Skip to content

Ons nuwe Bekbasaar ‘Die Reine Wynheid’ is ‘n ryk verkenning van SA se wynerfenis

RSG NOU

Ons nuwe Bekbasaar 'Die Reine Wynheid' is 'n ryk verkenning van SA se wynerfenis

2025-11-18

RSG, Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie, is verheug om die bekendstelling van sy nuutste, opwindende bekbasaar, Die Reine Wynheid, wat fokus op wyn en alles wat daarmee te doen het, aan te kondig.

Onder leiding van die ervare radiopersoonlikheid Martelize Brink, beloof hierdie program om luisteraars op ‘n intieme en insiggewende reis deur die ryk en diverse wêreld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te neem.

Die Reine Wynheid is meer as net ‘n program oor wyn; dit is ‘n viering van ons nasionale wynerfenis, wat strek van die historiese begin in 1659 tot die hedendaagse wyn-innoveerders.

Martelize Brink sal weekliks legendes, nuwe wynkunstenaars, sommeliers, wingerdboukundiges, bemarkers en passievolle sjefs in die ateljee verwelkom.

Wat Luisteraars Kan Verwag:

  • Historiese Rykdom: Die program delf in die nalatenskap van ikone soos Groot Constantia, die impak van die KWV, en die opkoms van streeksfenomene soos die “Mavericks van Malmesbury”.
  • Diverse Stemme: ‘n Platform vir groot en klein wynprodusente uit al die wynstreke van Suid-Afrika, wat hul stories, uitdagings en suksesse deel.
  • Insiggewende segmente: Martelize se weeklikse segment “my wyn van die week” bied persoonlike aanbevelings, terwyl sy ook interessante en soms vreemde wynfeite van regoor die wêreld deel.
  • ‘n Speelse Afsluiting: Elke episode eindig met vyf vinnige, persoonlike vrae aan die gaste, insluitend die heerlike intrige: Wie is hulle wynmaker “crush” en indien hulle ‘n wyn was, watter wyn sou hulle persoonlikheid die beste verteenwoordig?

“Ons is ongelooflik opgewonde oor Die Reine Wynheid,” sê Louise Jooste, RSG se Sakebestuurder.

“Hierdie program beklemtoon RSG se verbintenis om kwaliteit, opvoedkundige en vermaaklike inhoud te verskaf wat luisteraars toelaat om hulself te verdiep in die passie en kundigheid agter een van Suid-Afrika se trotse bedrywe. Martelize Brink se kundigheid en warmte maak haar die ideale gids vir hierdie bekbasaar.”

“Dit is vir my heerlik om hierdie Bekbasaar aan te bied,” sê Martelize Brink “Ons wynbedryf en sy mense is vol stories, heerlike interessanthede en stories wat jy eksklusief op die bekbasaar sal hoor.”

Die Reine Wynheid sal beskikbaar wees op al RSG se digitale platforms (rsg.co.za, SABC+, Spotify en YouTube).

Jy kan elke Woensdag uitsien na nuwe episodes. Luister saam en word deel van die gesprek wat die ryk, vrugbare grond van ons wynkultuur eer.

 

Deel nou