Luister weer na Vermis, Ophelia deur Maria Vos op RSG.
Vermis, Ophelia is ’n heerlike, ligte luister ervaring. Dit is ’n warm, goedvoel-storie wat deur misverstande, dorpdrama en miskommunikasie aan die gang gesit word.
Die inspirasie vir Vermis, Ophelia deur Maria Vos (Dit Klink na Donderweer (2021), Wie Nie Wil Hoor Nie (2022), Lank Lewe die Keiser (2023) spruit uit ’n lekker dag in die Overstrand toe Maria tydens die plaaslike kerkbasaar agter die koektafel gewerk het. (Sover sy weet het geen skenkings hier uit die saal ontsnap nie.)
Juanita de Villiers het die regie behartig.
https://omny.fm/shows/radioteater/vermis-ophelia-deur-maria-vos
Die storie
Nella kuier op ’n klein kusdorp om haar ouers te help intrek, maar nadat sy met die uitpakslag ’n klompie glase breek, besluit haar ma sy wat Nella is moet eerder die plaaslike kerkbasaar se reëlings oorneem.
Dié eenvoudige guns ontaard in ’n besonder stresvolle geleentheid toe ’n boer met die verkeerde soort skenking opdaag en die buurdorp se oorbedrywige polisiesersant die kleinvee aan die stert beetkry.
Die akteurs
Lizelle Pike, Pietie Beyers, Elzette Maarschalk, Hannes Brümmer, Nana Stapelberg en DeWaal Stemmet in die rolverdeling.
Die aktrise Elzette Maarschalk is met hierdie radiodrama uit haar aftrede gelok. Dit is 35 jaar sedert sy laas in ’n radiodrama gespeel het, en ons is almal ongelooflik bly — haar talent is eenvoudig uitsonderlik.
Van die regisseur – Juanita de Villiers
Dit was heerlik om ’n teks te ontvang wat lig van toon is, met ’n scenario wat regtig snaaks uitspeel. Die belangrikste vir ons was om ’n natuurlike vloei te behou tussen die twee hoofliggings waar die verhaal afspeel. Hierdie oorgange bepaal die stemming en gevoel van die storie.
Ons het ook daarop gefokus dat die ritme en aanslag van die twee ruimtes duidelik hoorbaar moet wees. By die basaar is dit besiger, selfs effens chaoties, terwyl dinge in die Verbarium stadiger en meer ingestel beweeg. Hierdie kontras help ook om die komedie van die situasie uit te lig.
Verder het ons seker gemaak dat die spel so eerlik en opreg as moontlik bly. Al is dit ’n komiese situasie, is dit nie ’n klug nie — sulke misverstande gebeur daagliks in die regte lewe wanneer mense mekaar misverstaan of net nie mooi luister nie. Dit gee die storie sy menslike kern.
Al hierdie elemente saam maak dit ’n radiodrama waarby ’n mens gemaklik kan terugsit en vir sowat 50 minute jou eie wêreld kan vergeet.
Vermis, Ophelia is ná die uitsending beskikbaar op Potgooi en Spotify.
