die ontleding van motorbotsings, beseringsmeganismes en voertuigveiligheid. Hy dien gereeld as deskundige getuie in regsake in die VSA waar hy die biomeganika van botsings en die waarskynlikheid van beserings evalueer. Sy werk kombineer ingenieurswese, anatomie, fisiologie en mediese wetenskap om die bewegings en kragte waaraan die menslike liggaam tydens ’n botsing blootgestel word, te verstaan en te verduidelik. Met ’n besondere belangstelling in voertuigveiligheid en botsingsnavorsing fokus Dr. de Jongh op die wetenskap agter veiligheidstelsels soos veiligheidsgordels, lugsakke en botsingstoetspoppe (crash test dummies).

Marnus Hattingh, motorjoernalis.
Minesh Bhagaloo, Hoof van Openbare Betrekkinge en Voorspraak van die Automobielvereniging van Suid-Afrika
Belangrike verskille in beserings
Nekbeserings: Vroue is drie keer meer geneig om sweepslag en ander nekbeserings op te doen as gevolg van verskille in neksterkte en sitposisies.
Onderste ledemaatbeserings: Vroue het ‘n 62% hoër kans om beserings aan hul bene, voete en enkels op te doen.
Buik en bors: In soortgelyke ongelukke is vroue aansienlik meer geneig om beserings aan hul buik en bors op te doen as mans.
Rugbeserings: Mans is meer geneig om rugbeserings as hul primêre besering te ervaar.
Redes vir Verskille
-Histories het motorveiligheidstoetse staatgemaak op poppe gebasseer op die gemiddelde manlike liggaam (50ste persentiel), wat veiligheidstelsels minder effektief vir vroue maak.
-Vroue sit dikwels nader aan die stuurwiel om pedale te bereik, wat hulle nader aan die ontplooiing van lugsakke plaas, terwyl verskille in ruggraatkromming ook ‘n rol speel.
– Verskille in tipes voertuie wat bestuur word en die erns van ongelukke, met mans dikwels in groter voertuie of as die bestuurder, kan beseringspatrone beïnvloed.
-Alhoewel mans meer geneig is om betrokke te wees by noodlottige ongelukke, hoofsaaklik as gevolg van hoëspoedongelukke, is vroulike bestuurders meer vatbaar vir ernstige torakale en ruggraatbeserings in soortgelyke ongelukscenario’s.
Historiese voertuigontwerp en veiligheidstoetse is op die gemiddelde manlike liggaam gefokus, wat ‘n “geslagsdatagaping” skep wat vroue met ‘n hoër risiko laat. Alhoewel daar wel vooruitgang is, is vroue statisties meer geneig om ernstig beseer te word of te sterf in motorongelukke as gevolg van veiligheidstelsels (veiligheidsgordels, lugsakke) wat nie rekening hou met vroulike fisiologie nie.