Skip to content

Nuwe radiodramaseisoen: Wenners, legendes en meer

RSG NOU

Wenners, legendes en klassieke klanke in ons nuwe radiodramaseisoen

2026-03-30

RSG se eerste radioteaterseisoen van 2026 is ‘n fees van eietydse en klassieke werk en sluit in ‘n sonderlinge radioverwerking van sir Peter Shaffer se veelbekroonde Amadeus met André Rossouw en Marthinus Basson in die hoofrolle.

Sir Shaffer sou in Junie vanjaar sy 100ste verjaardag gevier het. Hy is die skepper van die Tony-bekroonde verhoogstuk Amadeus (1979), wat ook verfilm is en ‘n almintige agt Oscars ingepalm het. RSG sal wyle Nerina Ferreira se pragvertaling en -verwerking uitsaai.

Luisteraars word egter vanuit die staanspoor bederf met die wendramas van 2025 se RSG en ATKV radiodramaskryfkompetisie.

2 April: Meeu-rus deur Jana Nortier
Die seisoen begin op Donderdag 2 April met die derde plek wenner, Meeu-rus, deur Jana Nortier. Christelle Webb-Joubert is die regisseur en Juanita de Villiers haar regterhand saam met die spelers Ryno Hattingh, Kim Cloete, De Waal Stemmet, Stephanie Baartman, Christine Voorendyk en Francois van Rensburg in die rolverdeling.
Meeu-rus is die verhaal van Stefan wat die familieplaas erf na sy pa se afsterwe. Elna en Hein, Dawid se kinders uit sy huwelik, betwis die testament en roep die hulp van Landi Arendse in. Landi het egter ‘n geheim van haar eie.

3 April: Die Herbergier deur Esta Steyn
Op Goeie Vrydag (3 April) om 14:00 kan die gewilde skrywer Esta Steyn se Die Herbergier gehoor word. Dié bekroonde radiodrama handel oor die herbergier van Betlehem wat nou in Jerusalem by sy oudste seun woon toe Jesus 33 jaar later gekruisig word. Hulle word onder andere gekonfronteer met die onvermydelike van sy teregstelling. Die regisseur is Helena Hugo met Cobus Visser, Gigi Strydom, Martin Jansen, Bertha le Roux-Wahl, Eswé Bruwer en Anrich Herbst in die rolverdeling.

9 April: Gebakte pere deur Karin du Toit

Dis die gesamentlike tweede plek wenner in die 2025 radiodramaskryfkompetisie. Marnus se eerste dag op universiteit kon nie met ’n groter skok begin het nie. Emma daag ná maande se stilswye skielik by die woonstelblok, waarin hy sal tuisgaan, op met die nuus dat hy die pa van ’n kind is. Luister hoe Dihan Keun, Christopher van der Westhuizen, JJ Roberts, Izel Bezuidenhout, Marina Coetzee en Gretha Brazelle die storie vertel met regie deur Lelia Etsebeth.

16 April:
Suikerbek deur Ingrid Penzhorn wat ook met die tweede prys bekroon is, is te hore op Donderdag 16 April met Johan Rademan as regisseur. Carolien is ’n mediese student wat finansieel noustrop trek. ’n Medestudent, Saskia, vertel haar hoe sy maklik geld kan verdien deur ’n gesellin vir ’n welgestelde man te wees. Die rolverdeling bestaan uit Minke Marais, Conradie van Heerden, Karli Heine, Deon Lotz en André Weidemann.

23 April:
Die algehele wendrama van verlede jaar, Kalahari sterre volg op Donderdag 23 Aprilen is uit die pen van Adam Willemse. Boeta (Dean Balie), Benji (André Samuels), Lulu (Wessel Pretorius) en Paul (Eben Genis) bied ʼn vertoning aan wat dit waag om die ander sy van menswees uit te beeld vir ʼn konserwatiewe, plattelandse gehoor. Kommer, sukses, vergifnis en herstel van verhoudings is waarmee die karakters gekonfronteer word in dié radiostorie. Die ander spelers is Susanne Beyers en Royston Stoffels. Joanie Combrink het die regie behartig.

30 April:
Die wenner van die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is JJ Roberts met Bloed van my, op Donderdag 30 April. Broederlike liefde bots met ‘n noodlottige verlies en Simeon en Meyer moet hulle pad deur dié uitdaging vind. Casper Lourens, Wiandré du Plessis, Claudia Jones, Rico Immelman en Blyde Schoeman is die spelers onder spelleiding van Eddie de Jager.

7 Mei:
‘n Onverwagse Krismisboks uit die pen van Christo Davids op Donderdag 7 Mei is ‘n roerende werk uit die argief en is in 2013 as deel van RSG se eerste kunstefees uitgesaai. Margie is ‘n verpleegster by die Tygerberg-hospitaal, waar sy baie keer dubbelskof werk om te probeer voorsien vir haar twee kinders, Zelda en Zak. Margot Luyt het die regie behartig met Ivan Abrahams, Theresa Cloete, Dean Balie, Kim Cloete, Hein Poole, Sue Pyler-Slabbert, Johan Stassen en Deirdre Wolhuter in die rolverdeling.

