Skip to content

‘n Aksiebelaaide middagvervolgverhaal vir 2026

RSG NOU

‘n Aksiebelaaide middagvervolgverhaal vir 2026

2026-01-08

RSG begin die nuwe jaar met ‘n nuwe middagvervolgverhaal, Faksie, deur Ilne Fourie, wat vanaf 5 Januarie elke weeksdag om 14:45 uitgesaai word.

Fourie is geen vreemdeling vir aanhangers van radioteater nie, en is bekend vir haar spitsvondige komiese dialoog.

In Faksie het Ilne ‘n spannende, aksiebelaaide storie geskep.

Die ervare regisseur, Joanie Combrink gee die storie lewe.

Van die akteurs wat gehoor kan word is  Deon Lotz, Jacques Bessenger, Stefan Vermaak, Wilhelm van der Walt, Roeline Daneel, Conradie van Heerden, Marinda Botha, De Klerk Oelofse, Ilne Fourie, Rene Cloete en André Samuels.

Luister hier na Phil Loots se onderhjoud met Ilne Fourie: https://omny.fm/shows/driesestig-1/ilne-fourie-se-faksie-op-rsg

Ontmoet Du Preez-familie van Fortuna Trans

Faksie nooi die luisteraar in die sakewêreld en milieu van die Du Preez-familieonderneming, Fortuna Trans BPK, in.  Die Engelse gesegde lui nie verniet: “It’s a dog eat dog world…” nie.  Hierdie familie is net so koud en blink van buite soos die chroom-en-staalgebou van waaruit hulle hul sakeryk regeer. Die storie speel af in die hartjie van Johannesburg, die Stad van Goud. Dit is hier waar die slagtande tussen drie broers begin wys, en waar bloed nie dikker as water is nie.

Cor (Wilhelm van der Walt) is die aangenome seun van Laurinda (Marinda Botha) en Piet (Deon Lotz) du Preez. In ‘n gesin waar ‘n stiefbroer die derde lid van die  driemanskap van broers uitmaak,  is wedywering onafwendbaar. Stefan (Jacques Bessenger) en Rian (Stefan Vermaak) is Cor se stiefbroers. Elke broer vervul ‘n spesifieke rol in Fortuna Trans, en hulle is ‘n gedugte span.  Met hulle pa, Piet, aan die stuur van sake kan niks kwansuis skeefloop nie. Elke broer is egter van meet af aan besig met sy eie gekonkel binne die strukture van die besigheid – met verreikende gevolge.

Piet het ‘n swakheid vir die skoner geslag en dit kan hom duur te staan kom as hy nie versigtig  is nie. Maureen de Lange (Ilne Fourie) was 24 toe Piet haar aangestel het by Fortuna Trans. Sy werk al 31 jaar vir die maatskappy en het ‘n besondere sagte plek vir Cor. Anika (Karle Briedenhann) is die oorywerige jong sekretaresse wat vir Piet iets vir die oog verskaf, alhoewel sy haar visier op Cor het.

Soos enige familieryk moet daar ‘n erfgenaam wees om die leisels oor te neem. Norman (Conradie van Heerden) is Stefan en Janine (Roeline Daneel) se enigste seun en Piet en Laurinda se kleinseun. Norman is in sy matriekjaar en moet besluit wat hy met die res van sy lewe wil doen. Hy kry ‘n vakansiewerkie in Fortuna Trans as sy oupa se selfaangestelde inligtingstegnologiebeampte wat hom in kontak bring met iemand wat hom nie goedgesind is nie.

Shorty (De Klerk Oelofse) is Fortuna Trans se hoofwerktuigkundige en dryweropsigter. Die regte  kanale is nie gevolg met Shorty se aanstelling nie. Cor en Shorty was saam op skool en so het Cor hom met vervalste kwalifikasies deur die proses gedruk. Dié twee verdien ekstra inkomste met oorgrenssmokkelary. Met elke sending word die pap dikker aangemaak.

Arend Fillis (Heinrich Franse) begin as vakleerling onder Shorty werk en ontdek ongerymdhede wat oor ‘n lang tyd strek. Hy wys dit uit, en verwys dit na senior lede van die personeel.

Sandra Jacobs (Rene Cloete) is die vurige menslikehulpbronbeampte wat Arend beskerm en onverskrokke die waarheid nastreef.

‘n Smokkelsending ontvou met lewensgevaarlike oomblikke wat vir sommiges goed uitwerk, en vir ander die einde beteken. Sersant Allister Fortuin (André Samuels) moet die saak ondersoek om agter die kap van die byl te kom.

Faksie beloof om luisteraars vasgenael te hou tot die laaste episode.

Faksie,  deur Ilne Fourie, word vanaf 5 Januarie weeksdae om 14:45 op RSG uitgesaai.  Dit word ook aanlyn uitgesaai op die webwerf,  rsg.co.za en SABC PLUS. Elke episode is na afloop van die uitsending ook op potgooi beskikbaar op rsg.co.za en op Spotify.

Deel nou