Skip to content

Donderdagaand dokumentêr: “Die gevaar in ons groen are”

RSG NOU

Donderdagaand dokumentêr: “Die gevaar in ons groen are”

Donderdagaand dokumentêr: “Die gevaar in ons groen are”

Die Gevaar in Ons Groen Are deur Esté de Klerk

“Besoedelde riviere is nie net ‘n omgewingsprobleem nie, dit is die sigbaarste bewys van staatsverval op plaaslike vlak. Die toestand van ‘n rivier is uiteindelik ‘n tragiese, tasbare maatstaf van die gehalte van die regering.” – Professor Pieter Duvenhage, onafhanklike politieke ontleder

Sal besoelde riviere ‘n kwessie wees wat jou stem kan swaai tydens die opkomende plaaslike regeringsverkiesing op 4 November?
Is dit iets waaroor jy ooit dink?
Hoe besoedel ons riviere is, wat dit veroorsaak, wie daarvoor verantwoordelik is, of daar dalk politieke wil of verantwoordbaarheid ontbreek, en hoekom daar nie daadwerklik aksie geneem word om ‘n toenemende natuurramp te voorkom nie?

Besoedelde stroom in Gauteng

Die Gevaar in Ons Groen Are deur Esté de Klerk, is nie ‘n RSG-dokumentêr oor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November 2026 nie. Maar, dit is ‘n dokumentêr oor ‘n natuurkwessie met dieperliggende gevolge vir elkeen van ons – vir ons gesondheid, vir ons ekonomie, vir ons politieke stelsel, vir ons regering – op elke sfeer. En natuurlik vir Moeder Natuur.

“Wanneer ons ‘n rivier vernietig, vernietig ons nie net ‘n ekosisteem nie. Ons beskadig ook die wêreld waar binne ons eie bewussyn, ons gesondheid en gemeenskappe gevorm word. Daarom is ‘n besoedelde rivier tegelykertyd ‘n ekologiese, psigiese en politieke wond,” sê professor Pieter Duvenhage, die onafhanklike politieke ontleder met wie Esté in die dokumentêr gepraat het.

Hier is die feite volgens die waterbestuurkenner en mede-professor aan Unisa, professor Anja du Plessis:
“Suid-Afrika produseer 50-duisend liter rou of gedeeltelike behandelde riool in ons riviere elke sekonde. Sowat 60% van die sowat 7-miljard miljard liter riool wat daagliks in Suid-Afrika geproduseer word, word direk in ons waterbronne ingestort. In Gauteng, sê hulle dat daar byna 90-miljoen liter  riool in die riviere ingepomp word.”

Besoedelde rivier in Gauteng

Hoekom gebeur dit, vra jy?

Professor Anja du Plessis antwoord: “Ons afvalwater en -behandelingaanlegte wat in sommige gevalle  glad nie werk nie, en in verslae word gesê dat 86% van ons afvalwateraanlegte nie op standaard is nie, hulle is sub-standaard en meeste van hulle riool is net gedeeltelik behandel, so dit het ‘n groot impak,  nie net op Gauteng nie, maar ook in die land, want ons riviere is aanmekaar verbind.

Die Gevaar in Ons Groen Are fokus hoofsaaklik op die besoedeling op die riviere in Gauteng, en dus op die munisipaliteite in Gauteng: 11 in totaal: 3 Metro’s (Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni); 2 distriksmunisipaliteite (Sedibeng en Wesrand); en 6 Plaaslike munisipaliteite (Emfuleni, Lesedi, Midvaal, Merafong, Mogale, Rand Wes).

Besoedelde spruit in Gauteng

Elke jaar ondersoek die Departement van Water- en Sanitasie hoe funksioneel munisipaliteite se afval-rioolwerke is deur middel van die Groendruppelverslag. Die jongste, wat op 31 Maart vrygestel is, skets ‘n donker prentjie: 47% van die 848 rioolwerke – 396 in totaal – is in kritieke toestand, teenoor die 39-persent vier jaar gelede; en slegs 8% – of 14 uit die 848 – funsioneer goed.

