Fanie du Toit het jare lank met ernstige gehoorverlies geleef. Ná kogleêre inplantings in albei ore kon hy in 2011 weer hoor. Vandag gebruik hy sy ervaring en stem om ander mense met gehoorverlies te ondersteun. Hy is Saterdagaand, 24 Oktober, tydens Solidariteit Helpende Hand se LIG-konsert met die Mathys Roets-toekenning van Hoop vereer.

LIG staan vir Liefde in Gestremdheid. Dié jaarlikse konsert is ten bate van mense met gestremdhede en is by die AfriForum Teater in Pretoria aangebied. Elvis Blue en Prop het by die konsert opgetree, met Sarina Bosman as aanbieder.
“Ek voel geëerd,” het Du Toit met ’n videoboodskap vanuit sy huis in Kaapstad gesê. Dit is volgens hom die eerste keer in 40 jaar dat hy ’n toekenning van dié aard ontvang, en dit maak dit besonders om dit in Afrikaans te ontvang.
Du Toit het 36 jaar se ervaring in gestremdheidsregtebewustheid. Hy is senior spesialis vir gehoorgestremdheid en dowesake by die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede, waar hy sy eweknieë ondersteun. Hy beywer hom veral vir mense met gehoorverlies wat nie Suid-Afrikaanse Gebaretaal as hul primêre kommunikasiemetode gebruik nie.
Sedert 2000 vervaardig en bied hy programme aan, onder meer Leefwêreld van die Gestremde op RSG en ander gemeenskaps- en nasionale radiostasies. Hy is ook die stigter van die Fanie Dreams Movement, wat toeganklike kommunikasie bevorder.
Du Toit het vertel dat hy eers gedeeltelike gehoorverlies ervaar het en later sy gehoor heeltemal verloor het. Ná 25 jaar met ernstige gehoorverlies kon hy danksy die inplantings weer hoor. Die aanpassing was moeilik, maar hy kon steeds in die mediabedryf werk en ’n verskil maak.
“Gestremdheid sit nie binne-in ons nie,” het hy gesê. “Dit is die uitsluiting wat ons as mense met verlies in die groter gemeenskap ervaar.”
Die Mathys Roets-toekenning van Hoop is in 2022 ingestel. Roets, wat gedeeltelik verlam is ná ’n motorfietsongeluk in 2009, moes eenkeer in sy rolstoel ’n Karoo-grondpad aanpak toe sy motor onklaar geraak het op pad na ’n vertoning. Hy het die toekenning in 2022 ontvang. Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as Prop, en Edwin Nelson is in 2023 vereer, gevolg deur Simoné Kruger en Willem Minnaar in 2024 en Koben Hofmeyr in 2025.
Vanjaar kon mense wat nie die konsert persoonlik kon bywoon nie, dit vir die eerste keer regstreeks aanlyn kyk. Danksy Boermedia het sowat 60 tehuise vir mense met gestremdhede en bejaardes regoor die land saam na die vertoning gekyk.
“Dit was besonders dat mense wat nie die konsert kon bywoon nie, dit aanlyn kon meemaak. Ons hoop dié inisiatief gaan van krag tot krag,” sê Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale strukture.
Die LIG-studiefonds het ook ’n testamentêre bemaking van nagenoeg R1,5 miljoen ontvang. Volgens Oosthuizen sal dit meer mense met gestremdhede help om verder te studeer, sonder dat finansies hul drome in die wiele ry.



