Skip to content

Donderdagaand: die wendrama, “Kalahari sterre”

RSG NOU

Donderdagaand: die wendrama, "Kalahari sterre"

2026-04-22

Die drama, Kalahari sterre, deur Adam Willemse, is as die algehele wenner aangewys in die 2025 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Dit bied baie stof tot nadenke. Dit is ‘n aangrypende drama vol humor en patos, met herkenbare karakters wat baie deernis wek.

Luister Donderdagaand 23 April na die wendrama in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Die talentvolle rolverdeling sluit in spelers soos Dean Balie en Andre Samuels, Wessel Pretorius, Eben Genis, Susanne Beyers en Royston Stoffels.

Joanie Combrink het die regie behartig.

Adam Willemse het vir die eerste keer ingeskryf vir die Radiodramaskryfkompetisie en as algehele wenner uit die stryd getree in 2025. Hy is ‘n voltydse psigometris en ‘n deeltydse opvoeder in sielkunde.

Die storie

Kalahari sterre is ‘n aangrypende drama vol humor en patos, met herkenbare karakters wat baie deernis wek.

Drie vriende en hulle jong bestuurder vertrek op ‘n reis na die dorpie Askam. Dit blyk nie net ‘n gewone reis te wees nie, maar ook ‘n ontdekkingsreis, ‘n reis na self, na identiteit en aanvaarding.

Askam

Boeta, Benji, Lulu en Paul bied ʼn vertoning aan wat dit waag om die ander sy van menswees uit te beeld vir ʼn konserwatiewe, landelike gehoor. Ten spyte van veral Boeta en Paul se kommer, is die vertoning ʼn reuse sukses en is daar ook sprake van vergifnis en herstel van ʼn onseker verhouding tussen Boeta en sy weerbarstige pa, Ruben.

Van links na regs agter: Eben Genis, Dean Balie en André Samuels. Middel vlnr: Joanie Combrink, Susanne Beyers en Royston Stoffels. Voor: Wessel Pretorius

Oor die skrywer – Adam Willemse

Adam Willemse is ‘n skrywer, oud hoërskoolonderwyser, ‘n voltydse psigometris en ‘n deeltydse opvoeder in sielkunde. Voorheen van Pretoria, is hy al amper ‘n dekade lank woonagtig in Vishoek, Kaapstad.

Adam Willemse

Sy eerste skryfwerk is as tiener gepubliseer. Daar is ook van sy skryfwerk te vinde in die Litnet argiewe. Hy hou daarvan om stories te vertel, en skryf minder as wat hy graag sou wou.

Wanneer hy nie skryf nie, waag hy sy hand aan beeldende kuns of versorg hy sy groeiende versameling orgideë. Saans kan jy hom vind op sy rusbank met ‘n Skandi-noir reeks op die TV besig om te hekel en ‘n worshond of twee teenaan hom opgekrul.

Sterre in die Kalahari naghemel

Deel nou