“Dit dit wys vir jou dat die meerderheid van ons rioolaanlegte nie voldoen aan die minimum vereistes nie. As jy net kyk na ‘n nasionaal prentjie, is dit byna 3-miljard-miljard liter riool wat nie gesuiwer is nie wat elke dag in ons riviere gestort word. In Gauteng beteken dit dat ons riviere erg besoedel is,” sê Julius Kleynhans, die uitvoerende bestuurder vir plaaslike regering by die Organisasie teen Belastingmisbruik (OUTA).

“Ons sien jaar op jaar hoe rioolbesoedeling plaasvind waar rioolaanlegte nie onderhou word nie – waar daardie riool in ons riviere of damme gestort word. Maar, ook waar rioleringstelsels, soos jou rioolpype en pompstasies nie onderhou word nie, waar daar dan riool uitloop en in ons riviere ingaan sonder dat dit eers by die werke uitkom. Daar is nie nagevolge vir hierdie wanbestuur nie.”

Professor Pieter Duvenhage sê besoedelde riviere is nie net ‘n omgewingsprobleem nie, dit is die sigbaarste bewys van staatsverval op plaaslike vlak. “Die toestand van ‘n rivier is uiteindelik ‘n tragiese, tasbare maatstaf van die gehalte van regering.”

Tussen 1999 en 2011 het die ekologiese toestand van Suid-Afrika se hoofriviere met 500% agteruitgegaan en van hierdie riviere kan nie meer herstel word nie. Dit is die Departement van Water en Sanitasie se 2019-Meesterplan vervat, sê Mariëtte Liefferink, ‘n suurmyn- en rioolafvalwaterkenner en die bestuurshoof van die Vereniging van die Volhoubare Omgewing.

In Die Gevaar in Ons Groen Are ontbloot Mariëtte Liefferink skokkende feite oor e-coli-tellings in ongesuiwerde water wat deur Rand Water en die Johannesburgse Metro beskikbaar gestel word, of die gebrek daaraan op die forums waarop sy dien.

Maar, daar is veranderinge wat moontlike boetes en vervolging vir besoedelaars kan bring.

Die Wysigingswetsontwerp op Waterdienste en die Wysigingswetsontwerp op die Nasionale Waterwet dien tans voor die Parlement.

Julius Kleynhans verduidelik: “As jy ‘n besoedeling laat plaasvind in ‘n natuurlike waterbron soos ‘n rivier of ‘n dam is, dit krimineel. Die wetgewing is baie duidelik. Indien die wetgewing goedgekeur word, is die strawwe wat opgelê kan word R1 miljoen tot R5 miljoen se boete of tot vyf jaar se tronkstraf vir ‘n eerste oortreding en dan vir ‘n tweede oortreding kan jy selfs tien jaar tronkstraf of R10 miljoen se boete kry. Wat ons ook nou sien met die nuwe direkteur-generaal van Water en Sanitasie, dr. Sean Phillips is dat hy die Blou Skerpioene weer aan die gang gekry het. Dit is ‘n spesialis ondersoekeenheid vir waterwetgewing en dan vir omgewingsake is die Groen Skerpioene ook weer in werking gestel. Die eenheid is voorheen ontbind. Daar is dus nou ‘n daadwerklike pogings om munisipaliteite en owerhede verantwoordelik te hou.”

Kennisgewings en direktiewe is ook vanjaar deur die Departement van Water en Sanitasie uitgereik aan munisipaliteite wat nie aan die nodige standaarde voldoen nie, en sake is ook reeds aan die Nasionale Vervolgingsgesag en die Blou Skerpioene oorhandig vir ondersoek.

Maar hoe ver is die situasie van ‘n volgehoue natuurramp, en kan dit steeds omgedraai word?

Luister Donderdagaand om 20:00 op RSG na die dokumentêr, Die Gevaar in Ons Groen Are deur Esté de Klerk.

Deel nou