Luister op Kersdag na ‘n Wonderwerk vir Kersfees deur Riana Scheepers, met Joanie Combrink, Mariechen Vosloo, Anrich Herbst, Dean Balie en Rolanda Marais en Johan Rademan as die regisseur.
Dis Oukersdag, ‘n boom word versier, kerse word aangesteek, en ‘n feesmaal word voorberei vir die klein Barnard gesin en Chrisjan.
Die karakters wens elk vir hulle eie wonderwerk en dit is die katalisator wat ‘n wonderwerk vir almal laat gebeur. Vir sommiges goed en vir ander minder goed. Al die elemente van die Kersverhaal is kreatief verweef in hierdie besondere storie, wat losweg gebaseer is op werklike gebeure.
Die “wonderwerk” in hierdie drama is gebaseer op ‘n werklike gebeurtenis, wat die inspirasie vir die verhaal is. Dit het regtig so gebeur dat tannie Bettie Nysschen, ‘n bekende en geliefde figuur van buite Wildernis, haar huisdeur se sleutel gebruik het om haar bakkie oop te sluit en weg te ry nadat haar huis aan die brand geslaan het. (Egter nie tydens Kersfees nie.) Die res van die gebeure en karakters is fiktief.
https://omny.fm/shows/radioteater/n-wonderwerk-vir-kersfees-deur-riana-scheepers
Die storie
Tannie Sara (Joanie Combrink) is ‘n weduwee en bedryf ‘n padwinkel wat groente, vrugte, tuisgemaakte produkte, melk en eiers verkoop.
Wilhelm (Dean Balie), haar seun, help haar op die plot. Sy ideaal is om eendag sy ma te ondersteun as sy moet rus. Wilhelm is begaafd en wil graag gaan studeer met die bietjie geld wat hy en sy ma bymekaar kon maak.
Marie (Mariechen Vosloo) is Sara se dogter en hoog swanger.
Wilhelm het nie een goeie woord vir sy suster en haar kêrel, Chrisjan (Anrich Herbst), nie. Chrisjan identifiseer homself as ‘n profeet wat gedurig die Woord voorhou as sy morele kompas. Hy sien ‘n eienaardige ooreenkoms tussen Marie se swangerskap en die van Maria met die geboorte van Jesus.
Hy en Marie is nie getroud nie, maar onderneem om die kind groot te maak asof hy die Messias is.
Chrisjan se bedoelings is vaag en daar kan gewonder word oor sy lojaliteit teenoor die Barnard gesin. Wilhelm begin dit agter kom, maar Sara probeer net die vrede bewaar ter wille van die gesin
Kersdag om 15:00 op RSG of rsg.co.za en na afloop van die uitsending beskikbaar as potgooi of op Spotify.

