Ná jare agter die mikrofoon sal Magdaleen Krüger op Sondag 27 September 2026 vir oulaas Loof die Here aanbied – die afsluiting van ‘n besonderse hoofstuk in die loopbaan van een van RSG en die SAUK se mees gerespekteerde en geliefde radiostemme.
Dié skuif volg nadat een van radio se mees bekroonde ystervroue die besluit geneem het om haar aftredejare volstoom te geniet deur te reis, by aktiwiteite betrokke te raak, te kuier en, in haar eie woorde “van tyd tot tyd sommer net niks te doen nie” – dinge wat weeklikse spertye in die uitsaaiwese nie altyd toelaat nie.
Vir tallose RSG-luisteraars het Magdaleen Krüger se stem oor die afgelope 7 jaar deel geword van die ritme van ’n Sondagoggend.

Loof die Here was nooit bloot nog ’n musiekprogram nie. Dit was ’n uur van dieper konneksie, rustigheid, besinning en inspirasie. ’n Tuiste waar luisteraars die wêreld vir ‘n wyle buite kon laat wag, kon asemhaal, herlaai en hul week in ’n ander stemming begin.
As een van RSG se oudste en mees gewilde programme het Loof die Here reeds in 1972 begin uitsaai – eers as Alle volke loof die Here – met Fanie Smit wat dit vir sowat 44 jaar lank aangebied het.
Magdaleen onthou dat Fanie destyds met 5 plate onder die arm na die ateljee toe is om die eerste program op te neem. Een van die plate was van Rudi Neitz en ‘n ander een van die Stellenbosse Universiteitskoor onder leiding Philip McClachlan.
Wouter de Wet was daarna agter die mikrofoon van 2016 tot 2019, voordat Magdaleen die leisels oorgeneem het – eers saam met haar voltydse werk, en toe in vryskuthoedanigheid. Sy het albei haar voorgangers persoonlik geken, baie by hulle geleer en haar eie inslag bygevoeg – iets wat die program dinamies aanhou groei het.
Sy was die geestelike genoot en anker wat met haar kenmerkende warmte, kennis van musiek en uitmuntende standaard van aanbieding die program se unieke en magnetiese karakter help vorm het.
Haar afskeid van Loof die Here is egter veel meer as die einde van ’n aanbiedingspos. Dit is ’n oomblik om ’n werklik merkwaardige loopbaan in Afrikaanse radio te vier.
Magdaleen se loopbaan by die destydse SAUK het as nuusverslaggewer begin. Sy het onder meer as regisseur en redakteur van Monitor en Spektrum gewerk voordat sy haar ervaring verder in RSG se programme-afdeling uitgebou het. Haar loopbaan het haar deur nuus, sport, musiek, godsdiens, taal, boeke, dokumentêre programme en aanbieding geneem, voordat sy uiteindelik vir ongeveer 15 jaar as RSG se stasiebestuurder aan’t stuur van SA se grootste Afrikaanse radiostasie gestaan het.
Selfs ná 32 jaar se diens en haar aftrede as stasiebestuurder in 2021 het haar liefde vir die medium en haar passie vir inhoud wat lewens ten goede verander haar telkens agter die mikrofoon sien inskuif. Nie sommer net vir die vreugde van radio nie; Loof die Here was en is ‘n hartsaak, ‘n roeping – een wat sy enduit uitgeleef het.
Haar impak strek ook veel verder as RSG. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het haar vereer vir haar lewensbydrae tot kuns en kultuur, terwyl die ATKV haar in 2025 met ’n Prestigetoekenning vereer het vir haar betekenisvolle bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur. En dié is slegs etlike hoogtepunte uit ‘n skitterblink rekord.
“Loof die Here is een van daardie programme wat van geslag tot geslag geluister word,” sê Magdaleen, “Dit begin dikwels met kinders wat dit in hul ouerhuis oor die radio gehoor het en later ook hulle kinders daarna laat luister het, en so word dit ‘n siklus, ‘n sterk radio-tradisie wat bly voortbestaan. Dis nie tot ‘n bepaalde ouderdomsgroep beperk nie… van jonk tot oud luister. Dit gaan oor die musiek, die atmosfeer, die bekende wysies, die gerusstelling, die gevoel van ‘it is well, it is well with my soul’.”
