Skip to content

Luister Donderdagaand na ‘n sielkundige riller

RSG NOU

Luister Donderdagaand na ‘n sielkundige riller

2026-06-02

Die radiodrama Een, Twee, Drie, Blok Myself, geskryf en geregisseer deur Karen Wessels, is ’n spanningsvolle sielkundige riller wat diep delf in die onderdrukte psige van die mens en die brose, soms wrede grens tussen werklikheid en illusie. Dit was ‘n finalis in die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Die rolverdeling sluit sterk karakteruitbeeldings deur Amanda Strydom, Pierre Breytenbach, Natasja Jacobs, Pietie Beyers, Zane Meas en Jakkie Groenewald in. Elke karakter is ’n draer van hul eie pyn, geheime en morele grys areas.

Een, Twee, Drie, Blok Myself is ’n rou en eerlike drama wat vrae stel oor identiteit, herinneringe en of ’n mens werklik van jouself kan wegkruip. Die storie en akteurs se spel kruip onder jou vel in, smokkel met jou kop, en dwing jou om te vra hoe veilig jou eie herinneringe werklik is wanneer die waarheid begin terugveg.

Een, Twee, Drie, Blok Myself is Donderdagaand 4 Junie in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG App te hoor en is dan beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Die storie

Die drama speel af in die hede en kombineer spanningsvolle, emosionele diepte en subtiele humor teen die agtergrond van ’n plattelandse kroeg en ’n afgesonderde gemeenskap.

Monika, ’n voormalige polisievrou met ’n geskiedenis van verslawing en trauma, word gekonfronteer met haar verlede wanneer haar onderdrukte herinneringe begin terugkeer. Die verhaal ondersoek temas soos die onderdrukking van die werklikheid en die blywende impak van onopgeloste trauma.

Wanneer ’n aantreklike vreemdeling, Walter, opdaag en haar wêreld stadig begin ontwrig, word dit duidelik dat alles nie pluis is nie. Soos Monika se werklikheid begin verbrokkel, word die luisteraar meegesleur in ’n spanningsvolle onthulling van verborge geheime, skuldgevoel, en ’n verlede wat weier om begrawe te bly. Die drama word gedra deur intense dialoog, atmosferiese klankontwerp en musiek wat as emosionele leitmotief dien.

Die riller maak sterk gebruik van musiek – veral die liedjie “Sonder Jou” deur Gé Korsten dien as ‘n ontstellende voorbode en ‘n emosionele sneller. Regie word ook behartig deur Karen Wessels.

Agter Zane Meas, Pietie Beyers, Pierre Breytenbach, voor Amanda Strydom, Natasja Jacobs en Jakkie Groenewald copy

Agter van links na regs: Zane Meas, Pietie Beyers en Pierre Breytenbach. Voor is Amanda Strydom, Natasja Jacobs en Jakkie Groenewald.

Deel nou