Glanspaartjies en die leefwêreld van bekendes is nie altyd maanskyn en rose nie. In Desembersterre wat op 13 November uitgesaai word, het Helena Hugo haar ervaring as aktrise en skrywer vervat in ‘n pittige komedie wat juis die wel en weë van die voorbladgesigte ontbloot. Geniet ‘n kykie agter die skerms in die lewe van TV-sterre.
Die storie
Desembersterre is geskoei op ‘n komiese liefdesverhaaltjie wat Helena ‘n paar jaar gelede geskryf het. Dit is gebaseer op haar eie ervaring van die toneelwêreld, die wel en weë van akteurs, aktrises en ja, gewilde sepiespelers.
Agter die skerms is hulle ook maar net gewone mense wat hopelik soms vir hulself kan lag.
Die lewens van bekende sepiesterre prikkel die verbeelding van Jan Alleman. Voorblaaie vertel die stories van hul lewens agter die kameras. Deesdae neem sterre die storie in hul eie hande en deel hul lewens op sosiale media. Beide die platforms vertel steeds net geselekteerde en soms gepoetste weergawes van dit wat die sterre en die vervaardigers met ons wil deel.
Desembersterre bied ‘n humoristiese kyk op die regte lewens van ‘n paar sepiesterre en ons leer meer oor hul persoonlike en professionele uitdagings.
Die akteurs
Lizelle Pike, Dihan Keun, Botha Enslin, Mia-Anne O’Kennedy, Sean Brebnor en Rian Terblanche is in die rolverdeling.
Van die skrywer – Helena Hugo
“Ek het my CV gaan raadpleeg en met ‘n skok besef dat ek my eerste radiotekste, al in 1978 geskryf het: Atlantis, ‘n vervolgverhaal van 15 episodes vir Iris Bester se Jongspanateljee.”
Daarna het sy verskeie boekverwerkings gedoen voordat sy haar eie stories vir volwassenes begin skryf en opgevoer het. Sy is nogal trots is op haar ATKV-veertjie vir Swane. “Radiodrama as genre fassineer my geweldig en ek is dankbaar dat ek steeds my bydrae kan lewer,” sê Hugo.
Van die regisseur – Estel de Beer
“Ek het besluit om die karakters, selfs wanneer hulle nie op die kassie is nie, ietwat as karikature uit te beeld. Nie omdat akteurs in die regte lewe altyd so is nie, maar omdat die publiek soms vergeet dat akteurs ook net gewone mense is.”
Helena se spitsvondig skryfstyl en dialoog in die drama het juis ruimte geskep vir die interpretasie. Ons leun werklik in die drama in.
Desembersterre het talle musiekbrûe. Dit spreek ook tot die wêreld van die vermaaklikheids-industrie waar musiek ‘n groot rol speel in die vervaardiging van produksies. Daar is deur die hele drama van instrumentale musiek gebruik gemaak sodat die enigste dialoog die van die akteurs is, juis omdat die kollig altyd op hulle val. Die liedjies is egter nie lukraak gekies nie en musiekliefhebbers wat die liedjies herken sal verstaan hoe die lirieke (wat jy in jou gedagtes kan saamsing) by spesifieke tonele inpas.




