Goeie Vrydag op RSG bevat vanjaar ‘n omvattende spyskaart van musiek, konsertuitvoerings, ‘n spesiale Paasdrama asook inspirasie en refleksie.
Op Vrydag 3 April, net na Monitor om 06:00, sluit ons by Lizelle de Bruyn en Binnekamer aan wanneer sy vanaf 07:00 met dr. Stephan Joubert, Nico Koopman en Terblanche Jordaan gaan gesels oor die pad na Golgota. Luisteraars leer ook meer oor wie Jesus werklik was.
Magdaleen Kruger is die samesteller van Loof die Here (met ‘n Paastema), wat om 08:00 uitgesaai word, gevolg deur die Paasdiens om 09:00.
Sophia van Taak het haar deur die digkuns laat lei vir Vers en klank om 10:05. W.E.G. Louw het in 1944 ‘n reeks van ses sonnette getiteld “Die passie van ons Heer” gepubliseer. Dit beskryf die gebeure van Goeie Vrydag chronologies en Van Taak vul dit aan met geestelike musiek van Tukkies se Camerata.
Om 10:30 in Kortom lees Blyde Schoeman die kortverhaal “Die glinsterende glas” deur J.J. Roberts voor. Dit handel oor ‘n tienerdogter wat ‘n middag in die kerk spandeer en peins oor die emosies en geloofsvrae wat die dominee se Paasfeespreek asook ‘n kunswerk in die kerkgebou binne haar wakker gemaak het.
In die skadu van die kruis om 11:00 ondersoek die karakter van Jesus en watter indruk dit vandag op ons laat. En die orrelis Zorada Temmingh gesels oor die rol wat musiek speel in die uitbeelding van die Kruisiging.
Om 12:00 volg Stilte voor die Opstanding – ‘n spesiale gospelprogram waarin Jacqui January van rustige, klassieke gesange tot eietydse aanbiddingsliedere sal speel.
Die Paasdrama, Die herbergier, is uit die pen van die gewilde skrywer, Esta Steyn, met onder andere Anrich Herbst, Bertha le Roux-Wahl, Cobus Visser, Martin Jansen, wyle Gigi Strydom, Francois van Rensburg en Eswé Bruwer in die rolverdeling.
Helena Hugo is die regisseur van hierdie verhaal oor die herbergier van Bethlehem wat vir Maria en Josef skuiling gebied het, wat om 14:00 uitgesaai word. Hy woon nou egter in Jerusalem, 33 jaar later, wanneer Jesus gekruisig word. Midde die onvermydelike van Jesus se teregstelling is daar ook al die konflik en vrees wat dit aanwakker.
Alhoewel Joseph Haydn as die “vader van die simfonie” beskryf word, het hy ook talle geestelike werke, soos die mis gekomponeer. Onder hierdie versameling tel ook sy “Skeppingsmis”, asook sy “Klein” en “Groot orrelmisse”. Terrance April het ‘n spesiale program, Haydn se misse, met van hierdie werke saamgestel en dit volg op Goeie Vrydag om 15:00.
Om 16:00 volg ‘n RSG Konsertbederf en ‘n opname van Rossini se Stabat Mater wat in die SAUK se M1-ouditorium met ‘n koor, soliste en orkes uitgevoer en opgeneem is. Toe sy Stabat Mater in 1842 gedebuteer het, is dit as ‘n triomf vir hierdie Italiaanse komponis bestempel.
Gustav Greyling is die gasheer met die Gautengse Filharmoniese Orkes onder leiding van Daniel Keet, die Ijadu-koort onder leiding van Thami Zungu, die sopraan Lisa Mostin van Vlaandere, die Suid-Afrikaanse mezzo-sopraan Thetible Khaile, die tenoor Petr Nekoranec van die Tsjeggiese Republiek en die Suid-Afrikaanse bariton Douwe Bijkersma.
Om 18:30 is daar ‘n gespreksprogram met Vader Johan Strydom, prof. Christina Landman en dr. Jan Botha wat gaan gesels oor die rol van Maria, Jesus se moeder, in sy lewe en sterwe. Mara, die ma van smarte werp ‘n blik op haar seun se pyn en lyding en hoe sy dit moes verwerk het.
Die res van RSG se Vrydagaand-programme, soos Kompas om 19:30 en Oppiradio om 20:00 met Haidee Muller-Isaacs, volg na 19:00. En Reggie Philander sal om 21:20 regskuif vir Skud dit.
