Op Donderdag 26 Februarie volg Kobus Rudolph se Die Soektog na Luitenant Muller Meiring se Ratel 72.
Die dokumentêr volg ’n 2018-toer van veterane van die 61 gemeganiseerde bataljon na Angola, waar hulle ná dekades se trauma en onverwerkte herinneringe weer die slagvelde van hul jeug besoek. ’n Kernfokus is die emosionele soektog na lt. Mielie Meiring se ratel-pantservoertuig, wat in 1988 vernietig is.
Honderd en vyf manne, sommiges het hulle vrouens saamgebring, het op dié toer na Angola vertrek. “Op die ou paaie van slagvelde en gevegte.”
Nie almal het besef watter impak, ‘n soort van vrymaking en afsluiting oor die verlede, dié toer sou hê nie. Baie van die oudsoldate en ouddienspligtes wroeg al vir jare oor die hartseer en pyn wat hulle as jong seuns ervaar het. Skaar 18 en 19 jaar en hulle moes gaan veg, die dood in die oë staar en ‘n vyand doodmaak.

Maar daar moes ook gesoek gaan word na Luitenant Muller Meiring se Ratel iewers in Angola.
Sewe van sy oudmakkers het spesiaal op die toer gekom om na die slagveld te gaan kyk waar hulle in betrokke was en dan ook na Mielie (sy bynaam) se Ratel 72 wat iewers in die bosse in Angola gelê het. Die hinderlaag waarin hulle vasgery het en Mielie wat moontlik deur ‘n RPG vuurpylrigter gedood is, bly steeds in hulle geheue.

Die toer in 2018, presies dertig jaar na Operasie Excite, is deur ‘n Angolese generaal geinisieër. So vêr as wat ons gery het, is ons deur ‘n vriendelike Angolese Polisie en BBP’s begelei, met verskeie onthale, toesprake en ontmoetings met ou Angolese veteraansoldate en vegters.
Verskeie ander slagvelde is besoek, waar ou weermagvoertuie, kanonne en ander toerusting onderstebo lê – geroes en verweer deur die elemente. So ook oorlogmuseums en o.a. die berugte brug by Cuito Cuanavale.
Jannie Nieuwoudt, tans ‘n boer van Ceres vertel hoe hy die slagveld en die gebeure daar onthou. Hulle was in ‘n absoluut ontspanne en rustige stemming toe hulle in die hinderlaag gery het en aangeval is. Totale chaos het gevolg.
61 Gemeganiseerde Bataljon se Veterane-Vereniging het kontak met Muller Meiring se ouers in Australië gemaak – Piet en Suzanne Meiring – hulle is ook reeds in hulle 80’er jare . Hulle het op Verkeerdevlei naby Bloemfontein geboer, maar na Muller se dood het hulle die erfplaas verkoop en saam met hulle dogters na Tasmanië verhuis. Suzanne Meiring was bereid om in 2018 en toe weer so maand gelede met ons te praat oor die skok, trauma en jare-lange pyn. Hulle boer tans met skape en Proteas en hulle kinders spog met die mooiste Laventellanderye.
Ons is baie dankbaar om te kon gesels met met Daniël Potgieter in die Kaap. Hy het ingestem om te gesels oor die pyn wat hy die afgelope 40 jaar dra asook die dag van 27 Junie 1988 toe Muller gesterf het. Lt Muller was ‘n Ratelbevelvoerder en Daniël was die kanonier op Muller se Ratel. Hy het langs Muller in die toring gesit, toe hulle deur die vuurpyl getref is. Hy “onthou dit so goed”(het hy paar keer herhaal) toe hy Muller uit die Ratel moes laai en na veiligheid toe bring. Hyself het verskeie skrapnel- en gesigswonde gehad en moes ook afgevoer word.


Onderhoude met oud-soldate, kundiges en beraders toon die diep pyn, verliese en behoefte aan afsluiting. die uiteindelike ontdekking van die ratel bring groot ontlading en herinnering vir die veterane, terwyl ’n gesprek met Meiring se moeder in Australië ’n aangrypende blik bied op die blywende impak van haar seun se dood op die gesin.
