Skip to content

RSG en Virseker se Kultuurkaravaan op soek na Afrikaans se kosbaarste skatte

RSG NOU

RSG en Virseker se Kultuurkaravaan op soek na Afrikaans se kosbaarste skatte

RSG en Virseker se Kultuurkaravaan op soek na Afrikaans se kosbaarste skatte

Johannesburg, 27 Julie, 2026 – RSG, Virseker en die ATKV gaan dié lente die land ekstra kleur gee wanneer die heel eerste RSG en Virseker Kultuurkaravaan Suid-Afrika gaan deurkruis op soek na die mense, stories, kos, kultuur en skeppendheid wat harte warmer laat klop.

Dié veldtog wat in September afskop, is ‘n opwindende viering van Afrikaans, sy mense en die uniekheid wat ons hartsplekke so spesiaal maak. Dit is ’n landswye reis met RSG se karavaan, omroepers en borge wat die kleurryke tapyt gaan betree wat ons kultuur so bekoorlik en ons Suid-Afrikaanse dorpe en sy kultuurdraers so sonderling maak.

Miskien is dit die padstal waar niemand kan verbyry sonder om iets te koop nie, die tannie wat almal se verjaarsdae onthou, die kerkkoor wat die mooiste melodieë sing, die ou met ‘n ongewone talent, die groep wat dans dat die stof so staan of selfs die bekende wat hul wortels in die dorp het.

Wys vir ons die kultuurdraers, smake en talente wat jou dorp, gemeenskap, voorstad of selfs woonbuurt uniek maak en die RSG en Virseker Kultuurkaravaan kan dalk in jou dorp kom parkeer en dit saam met jou verken en ervaar.

Dié veldtog is op Maandag 27 Julie tydens ‘n regsteekse uitsending op die Seepunt-promenade met die aanbieders Renske Jacobs, Gustav Greyling en Martelize Brink bekend gestel.

Luisteraars wat hul dorpe, buurte, gemeenskappe of voorstede benoem, staan die kans om ‘n midweekwegbreek by enige ATKV‑oord te wen. Elke gekose dorp ontvang ‘n RSG-kuier met ’n regstreekse Op en Wakker‑uitsending saam met Renske Jacobs, Gustav Greyling en Blaine Jones. Sowel as prysaktiwiteite saam met Virseker, ’n ATKV Boektrommel ter waarde van R8 000 vir ’n plaaslike skool en ‘n allemintige R300 000 se RSG‑lugtyd om plaaslike toerisme te bevorder

Verder is daar Kiek die Karavaan waar luisteraars foto’s kan neem wanneer hulle die karavaan op die pad bespeur om kontantpryse van Virseker te wen.

‘n Kultuurkapsule reis ook saam met die span en word by elke dorp aangevul met iets wat die kultuur of identiteit van die gemeenskap verteenwoordig. Die kapsule word by die finale uitsending oopgemaak en verken as ‘n terugblik op Afrikaans, sy stories sy dorpe en sy mense.

Inskrywings is eenvoudig: luisteraars besoek kultuurkaravaan.co.za en vertel vir RSG wie die koshelde, skeppendes, sportsterre, omgee‑engele, skoolhelde en verborge skatte van hul dorp is. Hulle stel ook ’n voorgestelde dagroete saam vir die RSG‑span en motiveer hoekom hul dorp of blyplek die hart van Afrikaans verteenwoordig.

Inskrywings sluit op Vrydag 14 Augustus 2026 om 17:00 en die 2026 Kultuurkaravaan skop amptelik in September af.

Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, sê, “Die Kultuurkaravaan is Afrikaans se kleurrykste, mooiste en lekkerste padvat. Dis ’n viering van wie ons is. Afrikaans is nie net ’n taal nie, maar ’n lewende kultuur wat in elke dorp, straat en gemeenskap wortel skiet, groei en lééf. Ons wil die gesigte en name agter hierdie kultuur ontmoet, by hulle kuier, saam met hulle ontdek en die taal en menswees wat ons saambind saam met hulle vier.”

“Virseker is trots om deel te wees van ’n veldtog wat die mense, stories en tradisies vier wat Afrikaans laat leef. Ons gemeenskappe se kosbaarste skatte is juis dié dinge wat nie altyd in geld gemeet kan word nie – hul karakter, omgee, talent en trots. Deur die Kultuurkaravaan wil ons help om hierdie besonderse stories raak te sien, te beskerm en met die res van Suid-Afrika te deel,” voeg Morné van Emmenes, Senior Bestuurder by Virseker, by.

“Die ATKV is ’n organisasie vir en deur mense. Ons ondersteun graag hierdie RSG-inisiatief omdat die betrokkenheid van ATKV-taklede landwyd ons wys hoe verskilmakers hul gemeenskappe laat groei, Afrikaans laat leef, en waardes van omgee en diens elke dag sigbaar maak,” sê Gerrie Lemmer, ATKV se uitvoerende hoof: Kultuur.

Die geliefde RSG Bakgat-beskuitkompetisie neem ’n welverdiende blaaskans, terwyl die Kultuurkaravaan die kollig steel. Bakgat het oor die jare ’n merkwaardige nalatenskap opgebou en was die geboorteplek vir verskeie entrepreneurs, waaronder vorige wenners, Marthlé Smith en Magda Janse van Vuuren, wat vandag elk hul eie suksesvolle sake-ondernemings, KRAAK! en Magda Beskuit, besit. Hul besighede is ‘n konkrete bewys van hoe Bakgat talent ontgin, kreatiwiteit aanwakker en kleinskaalse bakkers kan help om GROOT loopbane te bou. Bakgat sal wel op lug terugkeer – groter, beter en liplek-lekkerder as ooit.

Laai die nuwe RSG‑app af, volg die stasie op sosiale media, of besoek die webblad vir meer.

MEER OOR RSG:

RSG is Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie en deel van die SABC. Die stasie bedien meer as ’n miljoen luisteraars daagliks met nuus, aktualiteit, kultuur, musiek, vermaak en bekroonde radiodramas. RSG is ’n tuiste vir Afrikaanse stories, klanke en gemeenskappe, en verbind luisteraars landwyd deur inhoud wat geloofwaardig, inspirerend en relevant is. Met ’n sterk digitale teenwoordigheid, potgooie, buiteluguitsendings en ’n diverse programaanbod, bly RSG ’n kernpilaar van die Afrikaanse medialandskap.

Deel nou