Skip to content

Reis saam met RSG op Bessie se onthoupad

RSG NOU

Reis saam met RSG op ‘Bessie se onthoupad’

2025-08-26

“Die saamstap op Bessie se onthoupad herroep die lief en leed van ‘n klein gemeenskap in die tyd van houtstowe, Valiants, inryteaters, aanmaakkoeldrank, tuisgebakte koekies, dikwielfietse, en laagwaterbruggies; die kortsigtigheid, veroordeling en naïwiteit wat daarmee saam gegaan het, maar ook die samehorigheid en onbaatsugtige naasteliefde.” So skryf die resensent Anschen Conradie oor wyle Madelein Rust se roman, Bessie se hangkasbiblioteek.

Dié boek, wat op ‘n ware karakter geskoei is, word vanaf Dinsdag 26 Augustus elke weeksoggend om 10:45 op RSG voorgelees. Die veelbekroonde aktrise en stemkunstenaar Rika Sennett skuif agter die mikrofoon in vir dié nuwe voorlesing. Sy was onder andere die voorleser van Elsa Joubert se Spertyd op RSG.

Madelein Rust was nie net ’n briljante en veelsydige skrywer nie, maar ook ’n merkwaardige mens. Intelligent met ’n sin vir humor, deernisvol, en altyd blymoedig, ondanks die fisieke stryd wat sy so dapper die laaste vyf jaar trotseer het. Sy is vroeër vandeesmaand in die ouderdom van 58 jaar oorlede.

Meer oor die storie

Bessie Botha, deesdae weduwee Botha, woon saam met haar broer, Willem, op ’n kleinhoewe buite Bloemfontein. 1974 was tot dusver nie ’n goeie jaar nie, en om alles te kroon is oorlede Stefaans se welgestelde broer en sy jong neus-in-die-lug vrou op pad om te kom kuier. Wanneer die veertienjarige Annatjie de Villiers weer een Sondag ná kerk langs die treinspoor staan en flikkers gooi vir al wat ’n treindrywer is, besluit Bessie om die tiener onder haar vlerk te neem.

RSG nooi jou om saam met ons uit te vind wat Bessie se hangkasbiblioteek alles oplewer. Dis Madelein Rust op haar joligste, deernisvolste beste!

Daar is geen potgooi van die oggendboekvoorlesing nie, so maak seker dat jy elke weeksoggend inskakel.

Deel nou