Skip to content

Luister saans na die voorlesing van die finale Bergengel boek

RSG NOU

Luister saans na die voorlesing van die finale Bergengel boek

2025-10-19

RSG-luisteraars het reeds vir jare saam met die skrywer Carina Stander op ’n merkwaardige reis deur haar veelbekroonde en geliefde Bergengel-reeks gegaan. Nou, op Donderdag 23 Oktober, begin die laaste hoofstuk van hierdie epiese vertelling, wanneer Die Waterplek: Gabriëllië as laataandboekvoorlesing op RSG uitgesaai word. Luisteraars kan voorlesings uit dié laaste boek elke weeksaand ná 21:00 op RSG beleef. Dit is die vierde en finale boek in die reeks  en volg op Die Bergengel, Die Wonderwese en Die Waterplek: Afrika.

Die Waterplek: Gabriëllië bring nie net ’n einde aan ’n geliefde storie nie, maar ook aan ‘n kreatiewe samewerking wat oor jare heen geslyp is. Die skrywer Carina Stander, die regisseur Amor Tredoux en die leser Pieter van Zyl het saam met die RSG-span ‘n wêreld geskep waarin luisteraars weggevoer is na die ryk verbeeldingslandskap van Gabriëllië, die Onbekende Eilandgroep van Afrika, en die lewenspad van Eron Verberger, die honderdste Bergengel.

In Die Waterplek: Gabriëllië vaar Eron saam met sy pa, Gibor, en ‘n groep vlugtelinge terug na hul vaderland. As intellektuele rebel en visionêre leier word Eron in hierdie laaste hoofstuk gekonfronteer met die Uitdooftyd, ‘n tyd waarin ‘n antieke, duister mag sy kop uitsteek. Wat volg is ‘n stryd teen bose magte, interne verdeeldheid en misterieuse verdwynings, alles teen die agtergrond van ’n volk op die rand van vernietiging. Eron moet besluit of hy in staat is om die lig en donker in homself te versoen, en of hy werklik die wêreld waarin hy leef, kan red.

Die verhaal is nie net ‘n fiktiewe avontuur nie, maar ‘n diep persoonlike onderneming vir Stander. In ‘n openhartige refleksie op haar skrywerspad sê sy dat sy eers ná die voltooiing van die reeks besef het hoe haar eie lewe, van haar kinderdae op ‘n plaas in Limpopo tot haar opleiding in beeldende kuns, subtiel verweef is met die wêreld van die Bergengel-boeke. Sy het met opset ‘n afstand tussen haarself en haar hoofkarakter geskep, maar uiteindelik besef dat elke aspek van haar lewe –  haar ouma se vergeetagtigheid, haar ma se liefde vir taal, haar eie werk met bronsgieters en houtwerkers – hul pad na die bladsye van die reeks gevind het. Sy noem dat hierdie verhaal nie bloot ‘n produk van verbeelding is nie, maar ‘n diep persoonlike verklaring van wat sy glo: oor vryheid, oorlog, genesing, identiteit, vriendskap en verlies.

Pieter van Zyl, die stem agter al vier boeke, vertel hoe diep die reeks hom geraak het. Reeds met die eerste paragrawe van Die Bergengel het hy gevoel dat iets besonders wag, en die teks het hom laat bewe van opwinding. “Die ontdekkingsreis van ’n jong man het iets argetipies in my beweeg,” sê hy. “Die poëtiese teks bekoor soos musiek of beeldhoukuns.” Volgens Pieter is dit onmoontlik om die boeke van mekaar te skei, hulle vorm een deurlopende verhaal wat al hoe meer epies en diep raak. Hy hoop dat Die Waterplek: Gabriëllië luisteraars net so sal meevoer soos die vorige boeke.

Die produksie van hierdie reeks is ‘n samewerking wat met sorg en passie benader is. Die regisseur Amor Tredoux het deurgaans gesorg dat die voorlesings nie net professioneel is nie, maar ook die magiese, byna mistieke gees van die boeke eer. Hierdie projek is meer as ’n boekvoorlesing, dit is ’n klankervaring wat luisteraars op reis neem deur ’n wêreld wat gelyktydig vreemd en vertroud is.

Carina Stander bestempel die skryf van die reeks as ’n 22-jaar lange pelgrimstog. ‘n Proses van bloedsweet, liefde en onthulling. Sy bedank elke leser en luisteraar wat die pad saam met haar gestap het. “My wens is dat die verhaal deur die radio heen tot in julle karre en kombuise, huise en harte sal warrel; dat dit vertroosting sal bring en luisteraars sal vul met afwagting, frustrasie, vrees, woede, skaterlag en verwondering,” sê sy. “Mag die kinkels julle onkant vang, mag die bedreigings in die verhaal julle slapelose nagte gee en mag hierdie laaste reis julle verbeeldings verruim soos wat dit myne verruim het.”

RSG nooi  luisteraars uit om hierdie laaste deel van die Bergengel-reeks saam te beleef. Skakel  vanaf Donderdag 23 Oktober op weeksaande ná 21:00 in op RSG vir die laataandboekvoorlesing.

Deel nou