Die drama, Daar leef mense daar (2012), word vanaand om agtuur weer uitgesaai as huldeblyk aan die bekroonde dramaturg Athol Fugard wat vroeg in 2025 oorlede is.
Fugard was alom bekend as dramaturg van protesteater. Met Daar leef mense daar (People are living there) beeld hy in die tragikomedie ’n middeljarige vrou, Millie, uit wat vasgevang is tussen haar verlange na betekenis en die harde werklikheid van haar eensaamheid.
Die toneelstuk is vertaal deur Marko van der Colff en vir die radio verwerk en regisseer deur Margo Luyt.
In die rolverdeling is Deidre Wolhuter, Johann Nel, Wessel Pretorius en Hannah Borthwick.
Die toneelstuk is vir die eerste keer in 1968 in Suid-Afrika opgevoer.
https://omny.fm/shows/radioteater/daar-leef-mense-daar-deur-athol-fugard
Die storie
Die radiodrama speel af in ‘n vervalle losieshuis in Johannesburg met ‘n paar karakters wat elkeen hulle eie storie het om te vertel.
Millie, die middeljarige eienares van die losieshuis, wat afgesonder en onvergenoegd voel, probeer te vergeefs die aandag van ‘n lang verlore kennis trek. Op die vooraand van haar verjaarsdag besluit sy om ‘n partytjie saam met haar loseerders te hou in ‘n poging om te bevestig dat “mense daar woon”, dat hul lewens betekenis het ten spyte van hul onbekendheid en eensaamheid. Soos die aand ontvou, verander die partytjie in ‘n rou, emosionele konfrontasie oor mislukking, veroudering en die behoefte aan menslike verbintenis.
Die loseerders in haar huis word opgekommandeer om haar met hierdie planne by te staan.
Don is ‘n filosoof van aard wat sy intellektuele vermoë laat geld deur gedurig Millie se geestestoestand te analiseer.
Shorty, ‘n ongeskoolde posbode, loseer saam met sy vrou Sissy by Millie.
Daar leef mense daar deur Athol Fugard, 6 November op RSG en rsg.co.za om 20:00. Beskikbaar op rsg.co.za as Potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.