“Dit was vir my ‘n heerlike, verkwikkende taak om elke week mooi musiek uit te soek, saam te stel en ‘n teks te skryf en aan te bied,” sê Magdaleen. Die lekkerte was ook om soms die luisteraars aan iets nuuts bekend te stel, maar dit moes altyd ‘n mooi wysie hê, mooi op die oor val. Luisteraars het ook van hulle laat hoor en radiovriende geword. Wanneer ek in die publiek rondbeweeg het, gekuier het of funksies bygewoon het, was ek altyd verheug om te hoor hoe baie mense na die Loof die Heer luister, en hoe wyd daar na RSG geluister word. So, baie dankie aan RSG wat vir my nog ná aftrede die kans gegee het om met musiek, ‘n groot liefde van my, te werk. Ek gaan dit beslis mis, maar ek sien ook uit na nuwe avonture. En ek gaan die luisteraars met wie ek ‘n baie mooi verhouding opgebou het, baie mis.”
Vir RSG se huidige stasiehoof, Louise Jooste, is Magdaleen se afskeid ’n geleentheid om eer te betoon aan ‘n uitsaaier wat oor baie jare heen ’n besonder hoë standaard gestel het:
“Magdaleen, namens RSG wil ek jou opreg bedank vir jou jarelange toewyding, jou professionaliteit en veral die passie waarmee jy Loof die Here aangebied het. Jy het ’n uitstekende standaard gestel én dit konsekwent gelewer, met respek vir die musiek, die program en die luisteraars. Ons wens jou net die beste toe vir die volgende hoofstuk, met die wete dat jy reeds meer as jou deel tot Suid-Afrika, Afrikaans en die uitsaaibedryf gelewer het. Jou bydrae sal altyd deel van RSG se geskiedenis bly.”
Oktobermaand sal vervolgens ook ’n besonderse huldeblyk aan die ryke geskiedenis van Loof die Here wees.
RSG sal ’n keur van hoogtepuntprogramme uitsaai wat oor die jare deur voormalige aanbieders Fanie Smit en Wouter de Wet aangebied is. Hierdie spesiale uitsendings vorm deel van RSG se viering van die program en sy kleurryke stemme, asook die viering van 90 jaar van die SAUK.
Op Sondag, 1 November 2026, sal die opwindende volgende hoofstuk vir Loof Die Here afskop, steeds met dieselfde hart, maar met ‘n blinknuwe aanbieder wat binnekort bekend gemaak sal word.
Dis ‘n nuwe era vir Loof Die Heer, gebou op ‘n hoeksteen van meer as 5 dekades diep, danksy mense soos Magdaleen Kruger. Iemand wat met trots ‘n buiging kan maak met ‘n merkwaardige 37 jaar-loopbaan in uitsaaiwese… en ‘n hart, ‘n stem, ‘n werksetiket, passie en kragtige nalatenskap wat altyd deel sal bly van die verhaal van RSG en Afrikaanse radio.
Laai die nuwe RSG‑app af, volg die stasie op sosiale media, of besoek die webblad vir meer.
|EINDE
MEER OOR RSG:
RSG is Suid-Afrika se grootste Afrikaanse radiostasie en deel van die SABC. Die stasie bedien meer as ’n miljoen luisteraars daagliks met nuus, aktualiteit, kultuur, musiek, vermaak en bekroonde radiodramas. RSG is ’n tuiste vir Afrikaanse stories, klanke en gemeenskappe, en verbind luisteraars landwyd deur inhoud wat geloofwaardig, inspirerend en relevant is. Met ’n sterk digitale teenwoordigheid, potgooie, buiteluguitsendings en ’n diverse programaanbod, bly RSG ’n kernpilaar van die Afrikaanse medialandskap.