Skip to content

Geliefde Tobie Cronje deur die S.A. Akademie vereer

RSG NOU

Geliefde Tobie Cronje deur die S.A. Akademie vereer

Geliefde Tobie Cronje deur die S.A. Akademie vereer

Die veteraan-akteur Tobie Cronje is by ‘n glansgeleentheid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die SA Akademieprys vir Drama bekroon. 

Die toekenning kan net een keer aan ‘n persoon gemaak word.  Tobie is vir sy lewensbydrae vereer wat oor meer as 50 jaar strek in radio, televisie, op die verhoog en in rolprente. 

Vroeër vanjaar was hy onder meer in die middagvervolgverhaal Jaffie te hoor; en het ”Die jaar toe dit gemmerbier gereën het” as oggendboekvoorlesing op RSG voorgelees.

RSG aanbieder Ina Strydom, ‘n lid van die Akademie se Kommissie vir Uitvoerende Kunste, het die huldigingswoord gelewer.

Hier is geredigeerde weergawe:  

“Van die lomp speurder Willem in een van die eerste reekse op Suid-Afrikaanse televisie in 1976, tot die plekspesifieke produksie Die gebed van ’n halfmens by vanjaar se KKNK; van die rolprent Die sersant en die Tiger Moth in 1972 tot oom Vaaltyn in die radioverwerking van Eitemal se Jaffie in 2026; van musiekteater, pantomime en operette tot boekvoorleser, teaterregisseur en mentor.

Dít is Tobie Cronjé.Sy loopbaan in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf strek oor meer as 50 jaar en sy veelsydigheid word moeilik nagedoen. Sy aanvoeling vir karakters se emosionele landskap, en sy vermoë om dit uit te beeld ongeag die medium, lei daartoe dat hy op byna 78-jarige ouderdom steeds hoog in aanvraag is.

Tobie se professionaliteit, die integriteit en eerlikheid waarmee hy elke rol benader, sy sorgvuldige voorbereiding en diepgaande insig in die karakters, lei tot sy geloofwaardige vertolkings. Hoewel hy ’n besondere aanvoeling vir komedie het, en die kuns van perfekte tydsberekening in die moeilike kluggenre vervolmaak het, is hy ewe vaardig in ernstige rolle en word dié vaardigheid toenemend in sy latere werk deur regisseurs benut. Sy besondere stemvaardigheid in ernstiger rolle kom veral ook in radiowerk en as voorleser na vore.

Tobie se volgehoue harde werk en die erns waarmee hy elke rol benader, is tekenend van die toewyding tot sy ambag, en met sy onbaatsugtigheid as mentor belê hy ook in die toekoms. Sy diensbaarheid aan sy kuns, onverdunde professionaliteit en buitengewone veelsydigheid maak hom ’n waardige ontvanger van die SA Akademieprys vir Drama.”

Deel nou