Skip to content

Méér musiek en reekse asook ‘n fees van wendramas op RSG

RSG NOU

Méér musiek en reekse asook ‘n fees van wendramas op RSG

2026-03-18

‘n Nuwe musiekreeks, ‘n fees van bekroonde wendramas, ‘n reeks oor emosionele wysheid en veerkragtigheid asook ‘n bekroonde joernalis en omroeper wat weer agter die mikrofoon inskuif, is vanaf April van die nuwighede op RSG se klankspyskaart.

Ons som vir jou die veranderings aan ons programskedule op. Dit geld van 1 April 2026.

Veranderings op Sondae

Die nuwe musiekreeks op Sondae om 13:00
Die omroeper en stemkunstenaar Christelle Webb-Joubert is die aanbieder van die musiekreeks, Duet, wat Sondae om 13:00 op RSG uitgesaai gaan word. Duet word saamgestel deur Ilse Schürmann en is deur dieselfde span wat verantwoordelik was vir Pure Poerring en sal bestaan uit ligte klassieke musiek, werke uit musiekspele en opnames van Pavarotti en Sting, Jannie Moolman en Corlea Botha, André Rieu en sy Johann Strauss-orkes asook Frank Sinatra en Liza Minelli, om net ‘n paar te noem.

Christelle Webb-Joubert

Nic se goed kom tot ‘n einde
Die veteraanakteur en -uitsaaier Nic de Jager (85) gaan ‘n welverdiende blaaskans geniet. Sy Sondagprogram, Nic se goed, word in Maart vir die laaste keer uitgesaai, maar herhalings van sy gewildste programme sal vanaf April steeds elke Saterdagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag op RSG gehoor kan word.

Nic het reeds verlede jaar in ‘n onderhoud aangedui dat dit “al hoe stadiger gaan” om sy program op te neem en dat hy dit dalk nog net vir ‘n “maand of twee” sou doen. Wat oorspronklik as ‘n dertien week lange reeks begin het, het egter vir twaalf jaar lank geduur. RSG en sy luisteraars is dankbaar dat Nic sy eklektiese musiekkeuse, ervarings, wyshede, uitsaai-ervaring en storievertellings vir so lank op lug met almal gedeel het.

Nic de Jager

U Eie Keuse skuif na Sondae om 12:00
Die oudste program op Afrikaanse radio (eerste program op 20 Oktober 1945), U Eie Keuse met Willem Pelser, sal vanaf April Sondae om 12:00 in die plek van Nic se goed gehoor kan word. Dié gewilde versoekprogram sal steeds saamgestel word uit die gunstelinge wat weekliks deur luisteraars aangevra word. Dit word vanaf April ook steeds elke Woensdagoggend tussen 01:00 en 02:00 herhaal.

Willem Pelser

Sondagmiddae is dus ‘n fees vir musiekliefhebbers met U Eie Keuse om 12:00, die musiekreeks Duet, om 13:00, en Jacqui January wat om 14:00 die gewyde program Dis gospel sal aanbied. Sondag met Fritz volg steeds om 15:00 tot 18:00.


Nuwe geestelike program op Sondagaande
Die berader, teoloog en musikant DJ Muller is die aanbieder van Binne en buite: Emosionele fiksheid en geestelike waardes, ‘n reeks wat handel oor innerlike krag. Daar is stories oor atlete, stresvolle werke, die eise van die alledaagse lewe en hoe veerkragtigheid, integriteit, nederigheid en geloof help om weer moed te skep en deur te druk. Die reeks bevat praktiese insigte en spirituele refleksie. Binne en buite word vanaf April elke Sondagaand om 19:05 uitgesaai.

DJ Muller

Veranderings op Woensdag- en Donderdagaande

Die bekroonde omroeper keer terug na Kompas op Woensdagaande
Chrislynn Sias, wat met ‘n Junior Koker-toekenningb bekroon is vir haar werk in en bevordering van Afrikaans, gaan van April af wéér by die Kompas-span aansluit en sal elke Woensdagaand om 19:30 agter die mikrofoon inskuif.

Chrislynn Sias

Wendramas word op Donderdagaande uitgesaai
Die 2025-wenners van die ATKV en RSG se radiodrama-skryfkompetisie kan vanaf Donderdag 2 April om 20:00 gehoor word. Die nuwe dramaseisoen sluit ook dramas in deur Christo Davids, Esta Steyn, Leon van Nierop, Karen Wessels en wyle Chris Majiedt asook sir Peter Shaffer se klassieke Amadeus. Shaffer sou vanjaar sy 100ste verjaardag vier en die veteraanakteur André Rossouw vertolk die hoofrol in hierdie Nerina Ferreira-vertaling van die klassieke werk. Die ander spelers sluit in Dawid Minnaar en Marthinus Basson.

Veranderings op Saterdae

Haidee se hartsnommertjies word langer
Haidee se hartsnommertjies met Haidee Muller-Isaacs sal vanaf April om 20:00 op Saterdae uitgesaai word en dus verleng word om meer musiek te bevat. Luisteraars, wat reeds weekliks daarvoor vra, sal ook hul eie “hartsnommertjies” kan versoek. Die res van die Saterdagaandskedule bly dieselfde met die nuusbulletin om 21:00, gevolg deur Kappityt en Countryklanke.

Haidee Muller-Isaacs

Saterdagmiddae bly vol musiek
Saterdagmiddae om 14:00 kan luisteraars inskakel vir Vastrap met Willem Viljoen, waarna Top Treffers met Carla McKenzie om 15:00 volg. Voor en na RSG Sport, Saterdae tussen 17:00 en 19:00, sal luisteraars meer musiek hoor vir die perfekte Saterdagluim.

Deel nou