Skip to content

Midas-musiek, raakpraat-gesprekke en rymklets in nuwe jaar op RSG

RSG NOU

Midas-musiek, raakpraat-gesprekke en rymklets in nuwe jaar op RSG

2025-12-31

RSG lui die nuwe jaar in met ‘n reeks boeiende reekse, wat insluit Ons praat dit uit met ds. PC Pretorius as die aanbieder, die sesde reeks van Die Midas van Musiek met Kobus Burger asook die bekroonde musikant en TV-aanbieder Frazer Barry wat die land gaan deurkruis in die vierde reeks van Rymklets sonder grense.

In Rymklets sonder grense, Donderdag 1 Januarie weekliks om 20:30, gesels Barry met verskeie rymkletsers verskeie rymkletsers oor onder andere die impak van kunsmatige intelligensie op die rymkletskultuur en hoe dit deur produksieleiers benut word.

Hy vra, hoekom gebruik talle van die jong rymkletsers deesdae meer en meer skoktegnieke om gehore te lok en hoe beïnvloed tronk- en bendetaal die eietydse musiek? Terselfdertyd is daar ‘n groot oplewing in Afrikaanse gospel-rymkletsmusiek, wat reeds groot aanhang geniet. Met die gehalte van rymklets wat met rasse skrede toegeneem het, gaan Barry RSG se luisteraars aan al die nuwe musiek, kunstenaars en tendense bekend stel.

Kom ons praat dit uit, vanaf Sondag 4 Januarie weekliks om 19:00, gaan gaan ds. PC Pretorius met Flip Loots as die regisseur, na onderwerpe soos selfbesering, verwerping, dwelms, geloofsonsekerhede, boeliegedrag, eensaamheid, liefdesprobleme en onbeheerbare gewelddadige gedrag kyk.

Die TV-aanbieder en radio-omroeper Lyntjie Jaars gaan oor selfbesering praat en die skrywer Ivor Swartz laat val die kollig op boeliegedrag. Ander gaste sluit in dr. Gustav Gous, prof. Nico Koopman, ds. Ivor Jefferies, ds. Trevor Links en dr. Rodney Seale.

Die sesde reeks van die gewilde Die Midas van Musiek begin op Sondag 4 Januarie om 14:00, met RSG se programbestuurder, Kobus Burger, wat weer agter die mikrofoon sal inskuif.

In hierdie splinternuwe reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos die Goombay Dance Band, Marilyn Monroe, The Platters, Johnny Cash, The Pointer Sisters, David Kramer, Vicky Leandros, Diana Ross & The Supremes asook die Gipsy Kings gehoor word.

In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.

Die maatstaf vir sukses in die popmusiekbedryf is dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle noodwendig daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.

Hierdie reeks stel nóg van hierdie Midas-musikante bekend en is ‘n voortsetting van die eerste, gewilde reeks wat sewe jaar gelede op RSG gebore is.

Volgens Kobus Burger sal daar suiwer nostalgie, verfrissende feite asook ‘n paar verrassings wees.

“Elke Midas-program is ’n ‘storie’ in die kleine. Dit verras my telkens as luisteraars my vir die stories, pleks van die meesleurende musiek en immergroen liedjies bedank,” sê Kobus.

“Die samestelling van Die Midas van Musiek is gewoonlik ‘n opwindende snuffeltog. Buiten die musiek – waarvan daar gewoonlik hopeloos te veel is om van te kies – is dit soos om vir ‘n paar dae in die voetspore van ‘n besonderse kunstenaar te loop en dan ietsie van daardie ontdekkingstog in klank te deel. Ek sien daarna uit om weer Sondae saam met die luisteraars te reis en hul luilekker middae met Midas se goud te omboor.”

Luister van Sondag 4 Januarie 2026, elke Sondagmiddag om 14:00, na Die Midas van Musiek met Kobus Burger.

Deel nou