14 Mei:
Op Donderdag 14 Mei kan daar ingeskakel word vir Groete van Tant Martjie deur Paula Hartzenberg met Sean Brebnor, Rika Sennet, Anton Dekker, Bertha le Roux-Wahl, Mada Oosthuizen en Louise Eksteen in die rolverdeling. ‘n Vreemdeling klop aan Thomas se woonsteldeur en stel homself bekend as Bruwer Groenewald. Voordat Thomas dit regkry om die deur in sy gesig toe te druk, speel Bruwer nog sy troefkaart: “Jou tant Martjie stuur groete”. Mari Snyman het die regie behartig.

21 Mei:
‘n Slang in die gras op Donderdag 21 Mei deur Chris Majiedt was die tweede prys wenner van die 2013 RSG radiodramaskryfkompetisie. Slang en sy groepie helpers versamel kosbaarhede, veral koper en aluminium, by die asgate om te verkoop. Hulle was almal in die tronk, en lede van die tronkbendes. En daar is min genade vir dislojaliteit. Met Chris Majiedt, Charlton George, Marlo Minnaar, Keenan Herman, Royston Stoffels en André Samuels in die rolverdeling en Eben Cruywagen as regisseur.

28 Mei:
Joe Kleinhans vertel in Hartsake op Donderdag 28 Mei die storie van die akteur Joshua (Robbie Wessels) wat op die kruin van sy sepieloopbaan staan, maar ‘n onverwagse wending ondergaan tydens ‘n roetine-ondersoek. Luan Jacobs het die regie behartig met Renske Jacobs, Kaz McFadden, Imarie Oberholzer, Antowan Nothling en Elzabé Zietsman in die rolverdeling.

4 Junie:
Die aktrise-sangeres Karen Wessels is terug met haar drama 1,2,3 Blok myself op Donderdag 4 Junie. Soos Monika (Natasja Jacobs) se werklikheid begin verbrokkel, word die luisteraar saamgeneem in ’n spanningsvolle onthulling van verborge geheime, skuldgevoel, en ’n verlede wat weier om begrawe te bly. Die rolverdeling word verder gevul deur Pierre Breytenbach, Amanda Strydom, Zane Meas, Pietie Beyers en Jakkie Groenewald.

11 Junie:
Sir Peter Shaffer sou in Junie vanjaar ‘n 100 jaar oud geword het. Om dié Britse ikoon en skrywer te vier, saai RSG die treffer, Amadeus, op Donderdag 11 Junie om 20:00 uit. Die teks is spesiaal vir die radio deur Nerina Ferreira vertaal en verwerk. Wyle Margot Luyt het die regie meesterlik behartig. Uit die vele samesweringsteorieë oor Wolfgang Amadeus Mozart se dood is die weergawe van die komponis, Antonio Salieri, seker die bekendste. André Rossouw vertolk Salieri en die gevierde verhoogregisseur Marthinus Basson Mozart. Ander spelers is Shirley Ellis, Dawid Minnaar, Herman Pretorius, Paul Malherbe, Pieter Cilliers, Dawie Ackerman, Johan Rademan, Jan Lombard en Pieter Bredenkamp.

18 Junie
Kabaret in radioteater is nie iets wat dikwels gehoor word nie. Karli Heine het haar kunstefeestreffer, Potplant, vir die radio verwerk met oorspronklike musiek en toonsettings deur Grethe van der Merwe. Op Donderdag 18 Junie debuteer die radio-akteur en sanger Dean Balie as regisseur met Eben Genis, Marion Holm, Ester von Waltsleben, Lochner de Kock, Karli Heine en Joanie Combrink in die rolverdeling. Kantoorpolitiek word gesien deur die oog van die potplante wat soms as alledaags beskou word. Maar wat is aan die gang as niemand kyk nie?

25 Junie:
Die seisoen word meesterlik op Donderdag 25 Junie afgesluit met ‘n nuwe radiodrama deur Leon van Nierop. Liesbet is ‘n verhaal wat so sterk met Van Nierop geresoneer het dat hy eenvoudig die storie moes neerpen en opneem. Waar daar eers florerende, mooi stasies was, is daar deesdae maar min van oor. Maar wanneer ‘n nuwe toeristeroete uitgelê word, word die gesteelde spore vervang en word ‘n stoker opdrag gegee om ‘n legendariese ou lokomotief te restoureer. Terwyl hy dit doen, klim ‘n seun met ernstige leer- en leesprobleme (disleksie) van ‘n bus af. Hy kan saam met die stoker na sy eindbestemming in die lokomotief ry indien hy instem om die reuse-staalgedierte te was en te poleer. Gedurende hierdie reis het die twee ‘n onuitwisbare invloed op mekaar. Met Deon Lotz, Rico Immelman en Ria Smit.

Deel nou