Skip to content

Antie Mina se hoender- en mieliesop

RESEPTE

Antie Mina se hoender- en mieliesop

Fahiem Stellenboom

Lewer sowat 10 ruim porsies

Bestanddele

4 hoenderborsies, in blokkies gesny
2 blikkies soetmielies
1 blikkie gekapte tamaties, of 3 gerasperde vars tamaties
2 groot uie, fyngekap
2 vars rissies, fyngekap
250 g botter
2 ruim teelepels fyngedrukte knoffel
500 ml melk
500 ml water (miskien ’n bietjie meer, afhangend van die verlangde dikte)
2 eetlepels tamatiepasta
1 teelepel blaarmasala
1 teelepel masala
1 teelepel rissievlokkies
½ koppie vars dhanya (koljander)
sout en witpeper na smaak (ten minste ’n teelepel of meer van elk)
vars room

Afrondingsous
1 koppie asyn
½ koppie suiker
1 rissie, fyngekap

Metode

Smelt die botter in ’n groot pot oor hoë hitte.
Voeg die rissies en uie by, en smoor tot glansend en goudbruin.
Voeg die hoender by, en kook vir sowat 10 minute tot goed bedek en gaar.
Voeg die knoffel, blaarmasala, masala en rissievlokkies by.
Laat die geure vir nog sowat 10 minute goed met die hoender meng.
Voeg ’n bietjie water by indien nodig – net genoeg om die bodem van die pot nat te maak, nie te veel nie.
Voeg die soetmielies by, en dan die gekapte tamaties, tamatiepasta en water.
Voeg sout en peper na smaak by; voeg nog by indien nodig vir ekstra geur en skop.
Roer aanhoudend en laat die geure en kleure vir sowat 10 minute goed meng.
Voeg die melk by, en laat dit in die sop inkring.
Verlaag die hitte na medium sodat die sop nie brand of oorgaar word nie.
Voeg die room by, en kook liggies terwyl jy goed roer, vir sowat 10 minute.
Voeg die dhanya by, en laat vir ’n verdere 10 minute prut.

Afrondingsous
Meng alles goed saam.
Skep ’n ruim eetlepel (of twee) van bo-op elke bak sop.
Bedien onmiddellik.

Hierdie sop word ideaal bedien saam met ’n bros ciabatta-brood (in die oond verhit) en gegarneer met ’n bietjie dhanya om dit ekstra deftige flair te gee.

Deel nou

Deel nou