Luister weer na Ek mis my kind, ‘n dokumentêr deur Esté de Klerk, wat werp lig oor wat ouervervreemding is, en wat ouers wat van hul kinders vervreem word, te doen staan.
Ouervervreemding is die ergste vorm van emosionele kindermishandeling wat toegepas kan word, omdat die kind – wat doelbewus deur sy een ouer van sy ander ouer vervreem word – tot só ‘n mate geïndoktroneer word, dat hy of sy gevoelens van haat teenoor die teikenouer begin koester. In die meeste gevalle is hierdie gevoelens ongegrond. Die kort- en langtermyn impak op die kind wat vervreem word, kan verwoestende gevolge hê, en litigasie in die hof is dikwels vir die teikenouer emosioneel en finansieël uitmergelend.
Agtergrond
Tot aan die begin van dié jaar, het ek nie geweet wat ouervervreemding is nie. Ek het ‘n oproep gekry om te vra dat ek ‘n dokumentêr hieroor moet doen, om bewustheid te kweek oor wat ouervervreemding is, presies hoe dit deur een ouer afgedwing word, en hoe die slagoffers daarvan, geraak word.
Die oproep het gekom van iemand wat ek reeds dekades lank ken, en wat tans in ‘n egskeidingstryd gewikkel is. Dié persoon – en haar kind – het die slagoffers geword van ouervervreemding. Dié oproep, en die emosies wat die persoon met my gedeel het, het my diep geraak, en my genoop om te gaan oplees oor ouervervreemding en met kundiges daaroor te gaan praat in die hoop dat dié dokumentêr, Ek mis my kind, meer lig sal werp op hierdie fenomeen in ons samelewing en kan raad gee aan ouers wat ook daaraan blootgestel is, en soos ander in hulle skoene, dieselfde pad stap.
“Dis ‘n bitter eensame pad om te stap,” sê Maryna aan my in dié dokumentêr.
Sy praat nie onder haar eie naam nie, omdat sy die integriteit van haar minderjarige kinders wil beskerm.
“Ek voel uitgewas en emosioneel verwoes. As ek in die aande in my bed klim, wonder ek wat aangaan in sy (haar seun se) hart en of hy een keer aan my gedink het? Dit is ook elke dag ‘n rouproses want ‘n mens het ‘n kind verloor, en al lewe die kind nog, weet jy nie presies wat aangaan nie.”
WAT IS OUERVERVREEMDING?
Ek het die strafregkenner, senior advokaat Francois Botes – wat ook in Familiereg spesialiseer en dikwels in ouervevreemdingsake optree – geraadpleeg oor veral hoe die regsproses ontvou in die soort sake.
Adv. Botes het ouervervreemding só gedefinieer: “Ouerververvreemding is die wederregtelike en opsetlike beïnvloeding van ‘n kind om negatief gesind te raak teenoor die ander ouer en dit gebeur in ‘n omgewing wat die vervreemde ouer, met ander woorde die ouer wat die vervreemding toepas, skep, met die doel om die ander ouer in die oë van die kind só negatief te maak, en af te breek dat dit tot ‘n groot mate, indien nie uitsluitlik nie, op kindermishandeling neerkom.”
Ouervevreemding kan deur een ouer afgedwing word terwyl ouers steeds in die dieselfde huis woon, maar kom veral voor wanneer twee ouers in ‘n hoë-konflik egskeidingstryd gewikkel is.
Die Suid-Afrikaanse Kinderwet is in 2008 geproklameer en het ten doel om die belange van die kind te beskerm. Die hulp van kliniese sielkundiges, maatskaplike werkers en veral die Kantoor van die Gesinsadvokaat word ingeroep wanneer dié sake in howe aangehoor word, sé advokaat Botes.
HOE ONTWIKKEL OUERVERVREEMDING?
Ouervervreemding word progressief in drie fases toegepas en in elkeen van dié fases verander die kind se gedrag meer negatief teenoor die teikenouer. Dit kan oor ‘n kort of lang tydperk gebeur.
Die kliniese sielkundige, dr. Marilé Viljoen sê die gedrag van die vervreemde kind teenoor die teikenouer sal tydens dié fases wissel. Tydens die eerste en sagte fase, sal die kind steeds met die ouer wil kontak hê, maar dié gedrag sal tot so ‘n mate verander dat die kind in die laaste en ernstige fase sal verander tot totale verwerping, vyandigheid, negatiewe boodskappe en selfs ‘n gebrek aan skuldgevoelens teenoor die teikenouer.

Die kort- en langtermyn impak op die kind kan egter verwoestend wees.
