Die nuwe oggendboekvoorlesing wat op Donderdag 19 Maart op RSG begin, is die bekende skrywer SD Fourie se Die Reis. Dit word voorgelees deur Bertha le Roux-Wahl en is uitgegee deur Protea Boekhuis.

Skakel vanaf 19 Maart weeksdae om 10:45 in die voorlesings uit Die Reis, deur SD Fourie, eksklusief op RSG.
Die storie
Mariza, ‘n skrywer verloor haar woorde ná drie traumatiese gebeure in haar lewe: haar man, met wie sy ‘n komplekse verhouding gehad het is oorlede; haar huis het afgebrand; en haar geliefde Jack Russell is dood.
Sy laat die huis herstel, maar haar drie kinders dring almal daarop aan dat sy in tuinwoonstelle by hulle moet kom woon. Mariza weier egter botweg. Dan ontmoet sy vir professor Joubert Hofmeyr, ‘n kultuurhistorikus. Hulle stamp koppe, maar besef daar is ‘n komplekse verweefdheid in hulle onderskeie verledes. Mariza en Joubert vertrek op ‘n landsreis na die Kgalikgadi, sodat sy haar woorde kan terugkry en hy meer kan uitvind oor een van sy voorsate.
Die reis
Die reis beslaan die grootste deel van die verhaal – maar dit is nie net die fisiese reis nie. Dit is ‘n reis deur Mariza se lewe sodat sy by die kern kan uitkom van wat haar daarvan weerhou om weer te skryf; ‘n reis deur die kollektiewe geheue van geslagte vroue in haar familie wat mekaar geslag op geslag beïnvloed.

Tydens die reis vertel Marize en Joubert om die beurt stories – en leer só op mekaar se paaie loop om te besef hoe die verlede die hede en die toekoms beïnvloed.
Die skrywer
SD Fourie is ‘n ou bekende by RSG-luisteraars. Twee van haar vorige boeke, Die dooies leef en Die lanternswaaier is voorheen op RSG voorgelees, en verskeie van haar radiodramas is al uitgesaai. Met Droomskip het sy in 2008 die eerste prys verower in die RSG Radiodramaskryfkompetisie.


