Skip to content

Luister vanaand na “Hartsake”

RSG NOU

Luister vanaand na "Hartsake"

2026-05-28

Hartsake — ’n moderne tragedie uit die pen van Joe Kleinhans, onder regie van Luan Jacobs — delf diep in die psige van liefde, verlies en die stille brutaliteit van alledaagse verhoudings.

In die wêreld van sepies en skyn, is daar soms net een storie wat te na aan die hart lê.
Wanneer die akteur agter Dokter Tobie Thompson self in die hospitaal beland, vervaag die grense tussen fiksie en werklikheid.

Met ’n rolverdeling wat menslikheid rou laat klink, word die luisteraar ingetrek in ’n web van emosies waar selfs die sterkste harte breek.

Met Robbie Wessels, Renske Jacobs, Kaz McFadden, Imarie Oberholzer, Antowan Nothling en Elzabé Zietsman in die rolverdeling en Luan Jacobs as regisseur.

Agter van links na regs: Antowan Nothlin, Imarie Oberholzer, Elzabe Zietsman, Kaz McFadden, Robbie Wessels en Renske Jacobs. Voor is Luan Jacobs.

Hartsake deur Joe Kleinhans, Donderdagaand 28 Mei in Radioteater om 8 uur op RSG of rsg.co.za, die RSG APP en beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

Dis meer as ’n sepie — dis ’n spieël. Hartsake wys hoe dun die lyn is tussen die rol wat ons speel en die lewe wat ons lei. Elke karakter dra ’n hart wat klop van waarheid. Van Joshua se trots tot Cindy se stilte — dis mense wat ons almal ken, al woon hulle net in klank.

Die regie vat jou binne-in die stilte tussen woorde. Luan Jacobs bring ’n spanning en menslikheid wat jou laat luister met jou hele lyf.

Die storie wys hoe maklik liefde in beheer verander. In ’n wêreld van subtiele manipulasie en onverwerkte trauma word “ons” soms die gevaarlikste plek om te wees.

Elke klank is ’n hartklop — rou, eerlik en onontkombaar. Dis klankdrama wat nie net gehoor word nie, maar ervaar word.

Die storie

In die radiodrama verwys Hartsake na ‘n gewilde sepie. Die dramatiese 3000ste episode daarvan, word beplan met sy Hoof van Ongevalle, dokter Tobie Thompson, gespeel deur die karakter Joshua Jooste, die spilpunt waarom die nuwe verwikkelinge in die sepie draai.

Voor dit gebeur, gaan Joshua egter vir ‘n roetine mediese ondersoek en dit lewer ‘n abnormale EKG op. Sy lewe verander in ‘n nagmerrie. Hartsake word oornag ‘n oorlewingstryd vir hom. Hy sukkel om die een goëlbal na die ander te verwerk. En dis die persoon naaste aan hom, sy vrou Cindy, wat dit die meeste ontgeld.

Oor die skrywer – Joe Kleinhans

Joe Kleinhans vertel die verhaal vanuit ’n persoonlike ervaring.

Joe word ‘n polis aangebied op voorwaarde hy gaan vir mediese toetse. Die polis word afgekeur op grond van ‘n abnormale EKG. Hy word deur sy internis na ‘n kardioloog verwys wat op ‘n angiogram besluit. Die angiogram word op 5 Maart 2021 gedoen waarna hy in die hospitaal gehou word vir ‘n nood viervoudige hartomleidingsoperasie op 8 Maart 2021 omdat vier van sy kroon-slagare 90% vernou is.

Joe kry die raad dat ‘n goeie manier om die trauma te verwerk is om daaroor te skryf. En toe vloei Hartsake daaruit voort.

Van die regisseur – Luan Jacobs

Hartsake is ’n moderne tragedie wat delf in die broosheid van die menslike psige — waar liefde, beheer en oorlewing mekaar op onheilspellende maniere kruis.

In Joe Kleinhans se teks het ek ’n wêreld raakgelees waarin gewone mense onbewustelik hulself en mekaar manipuleer, dikwels uit vrees vir verlies of die ongemak van eerlike konfrontasie. Hierdie stom spanning — dié stil oorlog van emosies — wou ek in die regie laat asemhaal.

Tematies staan Hartsake binne die groter diskoers van geslagsgeoriënteerde geweld en die verrotting van empatie in die alledaagse samelewing. Tog is dit nie ’n moralistiese stuk nie, maar ’n spieël: een waarin ons almal onsself herken — moeg, bang, lief, en skuldig.

Die teks se ritme, kort tonele en vinnige oorgange het my laat werk met presiese klankteksture en stiltes as dramatiese wapens. Die ritme begin stadig, amper onskuldig, maar bou geleidelik tot ’n onafwendbare crescendo waarin keuses hul eie graf grawe.

My visie was om die luisteraar vas te vang binne hierdie web van emosionele spanning — om hulle te laat hoor hoe ’n hart nie net stadig siek word nie, maar stil. Want soms is die mees genadelose geweld dié wat sag fluister.

Deel nou