‘n Moord, baie geheime, verskuilde agendas, ‘n bekommerde vriendin en ‘n verliefde swaer is van die bestanddele van Vlugvoos, deur Ronel Mostert.
Die spelers is Juanita de Villiers, Mariëtte Engelen, Anton Engelen, Andreas Jordaan en Claudia Jones. Die regisseur is Ina Strydom.
Ja, alles is nie altyd soos wat dit lyk nie – en die liefde laat hom nie voorskryf nie!
https://omny.fm/shows/radioteater/vlugvoos-deur-ronel-mostert
Die storie/As ‘n mens se sondes jou inhaal…
In RSG Radioteater op 4 Desember word daar na ‘n moordenaar gesoek – en die logiese verdagte is die jong weduwee. Maar in Vlugvoos, deur Ronel Mostert, is alles nie soos wat dit op die oog af lyk nie.
Die weduwee Cumi was maar vir enkele maande met André getroud voor sy hom dood op die sitkamervloer aangetref het. Hulle het mekaar in Viëtnam ontmoet waar sy op vakansie was, en is ná ‘n blitsromanse getroud.
Skielik is daar verskeie geheime wat nou op die lappe kom – soos dat haar oorlede man ‘n broer en ‘n ouma het waarvan sy nie geweet het nie.
Hulle was ook nie van haar bestaan bewus nie. Sy weet ook nie eintlik wat Andre vir ‘n lewe gedoen het nie. En nou is sy die hoofverdagte in die moord.
Intussen wil haar oorlede man se familie haar beter leer ken. Daar is talle vrae. Wat het André weggesteek – en wat was die aard van sy transaksies in Viëtnam? Is Cumi so onskuldig soos wat sy voorgee? As sy nie die moord gepleeg het nie, wie het dan en hoekom?
Die akteurs en karakters
Kom ontmoet die karakters in Vlugvoos, en probeer die geheime ontrafel en die raaisels ontsyfer.
Benewens die jong weduwee Cumi (Juanita de Villiers) is daar ook Zander (Anton Engelen) die broer van die vermoorde André, en Ouma Ellie vertolk deur Mariëtte Engelen.
Dan is daar ook nog Lyla (Claudia Jones) Zander se assistent en vriendin wat glad nie geneë is met Cumi se teenwoordigheid nie.
Die polisieman wat die moord ondersoek is Kaptein Steyn (Andreas Jordaan).
Alles is nie soos wat dit lyk nie, en almal is nie so onskuldig soos wat hulle voorgee om te wees nie. Die vraag is net, wie praat die waarheid?
Die skrywer
Die skrywer, Ronel Mostert sê sy het die idee vir die storie gekry toe sy en haar man in 2017 met vakansie in Viëtnam was. “Tydens ons ekskursies, die ontmoetings met nuwe mense en die ontdekking van onbekende plekke, het ek besef dat Viëtnam se unieke atmosfeer en verhale ’n ryk agtergrond sou bied vir ’n radioteater.
Hierdie indrukke het die saad geplant waaruit die verhaal van Vlugvoos begin groei het – ’n storie waarin die misterie en geheime van mense se lewens verweef word met die kleurvolle wêreld en vele fasette van Viëtnam.”
Ronel het al verskeie radiodramas vir RSG geskryf, en haar debuutmiddagvervolgverhaal, Die spoke van Duinebult, is in 2022 uitgesaai. Sy het ook verskeie tydskrifverhale en ‘n roman op haar kerfstok.
Vlugvoos, deur Ronel Mostert word op 4 Desember om 20:00 in Radioteater op RSG en rsg.co.za uitgesaai en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending. Die regisseur is Ina Strydom.


