Bestaan daar regtig mense wat met die sogenaamde helm gebore is? Wat is die “gif” wat ons daagliks in ons hande vashou en waarvan daar glad nie ontslae geraak kan word nie?
Wat hou die bedreiging van paddas vir ons land se varswaterbronne in? Wat het geword van ons kaalvoet-atletieklegende Zola Budd en die liewe tannie Magda van TV se Wielie Walie?
Hierdie is slegs ‘n handjievol van die vrae wat in RSG se tweede dokumentêr-seisoen van 2026 gevra word en waarvoor die programmakers wyd en syd na antwoorde gaan soek het.
Luisteraars ontmoet ook die Papier-familie wat al vir ‘n eeu lank musiek maak, en die Britse koning Charles ontmoet het tydens hul konserte in Engeland. Op lug leer ken ons die vragmotorbestuurders wat ‘n lewensaar vir Suid-Afrikaners geword het nadat die spoorbedryf ineengestort het. Daar is ‘n kykie agter die skerms van die gewilde TV-sepie Kelders van geheime en daar word kop gekrap oor waarom vroue meer ernstig beseer word in motorongelukke in vergelyking met mans.
Kobus Rudolph skop die dokkie-seisoen af met ‘n Padda is ‘n ding wat spring… of nie? waarin hy dié spesie se deurslaggewende rol in die ekostelsel bekyk, terwyl sowat 41% van alle paddaspesies tans bedreig word. Luister op Donderdag 2 Julie om 20:00.

‘n Week later reis Carla MacKenzie na Franschhoek om die Papier Langarmorkes te ontmoet wat tydens die Chelsea-blommeskou opgetree en opslae gemaak het. Hoe kry hulle dit reg om vir dekades lank soveel van die ouer Kaapse dans- en volksmusiekstyle te bewaar en te laat weerklink; nou ook wêreldwyd.
In Met die helm gebore op Donderdag 16 Julie kyk dr. Flip Loots na die mediese, kulturele en spirituele perspektiewe op wat in die volksmond bekend staan as mense wat “met die helm gebore” is. Wat is die mites en tradisies; en bestaan hierdie heldersiende mense regtig?
Daar is ‘n “geslagsdatagaping” wat veroorsaak dat vroue meer vatbaar is vir nek-, bors-, buik- en talle ledemaatbeserings tydens motorongelukke, rapporteer Martelize Brink in As vroue voet innie hoek sit… Dié dokkie word op Donderdag 23 Julie uitgesaai en fokus ook op nuwe ontwikkelinge in die motorbedryf, soos die gebruik van meer lewensgetroue vroulike botstoetspoppe.
In Lang pad op Donderdag 30 Julie reis Ettienne Ludick saam met die vragmotorbestuurders wat dag en nag Suid-Afrika deurkruis om kosbare vragte af te lewer, desondanks gevaar, misdaad en selfs ekstreme weersomstandighede.
Die dokkiemaker Esté de Klerk kyk in Die gevaar in ons groen longe na die Gautengse riviere soos die Jukskei- en Klipriviere waarin daar daagliks rou riool en ander industriële afval gestort word. Die besoedeling het reeds skokkende afmetings aangeneem en beide die inwoners en die omgewing is tans in lewensgevaar.
In Siekefonds of skynveiligheid? Die waarheid oor jou dekking laat val Mari Hudson van die RSG program Gesondheid, die kollig op die werklike beskerming wat mediese dekking bied, veral as pasiënte dit die nodigste het. Wat is hierdie kraaines van wagtydperke, skielike uitsluitings en ander onverwagte kostes waarvoor daar nie voorsiening gemaak is nie? Boonop neem lidmaatskap toe en kan ‘n mens tereg vra: word ek enigsins beskerm deur my dekking? Luister op Donderdag 13 Augustus om 20:00.
Die aktrise en geliefde TV-aanbieder Magda van Biljon het onlangs haar tagtigste verjaardag gevier. Wat het van die geliefde tannie Wielie Walie geword en ook die aktrise vir radio, teater, televisie en die silwerdoek? Ina Strydom het by haar gaan inloer en dit word op Donderdag 20 Augustus uitgesaai.

Die gif in jou hande: Die onsigbare prys van ‘e-rommel’ is ‘n blik op die sogenaamde begraafplase waar ou rekenaars, selfone en ander tegnologietoestelle eindig. Hoeveel word daar werklik herwin? En watter impak het dit op die omgewing en ons gesondheid? Lizelle de Bruin skuif op Donderdag 27 Augustus agter die mikrofoon in vir hierdie priemende ondersoek.
Die Afrikaanse sepie Kelders van geheime was vanuit die staanspoor ‘n suksesverhaal met soveel as twee miljoen kykers en ongekende advertensie-inkomste. Maar dié gewilde reeks kom in Augustus ten einde en Haidee Muller-Isaacs het gaan ondersoek instel na die sukses en uitdagings van die sepie wat op ‘n plaas in die Wes-Kaap verfilm en vervaardig word. Skakel in op Donderdag 3 September om 20:00.
Die Suid-Afrikaanse middelafstandatleet Zola Budd het internasionaal bekendheid verwerf, maar haar loopbaan was in omstredenheid gedompel weens sportpolitiek, ‘n onverkwiklike voorval en gesprekke rondom haar nasionaliteit. Al het sy kaalvoet gehardloop, ontdek Jody Hendricks veel, veel meer in sy dokkie, Zola Budd: Spoor van ‘n kaalvoetlegende, op Donderdag 10 September.

Jacqui January het na die Richtersveld gereis vir Gestroop van die aarde: Vetplante en die swartmark vir haar dokumentêr oor vetplantstropery van skaars en endemiese plante wat deel vorm van internasionale en naatloos georganiseerde misdaadsindikate wat nie net die plante nie, maar ook plaaslike inwoners se lewens bedreig. Dit word op Donderdag 17 September uitgesaai.
Die seisoen word afgesluit met Plektrum, ‘n dokumentêr oor die lewe en loopbaan van die kitaarspeler, komponis en veelsydige musikant Mauritz Lotz. Lotz se loopbaan word dikwels gereduseer tot sessie- of agtergrondmusikant, maar hy spog met meer as 4 000 opnames, het homself as tiener geleer kitaar speel en hy spog met Grammy-pryse op sy kaggelrak. Sy komposisies wissel van veelbekroonde teaterproduksies tot rolprentklankbane, ballet en eietydse musiekteater waarvoor hy die kreatiewe lewensaar was. Wat word van hierdie kunstenaars wat dikwels in die skadu van ander staan? Hierdie uur lange dokumentêr kan op Donderdag 24 September (op Erfenisdag) op RSG gehoor word.
Vir meer inligting besoek rsg.co.za of laai RSG se nuwe app af om die dokumentêre programme regstreeks te stroom.